Skip to main content

Spreuke 28:1-28

Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei

Spreuke 28 leer ons dat die vra na die wil van die Here jou help om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. God se wil soos Hy dit in die hele Skrif geopenbaar het, is ons maatstaf.

Spreuke 29 sal hierdie lering nog ‘n stappie verder neem en ons leer dat regverdigheid ‘n veilige ruimte skep vir alle mense. Almal baat by ‘n regverdige lewe.

Elke spreuk in hierdie twee hoofstukke bestaan uit twee dele wat óf ‘n verskil uitlig tussen veral ‘n goddelose en die regverdiges (antitese of teenstelling), óf ‘n stelling uitbrei en onderstreep (sintese).

Spreuke 28:1

Vers 1 van Spreuke 28 gebruik ‘n teenstelling tussen ‘n goddelose en die regverdiges om die waarde van die doen van die regte dinge te onderstreep. ‘n Goddelose se onrustige gemoed laat hom maklik op die vlug slaan, selfs sonder dat iemand hom agtervolg. Regverdiges is egter vol vertroue, omdat hulle weet dat hulle optrede in lyn met God se wil is.

‘n Skoon gewete gee jou dus die moed van ‘n jong leeu. Jy kan dus uit die moed van jou oortuiging optree. Dit sal ‘n goddelose op die vlug laat slaan. Sy skuldige gewete sal hom bang maak hy word uitgevang (vgl Num 32:23; Lev 26:17; Ps 53:5).

Spreuke 28:2

Vers 2. Opstand in ‘n land bring wydverspreide onrus. Wanneer daar onluste en opstand is in ‘n land, maak dit ‘n land eintlik onregeerbaar, omdat soveel mense ‘n kans sien om mag tot hulle eie voordeel te probeer gryp. Dit is eers wanneer iemand wat baie wysheid en kennis het aan bewind kom, dat dié situasie weer reggestel kan word, en daar ‘n tydperk van rus en vrede kan kom. My gebed vir ons land is dat die Here ons só iemand sal gee! En talle sulke mense vir die talle lande in die wêreld wat in anargie verval.

Spreuke 28:3-5

Vers 3. Armes wat armes uitbuit, is ‘n tragedie. Dit is soos ‘n flitsstroom (flashflood) wat die vrugbare grond op ‘n landery wegspoel en enige moontlikheid van ‘n oes wegspoel. Die Here soek daarenteen deernis by ons, in enige omstandigheid, soos Jesus in die gelykenis van die amptenare in Matteus 18:21-35 bevestig.

Vers 4. Sonder die wet van die Here beland ‘n mens in ‘n morele moeras. Sonder God se openbaring is daar geen objektiewe maatstaf vir reg en verkeerd nie, net maar die subjektiewe oordeel van goddelose mense. Ons sien dit in Romeine 1:18-32. Paulus wys daar hoe God mense oorgee aan immoraliteit waar hulle kies om sy openbaring te ignoreer. Dit bring boonop ‘n dodelike konflik tussen dié wat God probeer dien volgens sy openbaring, en dié wat juis in opstand is teen sy openbaring.

Vers 5 brei daarop uit. Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie. Alles is vir hulle relatief. Alles word toegelaat. Want, hulle ignoreer wat God se wil is. Dié wat egter na die wil van die Here vra, het ‘n goeie begrip van alles, want God se openbaring leer hulle om te onderskei tussen reg en verkeerd. Hulle leef daarom volgens die standaard wat God stel. Dit is ‘n diep waarheid. Die onderskeiding tussen reg en verkeerd is iets wat ‘n mens van God ontvang. Dit sluit eintlik alle ander kennis vir jou oop. Dit beteken ook dat God se wil nie beperkend is nie, maar bemagtigend. Dit maak jou vry om regtig te kan leef.

Spreuke 28:6-7

Vers 6. Eerbare armoede is beter as korrupte rykdom. Die kontras lê tussen iemand wat nie afwyk van die pad van integriteit nie en iemand wat skynheilig en vals is en korrupte weë volg wat vir ander weggesteek word (vgl Spr 19:1). Die man van integriteit leef dus sonder vrees dat iemand hom kan uitvang. Die man van korrupsie moet die hele tyd versigtig wees dat mense sy gekonkel uitvind (vgl Spr 28:18).

Vers 7. Gehoorsaamheid aan die wet is verstandig. Gemeenskap met roekelose suiplappe en vrate wat sonder eerbied vir God leef, bring jou en jou mense in die skande (vgl Spr 23:21-22). Dit is ook die boodskap van Psalm 1. Die enigste manier om uit deurbringers se greep te ontsnap, is om soos die verlore seun weer die gemeenskap met jou Vader te herstel (Luk 15:11-32).

Spreuke 28:8-10

Vers 8. God laat onregverdige wins boemerang tot voordeel van die armes. Die 1933/53-vertaling vertaal meer letterlik: “Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.” Die woord vir rente beteken “afknyp”. Die rente wat ‘n mens moes betaal, is baie keer reeds afgetrek van die bedrag wat geleen is. Die volle bedrag moes egter terugbetaal word. Die woord vir woeker beteken “vermeerder”. Dit beteken dat die rente in só ‘n geval meer as normaal of meer as wat ooreengekom is, vermeerder is. Beide aksies is verbied in die wet (Eks 22:5; Lev 25:36-37; Deut 23:20 – jy mag wel vir nie-Israeliete rente vra), ook hier in Spreuke (Spr 15:5) en veroordeel deur die profete (Eseg 18:8, 13, 17; 22:12). Spreuke spel hier die gevolge van uitbuiting uit. God laat dit boemerang tot voordeel van armes. God sorg dus dat onreg reggestel word. Dink aan die verhaal van Robin Hood!

Vers 9. Sonder respek vir die wet van die Here is ‘n mens se gebed tevergeefs. God luister nie na mense wat doelbewus sondig nie (vgl Jes 59:1-2). ‘n Mens kan immers nie tegelykertyd die Here en sy wil ignoreer, en steeds Hom vir leiding, beskerming of sorg vra nie. Dit pas net nie. Jakobus waarsku daarom in die NT gelowiges dat hulle reg moet bid, dws vanuit die regte verhouding met God moet bid (vgl Jak 4:1-10).

Vers 10. God laat mense val in die gat wat hulle vir ander grawe. God tree op teen die misleiding van ander en laat dit boemerang tot die misleiers se nadeel. Hulle val in die gat wat hulle vir ander grawe. Daarteenoor belowe die Here dat Hy die opregte op die regte pad sal lei: “die goeie in besit sal laat neem”.

Spreuke 28:11

Vers 11. Wysheid is nie gebaseer op rykdom of armoede nie. ‘n Ryk mens kan val vir die dwaasheid om te dink hy het wysheid in pag, net omdat hy ryk is (Spr 26:12; 12:15). Wysheid is egter nie gebaseer op rykdom of armoede nie. Dit kom van die Here af (Spr 14:24). Soos inderdaad rykdom ook van Hom af kom, al maak Hy natuurlik nie alle wyses ryk nie (Spr 15:16). Iemand wat verstandig is, al is hy arm, sien regdeur die ryke se verwaandheid. ‘n Ryk man kan daarom lelik verras word as hy ‘n arm mens onderskat, net omdat hy arm is.

Spreuke 28:12-13

Vers 12. Regverdigheid dwing respek af, goddeloosheid nie. Regverdigheid bring blydskap en trek mense aan. Goddeloosheid skrik hulle egter af. Dit is eintlik regdeur die lewe só. ‘n Regverdige se gedrag is altyd bewonderenswaardig, al dink jy nie eers presies soos hy nie. Regverdigheid dwing ‘n universele bewondering af. Die teendeel is waar van goddeloosheid. Waar goddeloses hulle mag en gesag op ‘n onregverdige wyse afdwing, kry ander seer en word hulle vryhede ingeperk. Die feit dat mense in hulle spoor moet trap waar onregverdiges aan die bewind is, maak hulle op geen manier geliefd nie. Hulle dwing geen respek af by dié wat deur hulle verdruk word nie.

Vers 13. Sondebelydenis en bekering bring genade. “Sin buried, is sin kept” (Kidner). Om jou sonde weg te steek, verander niks nie, en stel eintlik net die onvermydelike ontbloting uit. En dit ontsê jou in elk geval die genade wat moontlik is as jy eerlik erken wat verkeerd is, en dan daarvan afstand doen. Dit is ‘n universele geestelike beginsel, iets waarop die hele Bybelse boodskap van God se genade gefundeer is (vgl Ps 32:1-4; 1 Joh 1:6-9).

Spreuke 28:14

Vers 14. Moedswillige verset teen God verseker jou ondergang. ‘n Meer letterlike vertaling: “Gelukkig is ‘n mens wat voortdurend in ontsag leef (“altyd bewe”), maar wie sy hart verhard, stort neer in ‘n ramp.” Die eerste deel van die sin word gewoonlik verklaar dat iemand in ontsag lewe vir God. Dit kan egter ook verklaar word dat iemand versigtig is vir die sonde. In albei gevalle gaan dit daaroor dat die sonde vermy word om aan God gehoorsaam te lewe. Die tweede deel van die vers het te make met ‘n moedswillige of koppige verset teen wat God wil. Dit is rampspoedig en verseker jou ondergang.

Spreuke 28:15-16

Vers 15. ‘n Goddelose tiran breek ‘n arm volk. Hy is soos ‘n brullende leeu en ‘n stormende beer. Dié ongelukkige toedrag van sake was nie net die kruis van menige weerlose volk in die verlede nie, maar bly die enkele grootste oorsaak van ellende in ons eie tyd regdeur die wêreld. Dit is natuurlik ook nie net leiers as sodanig wat daarvoor verantwoordelik is nie, maar die onderdrukkende ideologiese sisteme – polities, ekonomies, en godsdienstig – wat hulle skep en in stand hou.

Vers 16. Onverstandige leiers breek ‘n volk. ‘n Gebrek aan verstandigheid by ‘n leier (prins / vors) veroorsaak verdrukking en omgekeerd: ‘n leier wat ‘n wrede verdrukker is, het ‘n gebrek aan verstandigheid. Maar, die leiers wat onregverdige wins haat, skep ‘n toekoms.

Spreuke 28:17-18

Vers 17. Moord vernietig ook die moordenaar. ‘n Moordenaar verloor sy reg op en plek in die gemeenskap en word tot sy eie dood deur sy gewete gepla. Letterlik vertaal: “‘n Mens wat belas is met die bloed van ‘n siel (lewe), tot by die put (doderyk) sal hy vlug, laat niemand hom help nie.” ‘n Mens kan die verhaal van Kain wat Abel doodgemaak het, en vervloek is om ‘n swerwer te word, hier as agtergrond inlees. Hoe roerend tragies spel Kain dit self uit: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal ‘n doellose swerwer op aarde wees …” (Gen 4:13-14a). Maar daar is natuurlik ook die verhaal van die moordenaar aan die kruis wat genade by Jesus ontvang het … (Luk 23:40-43).

Vers 18. God help dié wat onberispelik lewe. Trouens, wie onberispelik (opreg, eerbaar, eerlik) leef, word gehelp deur God en mens. Dit is ‘n algemene waarheid, waarvan die omgekeerde net so waar is. Iemand wat krom (korrupte) paaie volg, sal op een van hulle (of skielik) tot ‘n val kom.

Spreuke 28:19-20

Vers 19. Fluksheid word beloon. Luiheid bring armoede. Wie hard werk, en hom nie besig hou met nuttelose dinge nie, sal iets hê om te eet. Die lui of ongedissiplineerde mens sal egter tevrede moes wees met armoede (vgl Spr 24:30-34).

Vers 20. Betroubaarheid bring voorspoed. Bedrog bring teenspoed. Dit is ‘n tydige waarskuwing teen enige vinnige geldmaak skema. Peterson vertaal: “Committed and persistent work pays off; get-rich-quick schemes are ripoffs.” (The Message)

Spreuke 28:21-22

Vers 21. Partydigheid is afgryslik sleg. Dit is verkeerd selfs wanneer jy broodsgesprek ly en iemand jou met ‘n stuk brood omkoop om die reg te verdraai (vgl Lev 19:15; Deut 1:17; Spr 17:23). Peterson vertaal: “Playing favorites is always a bad thing; you can do great harm in seemingly harmless ways.” (The Message).

Vers 22. ‘n Suinige mens jaag rykdom na uit sy gierige hart (letterlik “evil eye”). Kidner praat van ‘n “grasping spirit”. Ironies genoeg voorkom gierigheid nie gebrek nie, want dit is God wat voorspoed en teenspoed bepaal (vgl Spr 28:25, 27; 23:6). Jesus sluit hierby aan met die gelykenis van die ryk dwaas in die NT (Luk 12:13-21).

Spreuke 28:23-24

Vers 23. ‘n Teregwysing eerder as vleitaal word waardeer. ‘n Reguit mens beteken vir jou meer as iemand wat met mooi woorde die waarheid wegsteek (vgl Spr 27:5).

Vers 24. Om te steel van jou ouers bly altyd verkeerd. Al probeer jy dit ook op watter manier regverdig. Jy is niks anders as ‘n doodgewone dief nie.

Spreuke 28:25-26

Vers 25. Gierigheid bring jou in konflik met God en jou medemens. Gierigheid word hier geteken as “wyd van siel”. Dws om ‘n groot aptyt vir meer te hê. Só ‘n persoon veroorsaak egter konflik met ander se belange. Voorspoed word hier geteken as die gevolg van ‘n gefokusde vertroue op die Here. Hy gee wat jy nodig het sonder dat dit jou in konflik met ander bring.

Vers 26. Dit is dwaas om jou vertroue in jou eie hart (gedagtes) te plaas as jy in die moeilikheid kom. Dit is die een wat staatmaak op die wysheid wat God gee wat die gevaar ontglip. Vertrou dus nie op jou eie insig nie, maar op die wysheid wat God gee. Hy sal jou paaie gelykmaak (vgl Spr 3:5-6).

Spreuke 28:27-28

Vers 27. Deernis met armes baat uiteindelik ook jouself. Vrygewigheid voorkom gebrek (vgl Spr 11:24-26). Die keersy word op humoristiese wyse geskets. As jy anderpad kyk om die arme te vermy, sal jy vervloek word.

Vers 28. Wanneer goddeloses oorneem, soek mense skuiling. Wanneer goddeloses omkom, word die regverdiges meer (vgl Spr 11:10; 28:12). Dit skep ruimte vir die verspreiding van die evangelie (Matt 28:19-20; Kol 1:15-20).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar