Skip to main content

Psalm 117

God is oneindig betroubaar in sy onmeetlike liefde vir ons

Hierdie Psalm het twee besondere dinge wat dit laat uitstaan. Dit is die kortste Psalm, trouens die kortste hoofstuk in die Bybel. Dit is ook die middelste hoofstuk in die Protestantse Bybel. Daar is 594 hoofstukke daarvoor en 594 hoofstukke daarna, in totaal 1189 hoofstukke met Psalm 117 ingesluit.

Teks en konteks

Die Psalm is eintlik net een lang sin. Dit roep alle nasies saam met die Godsvolk op om God te prys en wel om twee redes.

GOD SE LIEFDE IS ONMEETLIK: Die eerste rede is die feit dat God se liefde vir ons so sterk is. Die Hebreeus gebruik ‘n woord vir “sterk” wat vir jou die idee gee dat sy liefde soos ‘n groot toring is wat ontsag by ons wek – soos om langs ‘n hoë gebou te staan en deur die grootte daarvan oorweldig te word. Die NET Bible vertaal daarom op voetspoor van dieselfde woord in Psalm 103:11: “For his loyal love towers over us.” Peterson vertaal dit só: “His love has taken over our lives.” (The Message). Die OAV het dit weer as: “want sy goedertierenheid is geweldig oor ons.” Hoe ook al, God se liefde is ongelooflik groots in ons lewe. Sy liefde is onmeetlik.

GOD SE TROU IS ONEINDIG: Die tweede rede is die feit dat daar geen einde aan God se trou is nie. Soos God se liefde se “hoogte” oorweldigend groot is, is sy trou iets waarvan ‘n mens nie by die einde daarvan kan kom nie. Dit asof God se liefde as ‘n vertikale werklikheid geteken word, en sy trou as ‘n horisontale werklikheid. Sy trou kom vanuit die oneindigheid van die ooste en strek tot die oneindigheid van die weste. Dieselfde van die suide af tot in die noorde. Daar is geen einde aan God se trou nie. Sy trou is oneindig.

En as jy dié twee dinge saamgooi, sy groot liefde, en sy oneindige trou, kan ‘n mens dit só opsom: God is oneindig betroubaar in sy onmeetlike liefde vir ons.

Daarom moet God geprys word.

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n boodskap wat vir alle nasies is. Daar is net een God vir alle nasies. Daar is ook net een God vir die kerk. Wat beteken dat almal opgeroep word om Hom vir sy betroubare liefde te loof, soos Paulus in Romeine 15:7-13 dit doen met ‘n aanhaling uit Psalm 117:1 (sowel as uit Ps 18:50; 2 Sam 22:50; Deut 32:43; Jes 11:10).

Dink vandag terug aan ervarings wat vir jou onderstreep dat God se liefde vir jou sterk is, en dat daar geen einde aan sy trou is vir jou nie. En prys Hom in gebed regdeur die dag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar