Skip to main content

Efesiërs 2

God woon in die gemeenskap van gelowiges

Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur.  ‘n Mens kan dit so opsom:

  1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – Efesiërs 2:1-10;
  2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Efesiërs 2:11-18;
  3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Efesiërs 2:19-22.
  4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – Efesiërs 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – Efesiërs 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Ons lees vandag net hoofstuk 2 en met die volgende bydrae hoofstuk 3.

Teks en konteks

God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – Efesiërs 2:1-10

Paulus eggo weer die refrein wat ’n mens in hierdie gevangenskap  briewe raaksien, dat God aan ons saam met Christus ’n plek in die hemel, d.w.s in sy teenwoordigheid gegee het.  Hy doen dit uiteraard ter wille van ons, omdat ons Sy kinders in Christus Jesus is.  Maar Hy doen dit ook om aan die wêreld sy geweldige groot genade ten toon te stel as getuienis van sy goedheid wat vir almal bedoel is.  Hy maak van mense wat sy vyande was, sy vriende.

’n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”  Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe.  Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie.  Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.  Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34).

Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Efesiërs 2:11-18

Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was.  Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ’n mens ’n muur sou afbreek.  Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Efesiërs 2:19-22

Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges: 1) medeburgers, 2) huisgesin, 3) gebou, 4) tempel, 5) geestelike huis.  Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring.  Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel.  Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ’n kerkgebou nie.

Wat my besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ’n plek word waar God woon.  Soos Hy vir ons ’n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ’n plek by ons, in ons teenwoordigheid.  En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word).  Die kerk, as liggaam van Christus, is in ’n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen. 1:26).  ’n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

Boodskap en betekenis

Efesiërs 2 wys dat God in Christus gelowiges uit alle agtergronde saamvoeg in ’n nuwe, verenigde gemeenskap waarin Hy self woon. Hierdie gemeenskap is ’n teken van sy goedheid en genade aan die wêreld. Die kerk se identiteit en doel lê daarin dat dit ’n lewende ruimte vir God se teenwoordigheid is, waardeur die wêreld sy vrede en genade kan sien.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.