Skip to main content

2 Konings 24:7-17; 2 Kronieke 36:9-10

Jojagin regeer kort, maar word begenadig in ballingskap

Na Jojakim kom Jojagin op die troon, maar hy regeer baie kort voor hy in ballingskap weggevoer word (2 Kon 24:7-16; 2 Kronieke 36:9-10). Die oordeel oor sy lewe is steeds skerp, maar ‘n mens kom tog agter dat Jeremia uiteindelik sagter oor hom oordeel. Hy was vasgevang in die groter konflikte wat eeue aangekom het, en word later in ballingskap met meer agting hanteer as wat ander konings te beurt geval het.

Teks en konteks

Jojakim se seun, Jojagin, word op die jong ouderdom van 18 jaar koning (eintlik staan daar in die grondteks dat hy agt jaar oud was, wat beter sal inpas by die ouderdom van Sedekia wat hierna genoem word, maar deur Konings tog as 18 jaar aangedui word). Hy regeer net drie maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C., waarskynlik nog in dieselfde veldtog waarin sy pa se regering beëindig is.

Kronieke brei nie uit oor sy regering nie, dit was ná alles baie kort. Hy noem net dat Jojagin gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. ’n Mens kry die indruk dat die tydsgewrig van afvalligheid van die Here eerder ’n rol gespeel het in Kronieke se oordeel, as dat dit spesifiek aan Jojagin se eie regering styl gewyt sou kon word. Konings skets vir ons byvoorbeeld ’n bietjie meer positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).

Hierdie keer is die wegvoering saam met bykans die hele Jerusalem: die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede, trouens al die belangrikste mense van Jerusalem (2 Kon. 24:14-16).

Ook die profeet Esegiël was onder hierdie mense (Eseg. 1:1 – hy begin sy gesigte sien in die 5de jaar van die ballingskap van koning Jojagin). Net die armstes van die landsbevolking is agtergelaat en Mattanja – ’n oom van Jojagin en broer van sy pa, Jojakim en natuurlik ook ’n broer van sy ander oom, Joahas, wat vroeër vir ’n kort rukkie koning was – word deur Nebukadnesar koning gemaak. Mattanja se naam word deur Nebukadnesar na Sedekia verander om sý heerskappy oor Juda te bevestig.

Jeremia is ook sagter in sy oordeel oor Jojagin (Jer. 24). Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye. Jeremia verkondig daarmee dat die Here die volk “vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het” en sy oog oor hulle sal hou, hulle insig sal gee om Hom te ken en hulle na hulle land toe sal terugbring (Jer. 24:5-7).

Trouens Jeremia volg hierdie boodskap op met ’n brief aan die ballinge om hulle te bemoedig en ook aan te moedig om die belange te bevorder van die stad waar hulle heen weggevoer is, want die ballingskap sal sy volle sewentig jaar duur (Jer. 29). Dit is ná Semaja hom teëgestaan het en gesê het dat die ballingskap korter sal duur.

Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het. ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.

Boodskap en betekenis

Jeremia en Konings is waarskynlik meer positief oor koning Jojagin, omdat sy hoër status in ballingskap ‘n boodskap aan die volk gegee het dat die Here sy volk nie verlaat nie. Dit het dus ook gedien as ‘n aanduiding dat die Here ernstig is om die lot van sy volk te verander.

Jojagin is ook die een wat in Jesus se geslagsregister uitgesonder word as die seun van Josia uit wie die Messias gebore is (Matt 1:11-12).

Sy ballingskap word dus minder gesien as ‘n persoonlike mislukking en meer as deel van God se breër plan vir Juda. Hy word ‘n simbool van God se getrouheid wat hoop vir die volk in ballingskap gebring het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.