Hoe om Bybelskool.com te gebruik
Die motto van die Bybelskool
“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house. Give it plenty of room in your lives. Instruct and direct one another using good common sense. And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.
Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:
Die Woord is ‘n huis om in te woon
My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.
Bybelskool.com fokus op ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk lees van die hele Bybel
Hierdie Bybelskool fokus op ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk lees van die Bybel om jou te help om die stem van God te kan hoor. Al 66 Bybelboeke is beskikbaar om op hierdie webtuiste te lees. Al 27 NT en al 39 OT Bybelboeke is beskikbaar om deur te werk. Dit is gratis.
Daar is by elke Bybelboek ‘n inleiding van hoe jy die Bybel kan lees, ‘n inleiding op die Bybelboek self, en dan skakels na ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk lees regdeur die Bybelboek.
Hoe om die bydraes hier te gebruik
Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.
Hier is opsies vir persoonlike stiltetyd, Bybelstudiegroepe en Bybelskole:
Vir persoonlike stiltetyd
Lees, luister, leef
Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik:
- LEES – Raak stil voor die Here. Lees die hoofstuk of teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutel gedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het oor die hoofstuk of teksgedeelte en dink na oor wat jou daarin tref.
- LUISTER – Dink na oor wat God vir jou wil sê deur die sleutel gedagte of iets wat jou in my skrywe daaroor getref het. Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
- LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet ook sy teenwoordigheid in stille gebed. Laat die boodskap wat God jou gee dan met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.
Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.
Vir Bybelstudiegroepe
Julle kan ‘n hoofstuk ‘n dag of ‘n hoofstuk ‘n week lees, of selfs oor ‘n langer tydperk. Volg net die skakels.
Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:
- LEES – Raak stil voor die Here. Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het. Gebruik julle joernale. Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes. Watter ander gedagtes wil julle byvoeg? Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld?
- LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê. Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk? Wat vra dit van julle? Wat belowe dit vir julle? Wat moet julle dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
- LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Doen ook voorbidding. Geniet ook sy teenwoordigheid in stilte. Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms. Leef dit uit.
Vir Bybelskole
Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep. Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk of tema vir tema deur die Bybelteks werk.
Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld. Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae. Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik. En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.
by Chris van Wyk
dawid jacobs
ek wil meer inligting bekom rakende jul bybelskool
lei jul predikante ook op ?
Chris van Wyk
Hi Dawid. Hierdie Bybelskool lei nie predikante op nie. Ons ontwikkel materiaal waarmee gewone gelowiges met meer insig die Bybel kan lees. Sommige predikante gebruik wel die stof vir ‘n weeklikse bespreking in hulle eie gemeentes of in ‘n soortgelyke Bybelskoolbyeenkoms as wat ek in my gemeente hou. Die grootste gebruikers is Bybelstudiegroepe wat die materiaal vir hulle weeklikse byeenkomste gebruik.
paddyjon46
U inligting is insiggewend,ek is tans in opleiding en wil graag meer kontak maak om inligting te bekom,sal u my help indien nodig.
Chris van Wyk
Ek antwoord graag op die webtuiste
Clenn Vermeulen
Ek waardeer die hulp wat tot my beskikking gestel word, om my Bybel beter te verstaan en om myself te verdiep in die Woord. Die Here seen jou!!!!
Barrie
Hi Ds. Chris
Vergun my die voorreg om weer van u kennis gebruik te maak. In Markus 9:1 maak Jesus die stelling dat party van die daar teenwoordig nie sal sterwe voordat hulle die kragtige koms van die koninkryk van God sien kom het nie. Word hier gepraat van die wederkoms of is daar ‘n ander bedoeling?
Groete in Christus.
Barrie Vermeulen.
Chris van Wyk
Hi Barrie – dit wil vir my voorkom asof dit twee vlakke van betekenis het.
Die eerste vlak van betekenis – en moontlik belangrikste – het met die gebeure van daardie week te make. Jesus verwys hier waarskynlik na sy verheerliking op die berg wat volgens vers 2 “ses dae later” plaasvind. Jesus se voorkoms verander daar en sy klere het so blink en spierwit geraak “soos niemand dit op aarde kan maak nie.” Saam met die stem wat Jesus as sy geliefde Seun verklaar, dui dit op die koms van die koninkryk in wat reeds sigbaar is in die bediening van Jesus waarin Hy duiwels uitdryf, wonderwerke doen, genesings uitvoer, mense red vir sy koninkryk deur sy prediking. Geen wonder dat God sê dat hulle na die Seun moet luister. Uiteindelik bereik dit met die gebeure rondom die kruis, opstanding en hemelvaart (waar die Satan se mag verbreek is) sy toppunt. Die koninkryk het dus ingebreek met mag binne die Joodse wêreld waarna die res van die wêreld sal volg. Van die dissipels het dit inderdaad belewe, die drie op die berg, voor hulle gesterwe het. Die aardse bediening van Jesus is dus ‘n eerste vlak interpretasie van hierdie vers.
Die tweede vlak van betekenis het met die teenwoordigheid van Moses en Elia te make. Hulle het reeds die ewige lewe by God ontvang. Jesus se eie verandering sluit daarby aan en wys moontlik, deurdat Hy selfs ‘n heerliker gedaante as hulle vertoon, dat daar aspekte van die koninkryk is wat nog voluit moet aanbreek. Dit begin dus waarskynlik met die uitstorting van die Heilige Gees en die tydperk van die kerk wat aanbreek om die boodskap van die koninkryk tot aan die einde van die wêreld te neem. Die gestalte van die koninkryk bereik sy voltooiing met die finale toneel (Openbaring) waar die hemelse Jerusalem op die aarde neerdaal en alles nuut gemaak word. Die Wederkoms van Jesus is dus ook ‘n geldige en tweede interpretasie van hierdie vers.
Rina
Goeiedag
Ek wil graag meer inligting hê oor Tabita ( Dorkas )
Dankie
Rina
Chris van Wyk
Hier is ‘n preek oor Handelinge 9:32-42 waarin ek onder andere oor Tabita die Woord van die Here gebring het:
GOD SE GROOT DADE
Handelinge is die verhaal van God se groot dade. Dit is die prentjie wat Lukas die dokter-skrywer by sy vriend Theofilus skilder. In die boek gebeur groot ingrypende dinge, soos Jesus se hemelvaart, die Gees se uitstorting, 3000 mense wat op een slag tot bekering kom, heidene wat begin glo en dan die grootste sending-uitreike ooit!
God is besig om met groot kwashale die wêreldtoneel permanent te verander.
God is met Petrus op pad.
God is met sy kerk op pad.
God is met die goeie boodskap van die opgestane Jesus Christus op pad na die hele wêreld toe.
GOD GEE VIR GEWONE MENSE OM
Binne hierdie Groot Storie is daar twee klein los storietjies wat eintlik nie so lekker inpas nie. Paulus, nog ‘n groot verhaal, is al op die toneel en eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene … en dan glip daar hierdie twee storietjies in. Een van Eneas in Lidda en die ander van Tabita in Joppe. Eneas was verlam en het geruime tyd (8jr) gelê. Tabita was siek en het dood gegaan.
In hierdie twee klein storietjies word vertel dat die lewendmakende krag van God – in die Naam van Jesus – mense opwek, gesond en lewend maak.
En laat ons mekaar herinner:
Oral langs ons pad is daar klein liggies – helder maar klein.
Met ‘n doel – wat hulle waarskynlik self nie eens begryp nie.
Ons sien ‘n Eneas; ‘n Tabita; later die leerlooier, Simon, en so kan ons hulle opnoem . . . ‘n Willem en Sannie en Marie en wie ook al oor God se pad mag kom.
Lukas laat ons stop en hy laat ons kyk – na die onopsigtelike mense, doodgewone mense, wat God aanraak, vir wie Hy omgee, en dan gebruik op die groot en belangrike pad wat Hy vir die evangelie – die goeie boodskap van die opgestane Here Jesus, oopmaak.
Dit is die duidelike boodskap van dié twee stories:
Geen mens – hoe gering ook al – is vir God onbelangrik nie. God gee om vir gewone mense.
GOD GEE OM VIR TABITA
Tabita – ‘n gewone vrou daar eenkant in ‘n klein dorpie wat goed doen en besonder mededeelsaam is – sterf.
Sy word ‘n dissipel (Gr mathetria) genoem wat baie insiggewend is. Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor. Die NAV het dit ongelukkig wegvertaal en haar net ‘n “gelowige vrou” genoem.
Sy was ‘altyd besig’ , ‘besig om goed te doen’ ‘die armes te help’. ‘n Besige by in die goeie sin van die woord.
Eneas was relatief onaktief vir agt jaar omdat hy verlam was; Tabita daarteenoor, was weer besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges (:36).
Ons kan ‘n groot groep hartseer mense hoor wat snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukkies wat sy al vir hulle gemaak het.
‘n Mens lei af dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en ‘n Griekse naam, Tabita en Dorkas, want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid ‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie!
In Tabita gee Lukas ons dus ‘n model van Christelike omgee in ‘n gemarginaliseerde gemeenskap. Weduwees en weeskinders was immers die mees kwesbare mense in die destydse gemeenskappe. Daar was geen regeringsondersteuning of welsynsorganisasies om hulle te hulp te kom nie. Tabita het omgegee en gehelp. Sy het goed gedoen.
En haar vriende en diegene wat sy gehelp het, weet dit … en hoor dan van Petrus, ‘n gestuurde, ‘n apostel van Jesus Christus.
Jesus, wat self mense uit die dood opgewek het.
Jesus, wat self uit die dood opgestaan het.
Jesus, wat aan sy dissipels die mag gegee het om mense uit die dood op te wek.
Hulle vra vir Petrus om dringend na hulle te kom.
En Petrus kom ook hier tot stilstand, by die gewone mense.
En hy buig voor die God wat mag het oor die dood.
Petrus praat in geloof – praat sy Meester na – en beveel die gestorwe Tabita – klein wildsbokkie – om op te staan.
En die dood moet wyk – sy maak haar oë oop.
Wat ons moet raaksien is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita. Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak.
Soos Heidi Petersen sê: “The widows would not be abandoned. God would not allow it.”[1]
God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s en vele anonieme goed-doeners in die wêreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy juis in die kleintjies geïnteresseerd is … dié wat gewone mooi goed doen.
Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.
Soos Tom Wright sê:
“Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place.”
GOD IS OP PAD NA DIE HELE WÊRELD.
Petrus het ‘n ongelooflike ding hier gedoen – net soos Jesus ‘n dooie mens opgewek in God se naam.
Maar Petrus weet dis nie sy vermoë wat die dood oorwin het nie – en NB gaan bly by Simon die leerlooier. Die uitgestotene van die dorp. Die onrein man wat met dooie diere werk!
Hierdie laaste feit is betekenisvol. Leerlooiery het by die Jode tot een van die veragte beroepe behoort. ‘n Rabbi het gesê: “It is impossible for the world to do without tanners; but woe to him who is a tanner.” ‘n Jodin kon ‘n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ‘n leerlooier.
Dit was so, omdat ‘n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein geword het (Lev 11:39). ‘n Leerlooier se huis of werkplek moes daarom op die buitewyke van die dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Dit is heel moontlik waarom Simon se huis by die see was (10:6).
Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet. Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10.
Daarvandaan doen Petrus nou God se werk.
God is op pad met Sy groot sending en met een van Sy groot apostels – en die pad loop deur die huis van die wildsbokkie en die leerlooier!
So werk God – en so mag ons nooit die geringstes verby gaan nie.
So mag ek ook nooit dink my stinkende huis is nie goed genoeg nie.
Dalk moet die apostel daar kom oorbly.
Jaen
Good day.
I would like to know if you have bybelskool in english please.
I would really love to do this and my Dominee had put me onto your website.
I would really love to hear from you.
Regards
Jaen
Chris van Wyk
Hi Jaen. Unfortunately this website is not available in English. You could try Google Translate.
Chris
Ek wil maar net sê dankie. Ek het ‘toe-val-lig’ op die ‘webwerf’ afgekom. Sedert ek begin ‘bybelstudie’ (nie bloot lees) doen het, het my nuuskierigheid oor die agtergrond geskiedenis die oorhand gekry. Ek doop myself. ‘Nuuskierig, leergierig’. Ek staan enige tyd van 03h00 af op, (uitgeslaap die vorige aand voor die TV) en dan is dit ‘waarlik’ stiltetyd, letterlik en figuurlik. Ek was vanoggend ‘weer’ vasgevang toe ek by Jes 23:1 vas gesteek het oor ‘Tirus’ en siedaar. Bloot in Dr Google se ‘search’ blokkie ingetik. Tirus van jesaja 23:1 en daar val alles so mooi en so ‘lekker’ oop. Dit het my dag, wat nou begin, gemaak. Net weer baie dankie. Hoog waardeer. Chris Moolman, Kleinbrakrivier. (met ‘n interessante geskiedenis)
Chris van Wyk
Dit is die wonder van God, wat my deur tien jaar se bydraes laat volhard het, sodat jy en talle daaruit kan put, selfs drie-uur in die môre. Geniet!
Rea
Hi Chris
. So bly ek het hierdie website raak gekuier. Besig met Efesiers in my stiltetyd en Boom!
Gaan nou jul Efesiers reeks deur werk. Ek het Warren Wiersbe se Be Rich reeks gedoen, maar Efesiers is nog nie klaar met my nie 😊
Dit is n blessing om saam Jul ander aan die Here te groei
Groete
Rea Maree
Awie Leonard
Beste Ds Chris
Baie dankie vir die voorreg om van julle materiaal te kan gebruik tydens ons groeigroep-byeenkomste. Ons het verlede week die tema van “Lewende Stene” in Jesus se Kerk bespreek en onder andere gepraat oor die gawes soos vervat in 1 Kor 12:12-31.
In die Bybelskool materiaal oor hierdie gedeelte word daar in die laaste paragraaf die volgende gesê (en ek haal aan): “Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.”
Die sleutelwoord “BETER GAWES” waaroor ons toe gesels het, het toe ‘n interessante gesprek uitgelok. Ons het gevoel dat all gawes “gelyk” is en dat nie een beter is as die ander nie. Ek moet sê 1 Kor 14 gee wel meer duidelikheid, maar sal tog dankbaar wees as jy dalk net vir ons meer kan sê oor die woord “beter”. Baie dankie by voorbaat vir jou inset hieroor. Groete, Awie Leonard, Luxmundi NG Gemeente (Pretoria Oos)
Chris van Wyk
Hi Awie, “beter” beteken hier “het ‘n groter impak.” Dit is my weergawe van Paulus se lering dat Korintiërs hulle moet toelê op die “groter / belangriker gawes” soos die Grieks in 1 Korintiërs 12:31 vertaal moet word (χαρίσματα τὰ ⸀μείζονα). Hy gee die lering omdat die Korintiërs die spreek in tale verkies (hoër geag) het eerder as profesie, terwyl profesie juis ‘n belangriker gawe was wat ‘n groter impak in die gemeente gehad het. Dit is waarom die 2020-vertaling van “belangriker genadegawes” praat (1 Kor 12:31). Want, dit is waaroor dit gaan. Op soortgelyke wyse vertaal die 2020-vertaling die een wat profeteer as “van groter waarde” as die een wat in tale spreek (1 Kor 14:5). Gawes is dus gelyk in die sin dat die Gees dit aan elkeen uitdeel soos Hy dit wil. Maar dit is ongelyk in terme van die impak wat dit in ander se lewe kan hê. Tale stig jouself en as dit reg gedoen word, is dit ‘n teken aan ongelowiges (1 Kor 14:22), maar profesie – die uitleg van God se Woord vir vandag – bring almal tot insig, verantwoording en aanbidding omdat die geheime van die hart blootgelê word (1 Kor 14:24-25). Profesie is dus ‘n “groter” of “belangriker” gawe in die konteks van die gemeente. Hoop dit help!
Willie
Kan mens n diploma of sertifikaat verdien na voltooiing van die kursus
Chris van Wyk
Hi Willie, nee, ek het nog nie die pad van akkreditasie gestap nie. Dit is net vir privaat verryking.
Jana Spangler
Goeie dag Ds Chris .
Ons is huidiglik besig met n Bybelskool by Lynnwoodrif. Ons woon in Limpopo. Behandel tans Josua. Is daar dalk n landkaart beskikbaar wat ek kan volg en bestudeer watter stam, watter grond gebied gekry het? Ek dink dat kan vir toekoms baie makliker verstaanbaar wees indien op kaart kan volg, ook hoe dit later deur ander volke oorgeneem is.
Chris van Wyk
Hi, hier is ‘n kaart van Faithlife (2022 – “Logos Bible Software Atlas.” Bellingham, WA: Faithlife, LLC.)
Ernst Marais
Goeie dag ds .Ek verstaan nie wat is kontrasterende betekenis nie ,help asseblief
Chris van Wyk
Kontrasterende betekenis is wanneer ‘n stelling met ‘n ander stelling vergelyk word as teenstelling daarvan. Dit vorm dus ‘n kontras. Bv “Haar vriendelike optrede kontrasteer pragtig met haar broer se onbeskoftheid.” (HAT) In die Bybel, veral in Spreuke, vind ‘n mens bv: “As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy ’n spotter, dan moet jy dit alleen dra.” (Spr 9:12)