Skip to main content

Jeremia 36

Jojakim verbrand Jeremia se boekrol

Steeds in Jojakim se regering, sy vierde regeringsjaar (605 v.C.), laat die Here Jeremia al die oordeelsprofesieë wat die Here vir hom sedert die tyd van Josia teen Juda en die nasies gegee het deur Baruk op ’n boekrol skryf en in die tempel aan almal voorlees, aangesien Jeremia op dié stadium op een of ander manier ingeperk of ten minste beperk in sy bewegings was. Hy kon nie self die boekrol in die tempel gaan voorlees nie.

Sommige geleerdes noem baie keer hfst. 36-45 die Baruk dokument, maar omdat hierdie opdrag eintlik al Jeremia se oordeelsprofesieë van die begin af insluit, ook dié aan die nasies (vgl. Jer. 46-51), het ons hier waarskynlik te make met die opdrag waaruit die hele boek van Jeremia tot stand gekom het: “vandat Ek met jou begin praat het in die dae van Josia tot nou toe”.

Teks en konteks

Die Here se hoop was dat die volk tot bekering sal kom by die aanhoor van hierdie boodskap: “As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer.” Dit wys onomwonde die Here se goeie bedoelinge, selfs in die aankondiging van oordeel. Hy staan ook gereed om hulle hulle ongeregtighede en hulle sonde te vergewe.

Dit wil voorkom asof Jeremia en Baruk meer as ’n jaar lank gewerk het aan dié opdrag van die Here, want eers ’n jaar later, in die negende maand van Jojakim se vyfde regeringsjaar, is ’n vasdag vir die Here in Jerusalem uitgeroep en is die boekrol voorgelees. Die hele volk uit die stede van Juda en Jerusalem was teenwoordig. Dit was in die sykamer van Gemarja, die een wat later Jeremia se briewe aan die ballinge afgelewer het in die tyd van Sedekia (Jer. 29:3).

Gemarja se seun Miga het hom uit die tempel gehaas na die paleis en die koning se amptenare – Elisama die staatsekretaris in die paleis, en ’n paar ander – om hulle in te lig oor wat nou in die tempel gebeur. Hulle het Baruk laat roep om self te hoor wat hy gelees het, en in die proses baie bang geword toe hulle die boodskap van die boekrol hoor. Hulle besluit om die boekrol na Jojakim toe te bring en hom alles te vertel wat gebeur het, maar waarsku Baruk om op een of ander manier te gaan wegkruip saam met Jeremia: “niemand moet weet waar julle is nie.”

Interessant genoeg bêre hulle eers die boekrol in die staatsekretaris se kantoor voor hulle na die koning toe is in die voorhof. Jojakim laat egter onmiddellik die boekrol haal en laat dit vir hom voorlees. En dan lees ons:

“Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met ’n bak gloeiende kole voor hom. Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi, Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.”

Drie van die amptenare het teen hierdie wandaad van Jojakim geprotesteer, Gemarja ingesluit, maar verniet. Gelukkig het die Here Jeremia beskerm teen Jojakim se gramskap wat Jeremia en Baruk hieroor wou laat arresteer.

Deur die boekrol te verbrand, het Jojakim egter nie geslaag daarin om die boodskap van die boekrol tot niet te maak nie, en gee die Here vir Jeremia opnuut die opdrag om die boekrol met al sy profesieë vir Baruk te dikteer sodat dit nie verlore sou raak nie. Die Here herhaal ook opnuut sy woorde van oordeel, persoonlik aan Jojakim en publiek aan die volk.

Geen wonder dat Jeremia se oordeel oor Jojakim is: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (Jer. 22:19).

Ons lees meer hieroor in Kronieke wat hierby aansluit en sê dat Jojakim uiteindelik met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan. Die Hebreeus in 2 Kronieke 36:6 kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …” Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie en dood is buite die stad.

Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings – weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1). Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig.

Boodskap en betekenis

Dit tref my hoe ons hier ’n kykie kry in die tydsame en uitdagende proses waardeur die Bybel tot stand gekom het. Jeremia en Baruk werk meer as ’n jaar lank aan die manuskrip. En dan verbrand Jojakim dit sommer net so. Dit lyk ook asof daar nie ’n ekstra kopie van sy boek was nie. Daarom moet hulle dit van meet af aan weer oorskrywe!

Dit gee ons ook ’n kykie in God se voorsiening. Hy het hierdie boek nie net van Jojakim se vuur gered nie, maar ook van elke ander poging om die boodskap van die Bybel deur onderdrukking of vervalsing te ontkrag. Watter voorreg om dié Boek der boeke vandag op soveel maniere en in soveel tale te kan lees!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda