Skip to main content

Handelinge 18:18-28

Paulus rond sy bediening af in Korinte met Apollos wat uiteindelik by hom oorneem

Na die tyd van vrugbare bediening in Griekeland waarvan ‘n jaar en ‘n half in Korinte gespandeer is, en Paulus sy twee briewe aan die Tessalonisense geskrywe het, keer hy van sy tweede sendingreis terug na Antiogië via ‘n kort besoek aan Efese en Jerusalem. Die roeping om die evangelie reg oor die bekende wêreld te neem, het egter te sterk in hom gebrand om te lank daar te bly en hy vertrek na ‘n paar maande op sy derde sendingreis waarin Efese ‘n baie belangrike opleidingsentrum van nog werkers in die koninkryk sou word. Op hierdie reis van ongeveer vier jaar (53-57 n.C.) sou hy ook sy twee briewe aan die Korintiërs skrywe sowel as sy brief aan die Romeine.

Teks en konteks

Paulus rond sy bediening af in Korinte en keer terug na Antiogië voor hy op sy derde sendingreis vertrek – Handelinge 18:18-23

Paulus het ná die bemoediging van die Here in Korinte en die briewe wat hy aan die Tessalonisense geskrywe het, nog ‘n geruime tyd by die gelowiges daar vertoef voordat hy besluit het om afskeid te neem en terug te keer na sy uitstuur gemeente Antiogië in Sirië. Hierdie keer reis hy per skip en nie te voet deur Turkye nie. Priscilla en Akwila vergesel hom tot in Efese waar hulle sou agterbly om die gemeente daar te ondersteun. Hulle het ook ‘n huis daar gehad.

By die hawe van Korinte, Kenchreë, het Paulus sy kop laat kaal skeer, omdat ‘n gelofte wat hy afgelê het, vervul is (vgl. Num. 6:18). Ons weet nie presies waarvoor dit was nie.

In Efese het hy weer eerste met die Jode in die sinagoge “geredeneer”, maar toe hulle hom versoek om langer te bly, het hy nie ingestem nie, en afskeid van hulle geneem, maar wel met die belofte dat, as dit God se wil is, hy weer sal terugkeer.

Hy het teruggekeer na Jerusalem via die hawe in Caesarea om die gemeente daar te groet, en miskien ‘n offer vir die vervulling van die gelofte te bring (soos hy later vir ander sou doen – Hand. 21:23) en toe na sy gemeente in Antiogië teruggekeer.

Die roeping om die evangelie reg oor die bekende wêreld te neem, het egter te sterk in hom gebrand om te lank daar te bly en hy vertrek na ‘n paar maande op sy derde sendingreis.

Hierdie keer vertrek hy per land en gaan weer van plek tot plek deur die landstreek van Galasië en Frigië (in Turkye) en versterk al die dissipels in die verskillende gemeentes in hulle geloof.

Apollos word deur Priscilla en Akwila beter onderrig in die “Weg van die Here” – Handelinge 18:24-28

Lukas vertel dan vir ons wat intussen in Efese gebeur het. Apollos, ‘n welsprekende Jood van Aleksandrië in Egipte wat die Skrifte goed geken het, het in Efese begin om die “Weg van die Here” geesdriftig en deeglik te verkondig. Hy het egter net van die doop van Johannes geweet en word dus deur Priscilla en Akwila duideliker onderrig.

Interessant, hy word nie weer gedoop met die doop van Jesus nie, soos wel later met die dissipels van Johannes in Efese gebeur toe Paulus daar aankom.

Apollos het ‘n hart vir gemeentebou gehad en is met die ondersteuning van die gemeente in Efese na Korinte in Agaje waar hy van groot hulp was vir die gelowiges daar. Hy het veral die Jode kragtig in die openbaar teengespreek, en uit die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.

Geen wonder dat hy ‘n groot leier word wat op dieselfde vlak as Petrus en Paulus in die gemeente van Korinte geag is, hoewel dit ook tot onenigheid aanleiding gegee het, en Paulus hulle later oor die onderskeid wat hulle tussen leiers maak, moes aanspreek (1 Kor. 3).

Boodskap en betekenis

Saam met die wêreldwye uitbreiding van die bediening van die evangelie kom daar ook die uitdagings.

Aan die een kant is daar die stryd van die pioniers, soos Paulus, om self te volhard in die “Weg van die Here”. Die Here ondersteun daarom self vir Paulus in Korinte op deurslaggewende wyse deur hom te oortuig dat die uitbreiding van die evangelie en die groei in gelowiges God se werk is.

Aan die ander kant is daar die noodsaak om die nuwe entoesiastiese leiers wat God gee juis dieper in daardie “Weg van die Here” te onderrig, soos met Apollos die geval was. Anders sou die konflik rondom verskille in leer en lewe, veral onder die leiers, tot groot verdeeldheid in die kerk lei.

Vandaar Paulus se besluit om juis in Efese ‘n hele span mense vir ‘n paar jaar te onderrig sodat hulle nie net vir hom verder kon help in die bediening nie, maar self die volgende geslag van leiers in die groei van die vroeë kerk kon wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar