Skip to main content

Openbaring 7:1-8:5

God se mense word verseël teen die oordeel met die sewende seël

Tussen die sesde en sewende seël van die boekrol verskuif die fokus na twee groepe mense:

  1. 144 000 diensknegte van God op aarde wat met ’n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8 – en,
  2. ’n ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17.

Teks en konteks

God se mense word op aarde verseël teen die oordeel – Openbaring 7:1-8

Die doel van dié toneel tussen die oordele van die twee seëls is om gelowiges te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie, dat hulle op aarde as God se eiendom gemerk is en dat hulle uiteindelike verlossing vas en seker is. Uiteraard ly hulle ook onder die oordele, maar dit kan nooit hulle ewige verkiesing om in God se teenwoordigheid te floreer, bedreig nie.

Die eerste groep word beskerm tydens die oordeel op aarde. Die tweede groep word versorg in die hemel ná die groot verdrukking.

Die vier engele op die vier hoeke van die aarde word eers teruggehou om die oordeelsvoltrekking op aarde verder uit te voer, sodat die diensknegte van God eers geïdentifiseer en met ’n seël beskerm kan word.

Die 144 000 diensknegte van God

Die 144 000 word as die diensknegte van God beskryf. Hulle word egter ook beskryf as mense wat kom uit elke stam van die “seuns van Israel”. Die vraag is dus wat dit bedoel, en hoe ‘n mens dit moet verstaan.

Daar is drie hoof maniere waarop dit geïnterpreteer word.

  1. Joodse volk

Dit kan letterlik dui op die Joodse volk wat van die aartsvaders afstam. Maar, die realiteit is dat die twaalf stamme in die eerste eeu n.C. lankal nie meer letterlik bestaan het nie. Die eerste ballingskap in die 8ste eeu v.C. het die 10 noordelike stamme vir alle praktiese doeleindes uitgewis, behalwe vir sommige wat van tyd tot tyd by die suidryk aangesluit het.

Die kerk word ook deur Paulus geteken as saam met die gelowige Jode deel van die een nuwe mensheid wat Christus geskep het (Ef. 2:15). Die feit dat iemand dus fisies afstam van Israel en deel van die Joodse nasie is, word daarom nie meer in die NT as teken beskou dat jy tot die ware Israel behoort, net omdat jy jou afstamming kan bewys nie, soos Paulus uitvoerig aanvoer in Romeine 9-11.

Dié wat in Jesus Christus glo, is die nageslag van Abraham (Gal 3:29), is die ware volk van God, die ware Israel (Gal. 6:16). Natuurlik is dít ook waar van almal wat deel is van die Joodse nasie wat in Christus glo, maar dit verhef nie nasieskap tot ’n Christelike onderskeidingsteken nie.

Daarom kan Johannes die lede van die Joodse volk wat Christus verwerp as die sinagoge van Satan beskryf, soos vroeër in Openbaring. Gelowiges uit die heidene sowel as uit die Jode is saam die ware Israel.

  1. Joodse deel van die volk van God

Dit kan dui op die Joodse deel van die volk van God (Joodse of Messiaanse Christene) wat simbolies as 12 000 uit elke stam van Israel aangedui word. Dit is ’n beter interpretasie as die eerste, veral omdat ’n mens dit dan kan kontrasteer met die volgende groep Christene wat hier genoem word en wat uit alle nasie, stam, volk en taal kom.

Maar dit bevredig tog nog nie regtig nie, omdat dit dan sou beteken dat hierdie Joodse deel van die volk van God op aarde beskerm word, terwyl niks oor die nie-Joodse deel van die volk van God in die hemel gesê word nie. Dit kan tog nie en strook nie met die werklikheid nie, behalwe as ‘n mens een of ander vorm van dispensionalisme aanvaar. Daaroor later.

  1. Die hele volk van God

Dit is dus waarskynlik beter om aan die 144 000 te dink as ’n simboliese getal van die hele volk van God, die ware Israel, dié wat in Jesus Christus glo, wat reeds op aarde as God se volk, sy koninkryk van priesters optree. So lê ’n hele paar geleerdes dit uit (Aune, Baukham, asook Du Rand).

Die getal 144 000 kan moontlik saamgestel wees uit 12 (OT kerk) maal 12 (NT kerk) maal 103 (die voltal 10 tot die mag 3, wat Goddelikheid uitdruk), volgens Du Rand.

Interessant genoeg: Juda word waarskynlik eerste genoem, al was Ruben die oudste, omdat Christus uit Juda gebore is. Manasse, die kleinseun van Jakob, seun van Josef is ook ingesluit, terwyl Dan, een van die oorspronklike twaalf, nie ingesluit is nie.

Die weglating van Dan korreleer onder andere met die perspektief uit Rigters 18 wat wys hoe die stam Dan by afgodsdiens betrokke geraak het. Hulle het Miga se efodbeeld, sy afgodsbeeldjies en sy eie godsbeeld gesteel vir hulleself, en op die koop toe die Leviet wat by hom was, saamgeneem om hulle in dié afgodsdiens te begelei.

Geen wonder dat die Kronis later die stam van Dan ook in die geslagsregisters in 1 Kronieke 2:1 uitlaat, waarskynlik weens hierdie assosiasie met afgodery. Ons lees ook van Jerobeam wat onder andere afgodsbeelde in Dan opgerig het wat Israel verlei het wat die assosiasie versterk (1 Kon. 12:28-30) .

In lyn met standpunt 3 hierbo, word hierdie deel van God se volk, die gelowiges wat op aarde is, in standgehou as sy getuies en deur die simboliese seël op hulle kop beskerm. Die finale vernietiging wat gaan losbars, sal hulle daarom nie beskadig nie, omdat God self hulle vir die ewige lewe laat merk.

Dit laat ‘n mens dink aan Esegiël wat ‘n soortgelyke visioen sien met die vernietiging van Jerusalem met die aanbreek van die ballingskap in 586 v.C. In ‘n ontsagwekkende toneel kom ses manne met wapens van verwoesting in hulle hand – soos futuristiese Terminators! Die man met die linneklere is net “onder” of “tussen” hulle, soos dit korrek in die OAV vertaal is, en dus ‘n sewende agent van die Here. Sy taak is om met ‘n pen uit sy skrywersakkie ‘n merk (dit is die letter t [תָּו] in Hebreeus wat in dié tyd as ‘n X geskryf is) op die voorkoppe te maak van: “almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” (Eseg. 9:4 – amper soos van Lot in Sodom en Gomorra gepraat word – 2 Pet. 2:7).

God se mense, dié wat nie meedoen aan die afskuwelikhede en daaroor treur, word dus gespaar. Terloops, in Openbaring 13 word eintlik die omgekeerde proses beskryf met die mense wat die merk van die dier moet dra om ekonomies aktief te kan wees. God merk uit die hemel sy mense. Die dier uit die aarde (vals profeet – vgl Openb. 16:13) merk syne.

Ons sal nog ’n beskrywing kry van ’n groep van 144 000 (Openb. 14:3-4) wat waarskynlik dieselfde groep as in Openbaring 7 verteenwoordig.

God se mense in die hemel verheerlik Hom vir sy verlossing – Openbaring 7:9-17

Die groot ontelbare skare uit elke nasie, stam, volk en taal dra wit oorwinningsklere en kom uit die groot verdrukking.

Hierdie groot verdrukking kan verwys na die laaste tydperk van intense vervolging, of na die totale tydperk van vervolging tussen Jesus se eerste en tweede koms (vgl. Matt. 24:21).

Ironies genoeg vra die ouderling of Johannes weet wie hulle is, waarin Johannes se verbasing duidelik blyk: “Meneer, u is die een wat weet.”

Hulle oorwinning in die groot verdrukking word gevier deur God te aanbid, iets waaraan die engele, die vier lewende wesens, die ouderlinge en dié groot skare gelowiges met oorgawe deelneem. Hulle loof God vir sy verlossing en vir die feit dat alle lof, heerlikheid, wysheid, dank, eer, krag en sterkte Hom toekom.

’n Heerlike intieme geloofsgemeenskap word geteken met die gelowiges wat dag en nag vir God in sy hemelse tempel dien en God wat “sy tent by hulle opslaan.” Daar word hulle nie net volledig beskerm nie, selfs van die son se hitte, maar ook van enige fisiese (honger of dors) of emosionele gebrek (trane). God vee elke traan uit hulle oë! Die Lam versorg hulle soos ’n herder (Ps. 23 en Joh. 10 op steroïede!)

Die sewende seël openbaar die rol van die gebede van die heiliges – Openbaring 8:1-5

Met die oopmaak van die sewende seël word weer teruggegaan na die herhaling van die verhaal van oordeel van God oor die aarde. Met elkeen van die sewe trompette (wat dieselfde verhaal weer sal vertel met die uitgiet van die sewe bakke) word die impak van God se oordeel op alles wat bestaan, verskerp.

Die sewende seël en die gebede van die heiliges

Die sewende seël word oopgemaak en die eerste fokus is op die gebede van die heiliges wat deur God ingespan word in die oordele wat hierna volg.

Daarna openbaar dit die sewe trompette wat deur die sewe engele wat voor God se troon gereed staan, geblaas gaan word. Die gebruik van trompette onderstreep die bedoeling daarvan as waarskuwings, dws ‘n oproep tot bekering, hoewel die mensdom ten spyte van die destruktiewe effek daarvan nie regtig daarop ag slaan nie.

Die sewe engele is waarskynlik die sewe aartsengele wie se name ons ken uit die eerste boek van Henog 20:2-8: Uriël, Rafael, Raguel, Migael, Sarakel, Gabriël en Remiël. Uit die Bybel is ons bekend met Migael (bv. in die boek van Daniël en in Openbaring 12:7) en Gabriël (bv. in die boek van Daniël sowel as met sy verskyning aan Sagaria en Maria in die evangelie van Lukas). Die Bybelse skrywers was bekend met hierdie oud-Joodse apokriewe boek en Judas 14-15 haal daaruit aan.

Let op dat dié fase van God se oordeel ingelei word met die gebede van die heiliges wat voor God uit die engel se hand saam met die wierook opstyg en as katalisator dien vir die blaas van die trompette, want dit is eers nadat die vuur van die goue altaar voor die troon in die wierookbak gegooi en op die aarde uitgegooi is, dat die trompette geblaas word.

Die gebede van die heiliges dat God reg sal laat geskied, word dus nie net gehoor nie. Dit lei ook tot daadwerklike optrede, soos ’n mens kan sien in die feit dat die wierookbak groot ontwrigting tot gevolg het, donderslae, gedreun, weerligstrale en ’n aardbewing.

Boodskap en betekenis

Openbaring 6-7 is vir baie mense ‘n ontnugtering wanneer hulle agterkom dat die wonderlike werklikheid van Openbaring 4-5 – die hemelse erediens en die Lam van God wat waardig is om die agenda van God uit te voer met die lofliedere wat God prys en aanbid – in ‘n wrede werklikheid van oorloë, konflik, hongersnood, vervolging en ellende oorgaan.

Die sewe seëls wat in Openbaring 6 begin, breek verskillende aspekte van God se oordeel oop vir hierdie wêreld. Die sewe trompette wat boonop daarna in Openbaring 9 volg, is nie net waarskuwings van God se oordeel nie, maar wrede werklikhede wat ‘n mens verstom. Dieselfde geld die sewe bakke van Openbaring 15-16 wat God se oordeel soos gloeiende lawa op die wêreld uitgiet.

Gelukkig is daar tussen-in ‘n beskrywing van God se beskerming en sorg vir gelowiges op aarde en in die hemel in Openbaring 7 (en weer in Openbaring 14). Dit sê vir ons dat God se oordeel ‘n “verlossende oordeel” is. En daaroor kan jy jou verbly. Maar, dit bly ‘n skok vir ‘n mens se sisteem!

Let ook op watter rol die gebede van die heiliges speel in die uitrol van God se verlossende oordeel. Hoewel ons nie altyd ‘n insae het in hoe ons gebede gebruik word in God se werk nie, is dit duidelik dat dit ‘n besliste rol speel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…