Skip to main content

2 Samuel 24

Dis beter om in die hande van God te val as in dié van mense

Hoofstuk 24 word in Samuel aan die einde geplaas. Dit kom dus na Dawid se “laaste woorde” in hoofstuk 23 (wat ons eers later gaan lees) om waarskynlik met ’n woord van hoop af te sluit, gegewe dat Dawid ’n sondige man geblyk het, maar ook iemand was wat telkens tot inkeer gekom het, en hier ‘n verdere bekering beleef.

Dawid gee ‘n sensus opdrag – aangehits deur die Here – wat met die oordeel van die Here begroet word. Dawid kom egter tot inkeer, soos soveel keer tevore, en die Here vergewe hom vir die hoeveelste keer wat lei tot die betekenisvolle aankoop van Arauna se dorsvloer waarop die tempel gebou sal word as teken van God se teenwoordigheid (1 Kon 5-6; 2 Kron 2-3; vgl veral 2 Kron 3:1).

Moriaberg word ook met Abraham se offer van Isak geasossieer (Gen 22), hoewel daar twyfel is of dit dieselfde plek is as hierdie plek waar die dorsvloer van Arauna is. Hierdie dorsvloer is wel in die omgewing van Golgota waar Jesus aan die kruis geoffer is (Mark 15:22; Matt 27:33; Joh 19:17) wat ‘n skakel met die NT verskaf.

2 Samuel 24 wyt hierdie volkstelling aan die aanhitsing van die Here. Dieselfde verhaal in 1 Kronieke 21, wat na die ballingskap geskryf is, wyt die aanhitsing egter aan die teëstander (of aanklaer), waar ons die groei van ‘n onderskeid in die OT tussen die magte van God en van die bose sien (vgl Gen 3 waar ons die begin daarvan waarneem).

‘n Goeie manier om die verskil tussen Samuel en Kronieke te verantwoord, is dat in Samuel die hand van die Here beklemtoon word, en in Kronieke die agent wat hy toegelaat het, die teëstander (of aanklaer), om Dawid aan te hits.

Ons lees dus hierna die soortgelyke verhaal in 1 Kronieke 21 wat ook op ‘n paar ander plekke verskil van die verhaal in 2 Samuel 24.

Teks en konteks
Die volkstelling as sodanig was natuurlik nie verkeerd nie. God beveel dit immers self in Numeri 1. Dit gaan oor die rede daarvoor: Dawid “wou weet hoeveel hulle is,” wat óf tot hoogmoed kon lei, óf tot ‘n vertroue op hulle eie mag, ipv op die mag van God.

Let op hoe Joab Dawid probeer keer omdat getalle nie regtig saak maak in die verhouding met die Here. Dawid se woorde dra egter meer gewig, so Joab voer dit uit. Dit neem hulle amper ‘n jaar lank en uiteindelik weet Dawid dat daar 1,2 miljoen weerbare manne in die hele Israel was.

Interessant is dat Dawid self tot insig kom dat hy verkeerd was – sy gewete het hom begin pla –  en hy bely sy dwaasheid teenoor die Here.

Die profeet Gad, wat ‘n noue band met Dawid gehad het, selfs nog voor sy koningskap (1 Sam 22 – let op hoe hy “die siener van Dawid” genoem word; hy is ook ‘n moontlike outeur van die laaste deel van Samuel) hoor by die Here van die situasie en word aangesê om Dawid voor ‘n keuse van ‘n straf te plaas.

Dawid kies net teen opsie 2 – hy wil nie weer vlug vir iemand soos Saul of Absalom nie, selfs al is dit net vir drie maande – maar laat die keuse tussen die hongersnood (sewe jaar soos in die Josef-verhaal in Egipte) en die pes (drie dae; vgl die pes in die tyd wat die ark by die Filistyne was) aan die Here oor.

Die Here kies drie dae van pes wat 70 000 mense uitwis. Dit kan wees dat die pes dieselfde roete volg as Joab met sy volkstelling, van noord na suid, totdat die Here genade bewys aan die volk by die dorsvloer van Arauna, die plek waar Dawid nie net die altaar bou nie, maar waar die tempel uiteindelik gebou word deur Salomo (2 Kron 3:1).

Boodskap en betekenis

Drie aspekte van die verhaal tref my. Een, dat Dawid nie net bewus was van die effek wat die pes op die volk gehad het nie, maar die engel kon sien wat die pes gebring het (vers 17). Dit moes vreesaanjaend wees, veral omdat Dawid baie bewus was van die feit dat hy dit veroorsaak het.

Twee, dat Gad hom die opdrag gee om ‘n altaar vir die Here te bou op die dorsvloer van Aruana waar die pes afgeweer is. ‘n Altaar was ‘n plek waar offers gebring is in aanbidding van die Here. Daar is gevolglik brandoffers en maaltydoffers gebring waarmee hy in sy sondigheid met die Here versoen is, en die gemeenskap met God en sy volk herstel is. God het weer die gebede van die land verhoor ná die versoening.

Drie, dat Dawid aandring daarop om self te betaal vir die dorsvloer, want daarmee neem hy verantwoordelikheid vir sy sonde.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…