Skip to main content

2 Konings 8:1-15

Elisa se invloed brei uit na die Arameërs

Die Sunnemitiese vrou van vroeër is deur Elisa gehelp om met die sewe jaar lange droogte in Israel in die gebied van die Filistyne te oorleef. Met haar terugkeer, help Gehasi interessant genoeg haar om haar grond weer terug te kry. Elisa se invloed het verder uitgebrei na die Arameërs toe en op versoek profeteer Elisa met sy besoek aan Ben-Hadad se hoofstad, Damaskus, dat Ben-Hadad aan sy siekte sal sterf. Gasael, een van Ben-Hadad se manne, sou in sy plek koning word.

Teks en konteks

Die eerste verhaal skets ’n ander kant van Gehasi, waar hy nie net oor sy eie voorspoed bekommerd is nie, maar ook oor dié van ander. Hier help hy die Sunnemitiese weduwee om haar grond na die droogte terug te kry. Hy is juis “Godsvallig” besig om die koning te vertel van Elisa se wonderwerke vir die Sunnemitiese vrou, toe sy daar aankom. Die koning help haar om die grond met opbrengs en al terug te kry, want dit is waarskynlik deur iemand anders in besit geneem.

Dis onseker watter koning dit was. Omdat Joram Elisa goed geken het, kan dit moontlik in Jehu se tyd wees. ’n Mens wonder ook of Gehasi nog aan sy velsiekte ly, maar die skrywers laat ons in die duister daaroor.

Elisa se invloed het nou buite sy grondgebied in Israel gestrek en met ‘n besoek aan Damaskus, die hoofstad van die Arameërs – in uitvoering van die opdrag van die Here aan Elia, soos 1 Konings 19:15 ons vertel – raadpleeg ‘n siek koning Ben-Hadad Elisa of hy van die siekte sal herstel.

Die Here openbaar aan Elisa nie net dat Ben-Hadad sal sterf nie, maar dat Gasael Ben-Hadad sal opvolg, en in ‘n ontstellende gesig van die toekoms lig Elisa Gasael in van die geweld wat hy Israel sal aandoen. Gasael het eers teë geskop hierteen, maar neem met sy terugkeer na Ben-Hadad die reg in eie hande en vermoor hom daar en dan, en sou later presies die gru-dade doen wat Elisa van hom voorspel het (vgl verder in hierdie hoofstuk, en later in 2 Konings 13).

Boodskap en betekenis

Ek dink baie mense wil heimlik weet wat die toekoms vir hulle en ander inhou. Moontlik omdat dit jou sekerheid kan gee oor wat gaan gebeur, en jy jou beter daarop kan voorberei.

Die verhaal van Elisa en Gasael wys my egter dat sulke kennis nie altyd iets is wat vrede en geluk bring nie. Die openbaring van die Here laat Elisa in trane uitbars, omdat hy sien watter leed Gasael nie net in Aram gaan veroorsaak nie, maar ook in Israel. En die visie word onmiddellik waar as Gasael vir Ben-Hadad vermoor.

Ek dink dit is een van die redes waarom Jesus later ons sou aanraai om te fokus op vandag en wat God se wil vir vandag is, en doelbewus die dag van môre in die hand van die Here te los en Hom daarvoor te vertrou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar