Skip to main content

1 Kronieke 13

Dawid raadpleeg beide die volk en God om die ark na Jerusalem te bring

Ons lees dieselfde verhaal nou uit die hoek van 1 Kronieke 13. Die skrywer van Kronieke gebruik hier die eerste deel van die verhaal in 2 Samuel 6 wat handel oor Dawid se eerste mislukte poging om die ark na Jerusalem te bring voordat hy in 1 Kronieke 15 tot 16 die verhaal van Dawid se suksesvolle poging sal vertel op voetspoor van die laaste deel van 2 Samuel 6. Tussen-in is die drie verhale van 1 Kronieke 14 (wat ons vroeër gelees het) oor die seën wat Dawid ervaar in sy koningskap, wat saam met die seën wat Obed-Edom ervaar in sy sorg vir die ark van die verbond, vir Dawid oortuig om die finale stappe te neem.

Teks en konteks

Dit tref my dat Dawid baie moeite doen om in sy soeke na die wil van die Here almal te raadpleeg, veral die leiers oor duisend en die leiers oor honderd: As julle dit goedvind, en as dit van die Here ons God af kom…” Die onderskeiding van wat God wil is nie net ‘n individuele onderneming nie, maar sluit in dat daar wyd beraadslaag word. Let op ook op dat hy “ons“-taal gebruik wat inklusief van aard is. Hy sluit ook baie pertinent die priesters en Leviete in, hoewel dit lyk asof hulle kennis van wat hulle moet doen, gebrekkig is. Vandaar die tragedie wat hom hierna afspeel.

Dawid kontrasteer ook dié onderneming van hom om die ark terug te bring met die volk se gebrek aan insig daaroor in die tyd van Saul. Selfs Samuel het nie daarop gefokus om die ark terug te bring uit Filistynse gebied nie, nadat die ark in die tyd van Eli deur hulle gebuit is. Dawid wil dit nou regstel.

Eers nadat die hele volk hulle instemming betuig het, sit Dawid egter die wiele aan die rol om die ark na Jerusalem te bring. Dit is immers ‘n gesamentlike onderneming. Met groot vreugde het hulle die pad terug aangepak.

Die tragiese verhaal van Ussa wat dood is toe hy onwetend die reëls vir die vervoer van die ark oortree, illustreer egter die ontsag wat God vereis van dié wat Hom wil dien wat insluit dat sy bekende wil uitgevoer moet word. In Ussa se geval was die reël dat die ark nie aangeraak mag word nie (Num 4:15).

Die verhaal van Obed-Edom, wat geseën is met die ark se verblyf by sy huis, illustreer egter dat God in sy diepste wese ‘n seënende God is, solank sy voorskrifte nagekom word. Obed-Edom was waarskynlik ‘n Leviet, want ‘n Obed-Edom neem as poortwagter deel aan die prosessie Jerusalem in, soos 1 Kronieke 15:24 aantoon. Die geskiedskrywer Josefus eien hom as dieselfde persoon.

Wat die Kronieke skrywer verder doen, is om met die drie verhale uit 2 Samuel 5 wat hy in in 1 Kronieke 14 gebruik (ons het dit al gelees), ‘n paar verdere perspektiewe te gee op wat Dawid uiteindelik oortuig om wel die ark te gaan haal, hierdie keer op die regte manier.

Met die drie verhale oor 1) die bouwerk aan Dawid se paleis met internasionale erkenning en hulp, 2) die uitbreiding van sy gesin, en 3) die duidelike leiding van die Here in twee van sy veldslae teen die Filistyne, weet Dawid dat die tyd gekom het om die ark te laat tuiskom in Jerusalem.

Al drie hierdie verhale bevestig immers aan Dawid dat die Here dit goed bedoel met hom en vir hom op drie vlakke van sy lewe begelei, voorsien en beskerm: as koning in sy paleis, as pa in sy gesin en as gerekende leier onder die nasies.

Dít gee Dawid die moed om die ark uiteindelik suksesvol terug te bring na Jerusalem terwyl hy uitvoerige voorsorgmaatreëls tref om dit volgens die wil van die Here te doen – 1 Kronieke 15 – waarvoor die Kronis die tweede deel van die verhaal in 2 Samuel 6 inspan.

Boodskap en betekenis

Die skrywer van Kronieke gee hiermee ‘n baie belangrike boodskap aan die mense van sy tyd, met baie meer detail as wat die verhaal in Samuel vertel is. Dit is, dat om tot hulle reg te kom as volk van God net kan gebeur as hulle regtig wyd konsulteer, almal betrek by die proses van geestelike onderskeiding, én dit in afhanklikheid van die Here doen.

Dit is iets wat ons ook vandag ter harte kan neem. Geestelike onderskeiding is iets wat in die geloofsgemeenskap hoort. Daar moet na God se wil geluister word. Dit is die onveranderlike absolute waaraan gehoor gegee moet word. ‘n Wye reeks leiers moet daarby betrek word sodat almal in lyn kan kom met God se wil sodat daar in eenheid by die waarheid gebly kan word. Die maatstaf vir onderskeiding is beide: “As julle dit goedvind,” en “as dit van die Here ons God af kom.” Daarsonder kan die teenwoordigheid van die Here in die geloofsgemeenskap nie tot sy volle mate geniet en op staat gemaak word nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar