Skip to main content

Hoe om Bybelskool.com te gebruik

Die motto van die Bybelskool

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Die Woord is ‘n huis om in te woon

My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

Bybelskool.com fokus op ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk lees van die hele Bybel

Hierdie Bybelskool fokus op ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk lees van die Bybel om jou te help om die stem van God te kan hoor.  Al 66 Bybelboeke is beskikbaar om op hierdie webtuiste te lees. Al 27 NT en al 39 OT Bybelboeke is beskikbaar om deur te werk.  Dit is gratis.

Daar is by elke Bybelboek ‘n inleiding van hoe jy die Bybel kan lees, ‘n inleiding op die Bybelboek self, en dan skakels na ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk lees regdeur die Bybelboek.

Hoe om die bydraes hier te gebruik

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Hier is opsies vir persoonlike stiltetyd, Bybelstudiegroepe en Bybelskole:

Vir persoonlike stiltetyd

Lees, luister, leef

Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die hoofstuk of teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het oor die hoofstuk of teksgedeelte en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou wil sê deur die sleutel gedagte of iets wat jou in my skrywe daaroor getref het.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet ook sy teenwoordigheid in stille gebed.  Laat die boodskap wat God jou gee dan met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

Vir Bybelstudiegroepe

Julle kan ‘n hoofstuk ‘n dag of ‘n hoofstuk ‘n week lees, of selfs oor ‘n langer tydperk. Volg net die skakels.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het.  Gebruik julle joernale.  Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes.  Watter ander gedagtes wil julle byvoeg?  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.  Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk?  Wat vra dit van julle?  Wat belowe dit vir julle?  Wat moet julle dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Doen ook voorbidding.  Geniet ook sy teenwoordigheid in stilte.  Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.  Leef dit uit.

Vir Bybelskole

Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.  Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk of tema vir tema deur die Bybelteks werk.

Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.  Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.

by Chris van Wyk

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…