Skip to main content

2 Konings 24:7-17; 2 Kronieke 36:9-10

Jojagin regeer kort, maar word begenadig in ballingskap

Na Jojakim kom Jojagin op die troon, maar hy regeer baie kort voor hy in ballingskap weggevoer word (2 Kon 24:7-16; 2 Kronieke 36:9-10). Die oordeel oor sy lewe is steeds skerp, maar ‘n mens kom tog agter dat Jeremia uiteindelik sagter oor hom oordeel. Hy was vasgevang in die groter konflikte wat eeue aangekom het, en word later in ballingskap met meer agting hanteer as wat ander konings te beurt geval het.

Teks en konteks

Jojakim se seun, Jojagin, word op die jong ouderdom van 18 jaar koning (eintlik staan daar in die grondteks dat hy agt jaar oud was, wat beter sal inpas by die ouderdom van Sedekia wat hierna genoem word, maar deur Konings tog as 18 jaar aangedui word). Hy regeer net drie maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C., waarskynlik nog in dieselfde veldtog waarin sy pa se regering beëindig is.

Kronieke brei nie uit oor sy regering nie, dit was ná alles baie kort. Hy noem net dat Jojagin gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. ’n Mens kry die indruk dat die tydsgewrig van afvalligheid van die Here eerder ’n rol gespeel het in Kronieke se oordeel, as dat dit spesifiek aan Jojagin se eie regering styl gewyt sou kon word. Konings skets vir ons byvoorbeeld ’n bietjie meer positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).

Hierdie keer is die wegvoering saam met bykans die hele Jerusalem: die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede, trouens al die belangrikste mense van Jerusalem (2 Kon. 24:14-16).

Ook die profeet Esegiël was onder hierdie mense (Eseg. 1:1 – hy begin sy gesigte sien in die 5de jaar van die ballingskap van koning Jojagin). Net die armstes van die landsbevolking is agtergelaat en Mattanja – ’n oom van Jojagin en broer van sy pa, Jojakim en natuurlik ook ’n broer van sy ander oom, Joahas, wat vroeër vir ’n kort rukkie koning was – word deur Nebukadnesar koning gemaak. Mattanja se naam word deur Nebukadnesar na Sedekia verander om sý heerskappy oor Juda te bevestig.

Jeremia is ook sagter in sy oordeel oor Jojagin (Jer. 24). Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye. Jeremia verkondig daarmee dat die Here die volk “vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het” en sy oog oor hulle sal hou, hulle insig sal gee om Hom te ken en hulle na hulle land toe sal terugbring (Jer. 24:5-7).

Trouens Jeremia volg hierdie boodskap op met ’n brief aan die ballinge om hulle te bemoedig en ook aan te moedig om die belange te bevorder van die stad waar hulle heen weggevoer is, want die ballingskap sal sy volle sewentig jaar duur (Jer. 29). Dit is ná Semaja hom teëgestaan het en gesê het dat die ballingskap korter sal duur.

Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het. ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.

Boodskap en betekenis

Jeremia en Konings is waarskynlik meer positief oor koning Jojagin, omdat sy hoër status in ballingskap ‘n boodskap aan die volk gegee het dat die Here sy volk nie verlaat nie. Dit het dus ook gedien as ‘n aanduiding dat die Here ernstig is om die lot van sy volk te verander.

Jojagin is ook die een wat in Jesus se geslagsregister uitgesonder word as die seun van Josia uit wie die Messias gebore is (Matt 1:11-12).

Sy ballingskap word dus minder gesien as ‘n persoonlike mislukking en meer as deel van God se breër plan vir Juda. Hy word ‘n simbool van God se getrouheid wat hoop vir die volk in ballingskap gebring het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar