Skip to main content

Openbaring 22

Die Here Jesus Christus kom verseker

Die boek Openbaring sluit in hoofstuk 22 af met:

  • ’n prentjie van die utopiese karakter van die Nuwe Jerusalem wat herinner aan die oorspronklike paradys tuin van Eden in Genesis 2 sowel as die saligspreking van Psalm 1 wat ook met ’n boom metafoor werk – vers 1-5 en
  • ’n versekering van die Here Jesus Christus se wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek – vers 6-21.

Teks en konteks

Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem – Openbaring 22:1-5

Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die Nuwe stad Jerusalem – die metafoor vir die geloofsgemeenskap – op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER so helder soos kristal, wat lewe gee.

Hierdie water loop soos ’n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing via die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en via sy maandelikse vrugte en oorvloed blare genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Esegiël 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat ‘n mens ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ’n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.

In dié Utopia, hierdie Eden, sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar: “Geen vloek sal daar meer wees nie.” In die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef. Die vloek van die sondeval van Genesis 3 is opgehef.

Sy Naam sal op hulle voorkoppe geskryf staan. En hulle sal saam met Hom vir ewig as konings leef.

Die wederkoms van die Here Jesus Christus – Openbaring 22:6-21

In die laaste visioen van Openbaring 22:6-21 verseker Jesus vir Johannes van sy wederkoms. Jesus sal binnekort weer kom, ‘n belofte wat die sekerheid, en daarom hoop van Johannes se boodskap, bevestig.

Hierdie versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms kom in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring.

Dat die Here Jesus self drie keer dit herhaal, gee aan dié slotgedeelte ’n besondere krag: vers 7, 12, 20: “Kyk, Ek kom gou!”.

Dat die woorde van dié boek as betroubaar en eg geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”

Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense.

Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word, as ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.

Die beloning van die Here Jesus dui nie op ’n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe wat loon sal insluit. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie – honde (seksuele perverte), towenaars, onsedelikes, moordenaars, afgodsaanbidders en leuenaars – ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.

Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister. Hy is immers die Wortel en Nakomeling van Dawid (vgl Jes. 11:1), die helder Môrester (Num 24:17).

Johannes bevestig self ook die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het. Niemand mag hieraan verander nie, anders sal hy of sy nie net die plae wat in die boek beskryf is, ondervind nie, maar ook uit die Boek van die Lewe uitgeskryf word.

Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede in die naam van die Here Jesus en sy genade.

Boodskap en betekenis

Johannes sluit Openbaring 22 af met ‘n kragtige bevestiging van Jesus Christus se spoedige wederkoms. Drie keer herhaal Jesus self: “Kyk, Ek kom gou!”, wat die sekerheid en nabyheid van sy terugkeer beklemtoon. Die engel verseker ons dat die woorde van die profesie betroubaar is en moedig gelowiges aan om gehoorsaam te wees, met ‘n spesiale saligspreking vir dié wat vashou aan die woorde van die boek.

Die Heilige Gees en die bruid bevestig Jesus se belofte en nooi mense uit om die lewende water gratis te ontvang, terwyl dit nog beskikbaar is.

Johannes sluit af met ‘n laaste oproep tot gehoorsaamheid, ‘n troos aan gelowiges, en ‘n laaste waarskuwing aan dié buite die koninkryk. “Kyk, Ek kom gou!”

Naskrif

Ons drie-jaar reis deur die Bybel het aan sy einde gekom. Dankie vir elkeen wat enduit saamgestap het, maak nie saak wanneer jy ingeval het nie. Ons begin môre met Jesus se geboorte en kinderjare. Jy is welkom om verder saam te reis!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.