Skip to main content

1 Konings 14

God straf ongehoorsaamheid, maar is nie onverbiddelik nie

I Konings 14 kontrasteer die twee konings van die Noord- en Suidryk onderskeidelik en gee ‘n beoordeling van hulle termyn en nalatenskap. Jerobeam regeer oor die Noordryk vir 22 jaar lank van 930-909 vC. Rehabeam regeer oor die Suidryk vir 17 jaar lank van 930-913 vC. Ek gee aan die einde van hierdie bydrae ‘n lys van al die konings van Israel en Juda met hulle termyne om jou te help om ‘n oorsig daarvan te kry vir die verdere leeswerk in Konings en Kronieke.

Teks en konteks

’n Mens wonder waarom Jerobeam nie die lig sien nie. Eers was daar die duidelike boodskap aan hom in die vorm van Agija, die man van God, se profesie en wonderwerke in die vorige hoofstuk.

Nou raak sy seun Abia (die Here is my vader) siek en hy raadpleeg dieselfde profeet Agija van Silo (waar Samuel ook opgetree het). Maar, Jerobeam wil nie hê enigiemand moet weet dat hy die profeet raadpleeg nie, waarskynlik om te keer dat ander dit ook doen, en hy daarmee sy houvas op die godsdiens van die volk sou kon verloor.

Die Here is egter nie blind nie, al is sy profeet nou al oud en blind. Hy lig Agija in dat Jerobeam en sy vrou hom probeer mislei, en gee vir hom ‘n “harde woord”, ‘n boodskap van oordeel vir hulle. Die Here se besluit  is dat die kind sal doodgaan van die siekte.

Dit is aan die een kant ontstellend dat die kind moet ly onder sy pa se hardkoppige rebellie teen die Here. Maar, aan die ander kant is dit gerusstellend dat dit juis gebeur met die enigste manlike nasaat van Jerobeam in wie God iets goeds gevind het.

Die Here se besluit is dus ’n teken aan Jerobeam, soos dit vroeër die geval was met die eerste kind van Dawid en Batseba. Maar, die kind self het God se goedkeuring oor sy lewe, al moet hy ly en uiteindelik die dood deurgaan. Die seun sal die enigste wees van Jerobeam se nageslag wat ‘n eervolle dood in ‘n graf sal hê.

Anders as Dawid het God se oordeelsbesluit egter geen impak op Jerobeam nie. Hy kom nie tot inkeer nie, soos die Here in die verdere boodskap van Agija aan Jerobeam onderstreep. “Jy was nie soos my dienskneg Dawid nie, hy wat my gebooie nagekom het en My gevolg het met sy hele hart deur slegs te doen wat reg is in my oë.”

Trouens, omdat Jerobeam die Here verwerp het, en sy volk tot afgodediens verlei het, gaan die Here sy hele huis straf. Hy sal die “koningshuis van Jerobeam wegvee soos ‘n mens drek wegvee, totdat hy heeltemal vernietig is.” Die oordeel sal ook die volk tref wat agter Jerobeam aan gesondig het. Hulle sal in ballingskap anderkant die Rivier, die Eufraat, verstrooi word.

Die eerste deel van hierdie profesie is direk hierna vervul met die dood van die seun, hoewel die ballingskap eers in 721 vC vir die Noordryk aangebreek het.

Die arrogante Rehabeam in Juda loop eintlik dieselfde pad, tart die Here uit met die hoogtes, klippilare en gewyde pale, en selfs manlike selfdegeslag tempelprostitute.

Dit kan wees dat sy Ammonitiese ma iets daarmee te doene gehad het. Sy word weer genoem aan die einde van die gedeelte wat na ‘n implisiete veroordeling deur die skrywer lyk, want die Here het ‘n  verbod op ondertrouery met mense van vreemde godsdienste geplaas (Deut 7:1-5; vgl Salomo se oortreding van hierdie wet in 1 Kon 11:1-8). Dit was gemik daarop om afgodery en immoraliteit te voorkom.

Maar, of sy ma nou vir hom aan afgodery blootgestel het of nie, die verantwoordelikheid om die Here alleen te dien, lê natuurlik volledig op Rehabeam. Sy afvalligheid is dus sy eie skuld.

Rehabeam se rebellie teen God lei ook tot ‘n oordeel oor hom en sy mense met die Here wat Egipte inspan om hulle te straf. Hierdie veldtog teen die Suidryk deur koning Sisak van Egipte in 927 vC is vir die nageslag bewaar met ‘n uitbeelding daarvan op ’n muur in die Amontempel in Karnak Egipte waarna ‘n mens vandag nog kan gaan kyk.

Interessant genoeg stroop die Egiptiese leërs net die skatte in die tempel en die paleis, sonder om die stad te vernietig of mense weg te voer in ballingskap. Sisak het ook die goue skilde gebuit, waarna Rehabeam met weergawes in brons tevrede moes wees.

2 Kronieke 12:1-11, wat ons later sal lees, gee die verklaring daarvoor. Nadat Rehabeam gewaarsku is oor die inval, het hy en sy leiers hulle verootmoedig voor die Here, waarop die Here besluit het om hulle nie uit te roei nie.

Dié gebeure gee dus ’n perspektief op God se oordeel wat baie hoopvol is. Hy is ernstig oor gehoorsaamheid, maar Hy is nie onverbiddelik nie. Sy hart versag wanneer daar erkenning en berou is.

Boodskap en betekenis

Die prentjie wat hier begin ontvou van die konings van beide ryke van Israel is dat die oordeel oor hulle regerings alles te make het met hulle gehoorsaamheid al dan nie aan die riglyne van die Here.

Die Here gee vir Jerobeam nie net die groter deel van Israel nie, maar wil hom seën sodat sy nageslag ook op sy troon kan sit. Hy slaan egter op koppige wyse sy eie koers in deur afgode te begin dien en doelbewus sy mense van die Here afvallig te maak.

Geen wonder dat die Here hom en sy volk veroordeel nie. In Jerobeam se geval is die oordeel direk sigbaar met die dood van sy kind. In die volk se geval sou dit min of meer twee eeue duur voor hulle in ballingskap weggevoer sou word.

Die lot van Jerobeam se seun is ironies genoeg ‘n aanduiding dat God nie onverbiddelik is nie. Hy prys die seun, al moet hy die dood smaak weens die oordeel van die Here. As Jerobeam maar net geluister het, maar hy het volhard op sy verkeerde pad weg van die Here af.

Rehabeam word ook deur die Here geoordeel en die volk daarmee saam deur Sisak se veldtog teen Juda met die verlies van die prag en praal wat deur Salomo opgebou is. Maar, die een ligpunt is dat hy tog in die oordeel sy hart op God rig wat die uitkoms minder drasties maak as wat dit kon gewees het.

Die konings van Israel en Juda

Hier is ‘n tabel van die 43 konings van Israel (4 was koning oor die gesamentlike ryk; 19 oor die Noordryk)  en Juda (20 oor die Suidryk) vir maklike verwysing (regeringstyd in jare behalwe as anders aangedui):

Konings van Israel Konings van Juda
Saul (40 – 1051-1011 vC)
Isboset (2 – 1011-1009 vC)
Dawid (40 – 1011-971 vC)
Salomo (40 – 970-930 vC)
Jerobeam I (22 – 930-909 vC) Rehabeam (17 – 930-913 vC)
Abia (3 – 913-910 vC)
Asa (39 – 910-873 vC)
Nadab (2 – 909-908 vC)
Baesa (24 – 908-886 vC)
Ela (2 – 886-885 vC)
Simri (7 dae – 885 vC)
Omri (12 – 885-874 vC)
Agab (22 – 874-853 vC)
Josafat (25 – 873-848 vC)
Ahasia (2 – 853-852 vC)
Joram (12 – 852-841 vC)
Jehoram/Joram (8 – 848-841 vC)
Jehu (28 – 841-814 vC) Ahasia (1 – 841 vC)
Atalia (6 – 840-835 vC)
Jehoas/Joas (40 – 835-796 vC)
Joagas/Joahas (17 – 817-800 vC – 3 jaar saam met sy pa Jehu)
Joas (16 – 800-786 vC)
Amasia (29 – 796-767 vC)
Ussia (52 – 792-742 vC)
Jerobeam II (41 – 786-746 vC)
Sagaria (6 mnde – 746 vC)
Sallum (1 mnd – 746 vC)
Menahem (10 – 746-736)
Jotam (16 – 742-735 vC)
Pekahia (2 – 736-735 vC)
Peka (20 – hy moes saam met van die vorige konings regeer het om die kronologie te laat inpas – tot min of meer 731 vC)
Agas (16 – 735-715 vC)
Hosea (9 – 731-722 vC)
Hiskia (29 – 715-686 vC)
Manasse (55 – 686-642 vC)
Amon (2 – 642-640 vC)
Josia (31 – 639-609 vC)
Joahas (3 mnde – 609 vC)
Jojakim (11 – 609-598 vC)
Jojagin (3 mnde – 598 vC)
Sedekia (11 – 597-586 vC)

Altesame was daar dus 43 konings (een was ’n vrou, Atalia) in Israel-Juda.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda