Skip to main content

1 Samuel 9–10

God verander Saul se hart en roer die harte van die dapperes

1 Samuel 9-10 vertel die verhaal van die salwing van Saul as die eerste koning van Israel. Hierdie gebeurtenis dui op ‘n betekenisvolle verskuiwing in die geskiedenis van Israel. Hulle beweeg van die tydperk van die rigters na die tydperk van die konings. Die verhaal in hierdie twee hoofstukke bied ons ‘n goeie insig in die karakter van Saul, die proses waardeur hy as koning gekies is, en die rol van die profeet Samuel daarin. Agter alles is dit die Here wat sy wil uitwerk in die lewe van individue sowel as sy volk.

Teks en konteks

Die verhaal begin met die bekendstelling van Saul, die seun van Kis, ‘n vermoënde man, uit die stam van Benjamin, een van die kleinstes in Israel. Dit is interessant genoeg dié stam wat in Rigters so amper-amper uitgesterf het in die naloop van die grusame verhaal van die Leviet se byvrou se gewelddadige dood in Gibea (Rigters 19 vv).

Saul was aantreklik en het kop en skouers bó die ander mans uitgestaan, al sou ‘n mens mettertyd agterkom dat sy besondere voorkoms ‘n swak en uiteindelik bose karakter weggesteek het.

Saul word deur sy pa gestuur om ‘n paar verlore donkies te soek, en hy neem ‘n handlanger saam met hom. Maar, dit is ‘n vrugtelose soektog waarin ons agterkom dat Saul nie ‘n goeie herder is vir diere nie. Dit sal later blyk dat hy ook nie ‘n goeie herder vir die volk sou wees nie.

Dit is ook ironies dat dit die slaaf is wat die kwart sikkel silwer (3 gram) het waarmee hulle die siener-profeet wil betaal (interessant genoeg, die helfte van die bedrag wat vir toegang tot die heiligdom vasgestel is – vgl Eks 30:11-16). Saul het egter niks om Samuel aan te bied nie, al het hy uit ‘n ryk huis gekom, wat sy totale gebrek aan voorsorg ten toon stel. Amper soos die vyf dwase maagde in die gelykenis waarvan Jesus ons vertel.

Dit is ook ironies dat ‘n groep jong vroue vir Saul die rigting moet aandui waar die offer sou wees. Saul was dus nie eers bekend met die basiese voorskrifte by of selfs ligging van die heiligdom (Samuel het ‘n altaar daar gebou – 1 Sam 7:16-17) waar Samuel die volk gerig het in Rama, sy tuisdorp, in die landstreek Suf (vgl 1 Sam 1:1).

Intussen het die Here reeds aan Samuel bekend gemaak dat hy ‘n man uit die stamgebied van Benjamin sou stuur wat Samuel as die leier van Israel moet salf. By die maaltydoffer herken Samuel vir Saul as die een wat die Here uitverkies het, en sonder hom as eregas uit met die aanbod van die heerlike stuk skenkel-vleis: “want dit is vir hierdie geleentheid vir jou gebêre.”

Na die maaltyd salf Samuel hom in ‘n private seremonie met olie. Let op dat Saul deur die Here as ’n “leier” (2020-vertaling) gekies en deur Samuel gesalf word (1 Sam 9:1, 16). Die Hebreeuse woord nagid word gebruik en beteken “vors” (1933-vertaling) of “heerser” (1983-vertaling) in ‘n charismatiese sin. Saul word dus nie in die eerste plek as ’n koning gekies of gesalf nie. Die normale Hebreeuse naam vir koning – melek – soos die volk dit wou hê (1 Sam 8:16; 10:19), word nie in hierdie hoofstuk vir Saul gebruik nie.

Dit beteken dat God se verwagting van Saul juis anders was as die verwagting wat van Kanaänitiese konings gekoester is. Daarom het God Saul deur Samuel laat salf en ook toegerus deur sy Gees om as charismatiese leier te kon optree, dws onder sy bevel.

As Saul maar net die Here toegelaat het om hom verder toe te rus en te begelei. Sy verhaal kon só anders uitgedraai het.

Samuel vertel ook vir Saul van drie tekens wat vir hom sy aanstelling as koning sal bevestig. Hy sou twee mans by die graf van Ragel – onthou sy was die aartsmoeder van Benjamin – ontmoet wat hom sal vertel dat die donkies gevind is. Hy sal daarna drie mans ontmoet wat vir hom offerbrode sal aanbied – ‘n aanduiding van sy verhoogde status. En hy sal ‘n groep profete teëkom wat saam met hom sal profeteer wanneer die Gees van die Here hom sal oorweldig – ‘n aanduiding van sy verkiesing deur die Here self.

Alles gebeur dan presies soos Samuel dit voorspel het. Met die tekens bevestig die Here aan Saul dat hy deur Hom gekies is om die leier van Israel te wees. Samuel reël ook ‘n verdere ontmoeting met Saul in Gilgal vóór die publieke salwing as koning in Mispa, waarskynlik ter wille van begeleiding van een of ander aard.

Maar, daar is meer. Met die publieke seremonie in Mispa word ‘n verdere manifestasie van God se werk agter die skerms sigbaar. Die Here word geraadpleeg – Hebreeuse woord šāʾal – met die aanwysing van eers die stam Benjamin, daarna die familiegroep Matri, daarna die familie van Kis, en uiteindelik die individu Saul.

Die presiese proses van aanwysing word nie uitgespel nie, maar dit is een of ander vorm van die lot wat gewerp is. Die urim en tummim was gewoonlik die instrumente waardeur die aanwysing deur die lot gemaak is (vgl Num 27:21). Dit is in die borssak van die priester se skouerkleed gedra (Eks 28:30) en was waarskynlik steentjies wat ’n “ja” of ’n “nee” antwoord gegee het op bepaalde vrae, afhangende van watter een eerste uit die sak sou val.

Soms was daar nie ‘n duidelik antwoord nie wat moontlik beteken dat die priester nie ‘n onderskeid kon maak oor die volgorde waarin hulle uitgeval het nie (1 Sam 14:37).

Saul het egter nie ‘n hoë dunk van homself of sy familie gehad nie – of is dit maar net Midde-Oosterse beskeidenheid? Hy kruip dus weg as Samuel hom aan die volk wil bekend stel.

God lig hulle dan in – dit moet ‘n meer direkte mededeling gewees het – dat Saul wegkruip tussen die pakgoed. Met sy publieke verkiesing roer die Here die harte van ‘n aantal “bekwame manne” – die “dapperes” of “helde” – om saam met Saul te gaan, al was daar tog ‘n paar booswigte wat hom teëgestaan het. Saul reageer egter nie op dié stadium op hulle teenstand nie.

Samuel skryf die verpligtinge van die koning neer soos Moses lank terug beveel het (Deut 17:18-20) en bêre dit vir toekomstige gebruik. Die tafel is gedek vir ‘n nuwe fase in die heilsgeskiedenis van Israel.

Boodskap en betekenis

  1. Dit tref mens dat so iets gewoons soos ‘n klomp donkies wat wegraak ‘n reeks gebeure aan die gang kan sit wat uitloop op die aanstelling van die eerste koning van Israel, Saul. Wat ons laat besef, God gebruik gewone dinge om sy ongewone dinge te laat gebeur!

  2. Samuel is ’n uitstekende leier, in kontak met die mense sowel as in kontak met God. Hy waarsku die volk oor die gevare van koningskap, maar salf desnieteenstaande die eerste koning, Saul, op God se bevel. Hy gehoorsaam God hierin, al stem hy nie saam met die volk nie!

En miskien die belangrikste: Samuel het groot invloed. Hy kan beskou word as ’n ware koning-maker en ook ’n koning-breker. Hy bly ten spyte van die salwing en aanstelling van die koning die ware geestelike en morele leier van Israel. Soos geïllustreer word dat met Saul se verwerping dit Samuel is wat die nuwe koning salf, die goeie herder, Dawid.

  1. Saul se karakter maak reeds van vroeg af regtig gemengde gevoelens by ‘n mens los. Hy is nie net ‘n swak herder nie. Hy tref nie net geen voorsorg vir die reis nie. Hy blyk ook nie baie inisiatief aan die dag te lê nie. Dit lyk op die oog af asof hy nederig is, maar die verdere verloop van die verhaal wys uit dat hy doodgewoon besluiteloos en rigtingloos is.

Al werk die Gees kragtig in Saul, bedroef hy die Gees baie gou sodat dié hom verlaat toe Saul kort hierna eiegeregtig optree met die offerandes en nie net sy koningskap verloor nie, maar ook sy verbintenis met God. En met Dawid se salwing in hoofstuk 16 verlaat die Gees van God vir Saul en ’n bose gees neem sy plek in.

Saul toon dus aanvanklik belofte. Hy steur hom bv nie aan die teenstanders van sy koningskap nie. Hy sien hulle teenstand oor toe die volk hulle wou doodmaak, soos ‘n goeie leier sou doen. Om die vrede te bewaar.

Maar dan begin hy reg in eie hande neem. Hy bring self offers op wederregtelike wyse, omdat die Here nie vertrou nie, en oortree so God se riglyne vir sy charismatiese leier. Hy tree dwaas op in die oorlog met ‘n verbod op ‘n keer om niks te eet voor die oorwinning behaal is nie, wat die lewe van sy seun Jonatan in gedrang brin, en verloor so die respek van sy manskappe. En in die volgende oorlog neem hy weereens wederregtelik van die buit, spaar die lewe van koning Agag, en oortree so God se riglyne vir ’n heilige oorlog. Wat terloops langtermyn gevolge gehad het, want Haman bedreig eeue later die hele Joodse volk as Agagiet!

Tog regeer Saul vir veertig jaar… Laat ’n mens dink oor die wiele van geregtigheid wat stadig draai…

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…