Skip to main content

Lukas 21

Jesus se profetiese rede: waaksaamheid, getuienis, en voleinding

Lukas 21 bevat ‘n indringende profetiese rede van Jesus oor die einde van die wêreld, die verwoesting van Jerusalem, en die tekens van sy Wederkoms. Die sewe dele van hierdie hoofstuk beklemtoon die roeping vir gelowiges om waaksaam en in gebed te bly, ongeag die tye van verdrukking en onsekerheid. Jesus gebruik die verwoesting van die tempel as simbool vir die komende oordeelsdag en nooi sy dissipels uit om nie deur die genot of sorge van die lewe mislei te word nie, maar eerder om ‘n lewenslange getrouheid aan God te beoefen.

Teks en konteks

Jesus prys die arm weduwee se gawe van alles wat sy gehad het om van te lewe (Lukas 21:1-4)
In hierdie gedeelte sien ons hoe Jesus die weduwee prys wat haar twee klein muntstukke in die offergawekis gesit het. Sy het alles gegee wat sy gehad het, ondanks haar armoede, wat vir Jesus die ware betekenis van vrygewigheid uitbeeld: om alles vir God te gee, sonder om iets vir jouself te hou. Hierdie daad van totale oorgawe is ‘n model van die tipe vrygewigheid wat God van ons vra, en dit toon ‘n dieper geestelike beginsel van onvoorwaardelike vertroue in God.

Boodskap en betekenis

Die weduwee se gawe illustreer ‘n baie belangrike geestelike beginsel. Sy het niks teruggehou van God nie. Sy het selfs haar voortbestaan in gevaar gestel deur haar oorgawe aan Hom. Dis die tipe vrygewigheid en vertroue wat God ook van ons vra.

Jesus profeteer dat die tempel vernietig sal word (Lukas 21:5-6)
Jesus voorspel die verwoesting van die tempel, wat simbolies is van die einde van die tyd en die oordeel oor die ontroue volk. Hierdie profesie is vervul in 70 nC toe die Romeine Jerusalem verwoes het. Hierdie voorspelling dui nie net op die fisieke verwoesting nie, maar ook op die geestelike vervanging van die tempel as die plek van aanbidding van God impliseer. Jesus, wat self die Waarheid is, kom om die verhoudings tussen God en mense te hernu, om gelowiges in te lei na geestelike aanbidding oral waar hulle is.

Boodskap en betekenis

Lukas beklemtoon hier – en sal in Handelinge verder daaroor skryf –  hoe die tempel al hoe minder belangrik sal raak vir die vroeë kerk. Daar is ‘n duidelike skuif weg van die tempel na die huise van gelowiges wat die primêre plek sal word waar die Here aanbid en die gemeenskap van gelowiges gevier word.

Jesus profeteer dat rampe en vervolging sal kom as teken van sy terugkoms en die einde van die wêreld (Lukas 21:7-19)
Jesus waarsku dat vervolging en rampe die lewe van sy volgelinge sal kenmerk tot sy terugkoms. Hy dui aan dat hulle nie moet vrees nie, want die vervolging sal vir hulle uitloop op ‘n getuienis van God se werk in hulle. Die finale verlossing kom deur die lyding wat vir God se Naam verduur word. Deur Jesus se woorde word duidelik dat gelowiges in moeilike tye nie moet fokus op die vrees nie, maar op die getuienis wat hulle deur hulle volharding sal lewer.

Boodskap en betekenis

Jesus maak in sy antwoord volgens Lukas dit nog duideliker as in Matteus dat ‘n mens die profesieë oor die tempel en Jerusalem in die konteks van die eindtyd moet verstaan. Trouens, die verwoesting van Jerusalem sal veroorsaak dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies, “totdat die tye van die nasies vervul is,” sê Jesus later in sy rede (Luk 21:24).

Die profetiese rede oor Jerusalem sou dus in die leeftyd van die dissipels bewaarheid word.  Ander aspekte daarvan sal egter eers in die tyd daarna vervul word, met die Wederkoms wat eers reg aan die einde van die tyd sal kom.

Jesus profeteer dat hulle op hulle hoede moet wees wanneer die groot verdrukking aanbreek (Lukas 21:20-24)
Jesus waarsku die dissipels dat die groot verdrukking sal begin wanneer Jerusalem beleër word. Die verwoesting sal God se straf wees vir die volk se ongehoorsaamheid en afvalligheid. Jesus roep die mense op om weg te vlug wanneer die tyd aanbreek, en sy profesie oor Jerusalem is ‘n waarskuwing dat alles in die wêreld afhang van gehoorsaamheid aan God. Die skielike verwoesting van die stad toon die belangrikheid van voorbereiding vir die koms van die koninkryk.

Boodskap en betekenis

Die verwoesting van Jerusalem in 70 nC is ‘n skerp waarskuwing aan alle mense dat God se woorde van straf nie ligtelik opgeneem mag word nie. Net meer as 35 jaar het verloop tussen hierdie profesie en die vervulling daarvan. Daar was tyd om tot inkeer te kom, maar die Jode het die waarskuwing geïgnoreer. Jesus het selfs raad gegee hoe om die leed van daardie tyd te versag, maar die “dae van straf” het uiteindelik gekom. Soos dit aan die einde van die tyd ook sal kom.

Jesus profeteer dat Hy met sy terugkoms al sy uitverkorenes bymekaar sal maak (Lukas 21:25-28)
Die kosmiese tekens van die einde van die wêreld, soos die ontwrigting van die son, maan en sterre, en die vrees wat die nasies sal oorneem, sal die koms van die Seun van die Mens aankondig. Vir die gelowiges sal dit ‘n vreugdevolle gebeurtenis wees, want dit dui op die bevryding van die verdrukking en die vervulling van die koninkryk van God. Jesus herinner sy dissipels om hulle koppe op te lig en hulle te vergewis van die feit dat die koninkryk naby is. Dit is ‘n vreugdevolle verwagting vir dié wat in Christus glo.

Boodskap en betekenis

Jesus bemoedig sy dissipels met hierdie interpretasie van die ontwrigtings wat kom. Uiteraard kan dit uit een hoek gesien vreesaanjaend wees. Die vrees vir die onbekende kan ‘n mens baie benoud maak. Maar, as jy weet wat dié dinge beteken – dat dit die Here Jesus se Wederkoms aankondig – dan is dit ‘n bron van groot vreugde en afwagting.

Jesus profeteer dat al hierdie dinge tekens is van die einde wat naby is (Lukas 21:29-33)
Jesus gebruik die voorbeeld van die vyeboom om die dissipels te leer dat die tekens van die eindtyd vir die gelowiges duidelik sigbaar sal wees, net soos die somer naby is wanneer die bome begin bot. Die “geslag” wat in hierdie konteks geskat word, is die mense van die tyd van Jesus se bediening. Jesus bevestig dat sy woorde onfeilbaar is en groter is as die bestaan van die hemel en die aarde, wat die onwrikbare karakter van sy beloftes en profesieë beklemtoon.

Boodskap en betekenis

Dit is wonderlik om hierdie laaste bevestiging van die blywende betekenis van Jesus se woorde te hoor. Sy woorde het meer krag en betekenis as die werklikheid wat ons rondom ons beleef. Trouens, sy woorde bepaal hierdie werklikheid – beide dit wat is, en dit wat kom.

Jesus profeteer dat die dissipels waaksaam moet wees en bid vir krag vir dié tyd (Lukas 21:34-36)
Jesus waarsku sy dissipels om nie toe te laat dat die vreugdes of die sorge van die lewe hulle belemmer nie, omdat die Wederkoms onverwags sal kom. Hulle moet waak en bid vir die krag om deur die moeilike tye van verdrukking en oordeel te kom. Die houding van waaksaamheid en gebed is belangrik, want dit sal hulle gereed maak om die Here te ontmoet wanneer Hy terugkeer. Jesus roep die gelowiges op om nie in die aardse dinge vasgevang te wees nie, maar om hulle harte op die komende koninkryk van God te vestig.

Boodskap en Betekenis
Die prentjie wat hierdie profesie by my oproep, is van die oordeel van die Here wat kom soos ‘n net wat oor die hele aarde gegooi word om alle mense daarin te vang om hulle in die ewige dood te werp. Dit is net dié wat in die Here Jesus glo en wat bewus is dat dié oordeel kom, wat gereed sal wees om “at a moment’s notice” weggeraap te word deur die engele wat God uitstuur om die uitverkorenes na die Here Jesus in die wolke te neem.

Dit beteken dat ‘n mens versigtig moet wees om jouself te verloor óf in die genot van hierdie lewe óf in die kommer daaroor:  ‘n gesuip of ‘n gejammer sal nie deug nie. Net ‘n sober toegewyde lewe wat elke sekonde van elke dag gereed is om te gaan, sal doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar