2 Samuel 24
Dis beter om in die hande van God te val as in dié van mense
Hoofstuk 24 word in Samuel aan die einde geplaas. Dit kom dus na Dawid se “laaste woorde” in hoofstuk 23 (wat ons eers later gaan lees) om waarskynlik met ’n woord van hoop af te sluit, gegewe dat Dawid ’n sondige man geblyk het, maar ook iemand was wat telkens tot inkeer gekom het, en hier ‘n verdere bekering beleef.
Dawid gee ‘n sensus opdrag – aangehits deur die Here – wat met die oordeel van die Here begroet word. Dawid kom egter tot inkeer, soos soveel keer tevore, en die Here vergewe hom vir die hoeveelste keer wat lei tot die betekenisvolle aankoop van Arauna se dorsvloer waarop die tempel gebou sal word as teken van God se teenwoordigheid (1 Kon 5-6; 2 Kron 2-3; vgl veral 2 Kron 3:1).
Moriaberg word ook met Abraham se offer van Isak geasossieer (Gen 22), hoewel daar twyfel is of dit dieselfde plek is as hierdie plek waar die dorsvloer van Arauna is. Hierdie dorsvloer is wel in die omgewing van Golgota waar Jesus aan die kruis geoffer is (Mark 15:22; Matt 27:33; Joh 19:17) wat ‘n skakel met die NT verskaf.
2 Samuel 24 wyt hierdie volkstelling aan die aanhitsing van die Here. Dieselfde verhaal in 1 Kronieke 21, wat na die ballingskap geskryf is, wyt die aanhitsing egter aan die teëstander (of aanklaer), waar ons die groei van ‘n onderskeid in die OT tussen die magte van God en van die bose sien (vgl Gen 3 waar ons die begin daarvan waarneem).
‘n Goeie manier om die verskil tussen Samuel en Kronieke te verantwoord, is dat in Samuel die hand van die Here beklemtoon word, en in Kronieke die agent wat hy toegelaat het, die teëstander (of aanklaer), om Dawid aan te hits.
Ons lees dus hierna die soortgelyke verhaal in 1 Kronieke 21 wat ook op ‘n paar ander plekke verskil van die verhaal in 2 Samuel 24.
Teks en konteks
Die volkstelling as sodanig was natuurlik nie verkeerd nie. God beveel dit immers self in Numeri 1. Dit gaan oor die rede daarvoor: Dawid “wou weet hoeveel hulle is,” wat óf tot hoogmoed kon lei, óf tot ‘n vertroue op hulle eie mag, ipv op die mag van God.
Let op hoe Joab Dawid probeer keer omdat getalle nie regtig saak maak in die verhouding met die Here. Dawid se woorde dra egter meer gewig, so Joab voer dit uit. Dit neem hulle amper ‘n jaar lank en uiteindelik weet Dawid dat daar 1,2 miljoen weerbare manne in die hele Israel was.
Interessant is dat Dawid self tot insig kom dat hy verkeerd was – sy gewete het hom begin pla – en hy bely sy dwaasheid teenoor die Here.
Die profeet Gad, wat ‘n noue band met Dawid gehad het, selfs nog voor sy koningskap (1 Sam 22 – let op hoe hy “die siener van Dawid” genoem word; hy is ook ‘n moontlike outeur van die laaste deel van Samuel) hoor by die Here van die situasie en word aangesê om Dawid voor ‘n keuse van ‘n straf te plaas.
Dawid kies net teen opsie 2 – hy wil nie weer vlug vir iemand soos Saul of Absalom nie, selfs al is dit net vir drie maande – maar laat die keuse tussen die hongersnood (sewe jaar soos in die Josef-verhaal in Egipte) en die pes (drie dae; vgl die pes in die tyd wat die ark by die Filistyne was) aan die Here oor.
Die Here kies drie dae van pes wat 70 000 mense uitwis. Dit kan wees dat die pes dieselfde roete volg as Joab met sy volkstelling, van noord na suid, totdat die Here genade bewys aan die volk by die dorsvloer van Arauna, die plek waar Dawid nie net die altaar bou nie, maar waar die tempel uiteindelik gebou word deur Salomo (2 Kron 3:1).
Boodskap en betekenis
Drie aspekte van die verhaal tref my. Een, dat Dawid nie net bewus was van die effek wat die pes op die volk gehad het nie, maar die engel kon sien wat die pes gebring het (vers 17). Dit moes vreesaanjaend wees, veral omdat Dawid baie bewus was van die feit dat hy dit veroorsaak het.
Twee, dat Gad hom die opdrag gee om ‘n altaar vir die Here te bou op die dorsvloer van Aruana waar die pes afgeweer is. ‘n Altaar was ‘n plek waar offers gebring is in aanbidding van die Here. Daar is gevolglik brandoffers en maaltydoffers gebring waarmee hy in sy sondigheid met die Here versoen is, en die gemeenskap met God en sy volk herstel is. God het weer die gebede van die land verhoor ná die versoening.
Drie, dat Dawid aandring daarop om self te betaal vir die dorsvloer, want daarmee neem hy verantwoordelikheid vir sy sonde.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.