Skip to main content

Jesaja 42-43

Die Dienskneg van die Here leer mense om God te ken

Dit help om die onderskeie perikope van Jesaja 42 se boodskap van mekaar te onderskei. In Jesaja 42:1-9 word oor die Dienskneg van die Here as individu gepraat wat God se verbond met die nasies is. In Jesaja 42:10-17 word oor die verandering wat God bring gehandel. In Jesaja 42:18-25 word oor die mislukte vervulling van Israel se taak as dienskneg van die Here gehandel.

Jesaja 43 verseker egter die volk van God se verkiesende liefde (Jes 43:1-13) wat Hom beweeg tot ’n nuwe bedeling (Jes 43:14-21) omdat Hy getrou is aan Homself (Jes 43:22-28).

Teks en konteks

Jesaja 42:1-9

Hier word die Dienskneg van die Here as ’n individu aangekondig wat deur God se Gees bemagtig word om sy wil aan die nasies bekend te maak en die reg vir hulle te laat deurbreek. God ondersteun sy uitverkorene in wie sy binneste vreugde vind.

Sy karakter en bediening getuig van deernis – ’n geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ‘n dowwe lamppit sal hy nie uitdoof nie. Sy invloed sal strek tot aan die einde van die bekende wêreld (eilande). Hy sal nie weifel en nie geknak word nie totdat hy in sy doel geslaag het nie.

Hierdie Dienskneg is God, die Skepper-Heer, se verbond met sy volk. Hy roep hom tot ‘n lig vir die nasies. Deur sy bediening sal blindes sien en gevangenes uit die tronk bevry word.

Die Here self staan hiervoor in, want Hy is die enigste wat nuwe dinge kan aankondig, en dit gebeur: “voordat dit uitspruit, laat Ek julle daarvan hoor.”

Jesaja 42:10-17

Daarom kan almal ’n nuwe lied sing (Kedar is in Arabië en Sela in Edom, albei streke oos van die Dooie See). God tree op soos ’n krysgman en oorwin sy vyande. Hy het lank stilgebly, Hom stil gehou, Hom bedwing, maar nou bars Hy los en verander donkerte in lig en maak die ongelyk plekke gelyk, tot teleurstelling van dié wat op afgode vertrou.

“Dit is die beloftes – Ek voer dit uit, Ek laat dit nie na nie!” Dié wat op afgodsbeelde vertrou, sal moet terugdeins in hulle beskaming, omdat hulle die ware God nie erken het nie.

Jesaja 42:18-25

Die konteks maak dit duidelik dat hier oor die mislukking van Israel as die dienskneg van die Here gepraat word, mense wat blind en doof is, al het die Here hemel en aarde beweeg om hulle in gehoorsaamheid te laat reageer. “Jy het baie dinge gesien, maar nie daaraan aandag gegee nie. Die ore is oop, maar hy luister nie.”

Ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en die gevolglike ballingskap, bly die Here getrou, ter wille van sy geregtigheid, want Hy vind vreugde daarin om sy wet as groot en glorieryk te laat geld. Hy sal die geplunderde en beroofde volk red uit hulle gate en tronke.

Dit is ‘n boodskap waarop hulle nou alreeds moet aandag gee “met die oog op die toekoms.” Soos die Here hulle aan plunderaars oorgee, só sal Hy ook hulle lot weer omkeer, soos Jesaja 43 sal verkondig.

Jesaja 43:1-13

Dit is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. Maar luister daarna ook uit die hoek van ’n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor: “’Maar nou’, so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, ‘moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy.’”

God kies hulle uit om aan hulle liefde te bewys en bymekaar te maak in ’n Tweede Eksodus waar hulle van alle windstreke weer terug na die Beloofde Land sal keer: “Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser.”

Dit hou wel in dat Hy Egipte en Ethiopië as hulle losprys moet gee (Seba was die seun van Kus [Gen 10:7]en was dus ’n ander naam vir Ethiopië) – waarskynlik ‘n verwysing na die feit dat Persië dié gebiede oorwin het in die middel van die 6de eeu vC en die geleentheid geskep het vir die terugkeer van die Jode wat ook daar verstrooi is – maar Hy doen dit omdat die ballinge kosbaar is in sy oë: “omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.”

Al die nasies sal dus getuies wees van hierdie proses, want die dienskneg van die Here is verkies: “sodat julle My kan ken, in My kan glo, en kan insien dat dit Ek is.” Presies wat Jesaja 2 as die onvervreembare roeping van God se kinders uitgespel het. God se boodskap is altyd ook aan die nasies gerig.

Daar is immer niemand anders wat met God vergelyk kan word nie: “Ek, ja, Ek is die Here, en daar is geen verlosser buiten My nie.”

Jesaja 43:14-21

God bewerk hierdie Tweede Eksodus deur ’n nuwe ding te doen, dit is om die Galdeërs van Babilonië (in die 6de eeu vC) te verslaan (deur die Persiërs) en sy volk in ere weer te herstel.

“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek ‘n pad maak, in die wildernis riviere… om my uitverkore volk te laat drink.”

Die volk wat God vir Homself gevorm het, hulle sal sy lof verkondig.

Jesaja 43:22-28

Die redding gebeur al verdien Juda dit nie, en het hulle selfs nie daarvoor gevra nie. God vergewe hulle omdat Hy getrou bly aan Homself: “Dit is nie vir My wat jy aangeroep het nie, Jakob; trouens, jy het moeg geraak vir My, Israel… Ek is die Een wat ter wille van Myself jou oortredings telkens uitgewis het.”

In woorde wat reeds in die eerste hoofstuk gebruik is van Jesaja, nooi God hulle uit om die saak met Hom uit te maak, ’n tema wat in die volgende hoofstuk verder gevoer sal word.

Boodskap en betekenis

Twee perspektiewe staan vir my uit in hierdie kragtoer van ‘n gedeelte.

  1. God laat nooit sy doel met sy volk vaar nie. Hy doen dit ter wille van sy Naam, maar dit beteken dat sy volk die voordeel van vergifnis het, sodat hulle telkens weer aan hulle doel kan probeer beantwoord, en dit is om as getuies van God in hierdie wêreld te leef.

  2. Dit is ook so dat die volk ten spyte van al die kanse wat God vir hulle gegee het, en eintlik met hulle gewaag het, nie volledig daarin kon slaag nie. Dit is waarom die verbintenis met die NT in hierdie gedeelte so belangrik is.

Matteus gebruik juis die praktiese genesingsbediening van Jesus as bewys daarvan dat Jesaja se beloftes in Jesaja 42-43 in Jesus vervul is (Matt 12:17-21). Dit is Jesus wat volledig met deernis opgetree het. Dit is Hy wat die geknakte riete nie afgebreek het nie, die dowwe lamppitte nie uitgedoof het nie.

Dit is uiteindelik Jesus se invloed wat strek tot aan die einde van ons wêreld. Dit is Hy wat nie sal weifel en nie geknak sal word nie, totdat Hy in sy doel geslaag het om die hele wêreld onder sy heerskappy te vestig nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.