Skip to main content

1 Konings 6-7; 2 Kronieke 3:1-5:1

Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid

Ons lees vandag vier hoofstukke. Die bouwerk aan die tempel word in twee dele beskrywe, die werk aan die buitekant van die tempel, sowel as daarna die binnekant. In die middel van die beskrywing  herinner die Here Salomo aan sy belofte aan Dawid wat ook aan Salomo vervul sal word. Interessant is dat die begin van die bouwerk aan die Uittog uit Egipte (1446 vC) gekoppel word, dws in 966 vC, 480 jaar later. Die tempel het sewe jaar geneem om voltooi te word. Salomo bou in hierdie tyd ook sy paleis wat dertien jaar geneem het om voltooi te word.

Teks en konteks

Die verhaal in Kronieke oor die bou van die tempel word korter weergegee as in Konings. Kronieke laat baie van die detail oor die gebou self uit, veral die dimensies en bouwerk van die omringende platform, en vertel ook die inkleding van die tempel korter en laat bv baie van die werk van Hiram doodgewoon uit. Die Here se gesprek met Salomo, soos vertel in Konings, word ook uitgelaat.

Salomo bou die tempel volgens die grondplan en model wat hy gekry het. Dit was 30 meter by 10 meter groot, en is gebou met baie duursame en kosbare materiaal. Net die Allerheiligste se goud teen die mure het twintig ton geweeg en die brons was so baie dat hulle nie eers die moeite gedoen het om dit te weeg nie.

Die twee pilare voor die tempel is Jakin en Boas onderskeidelik genoem, maar ons weet nie regtig wat die betekenis daarvan is nie. Dit kan na voorouers van Salomo verwys, bv Boas. Dit kan ook verwysings wees na God se vastigheid (Jakin) en krag (Boas). Of dit kan selfs na twee groot donateurs vir die bouwerk verwys.

’n Nuwe belofte word nou ook aan Salomo gemaak dat God tussen die Israeliete sal woon en hulle nie sal verlaat nie. Let op hoe ’n groot verantwoordelikheid die Here tog ook met die belofte op Salomo lê: “As JY volgens my voorskrifte leef … sal Ek my beloftes nakom teenoor jou.”

Let op die betekenis van die plek waar die tempel gebou is. Dit is nie net die plek waar die Here aan Dawid verskyn het op die dorsvloer van Arauna nie en daar versoening vir sy sonde gedoen is nie, maar ook die plek waar die Here Jesus Christus ’n paar 100 meter verder op Golgota die finale versoening vir die wêreld se sondes doen, met die voorhangsel van die tempel op die Moriaberg wat van bo na onder geskeur het.

Boodskap en betekenis

Die verhaal van die bou van die tempel lê klem op die grootsheid van die tempel as ‘n blyk van Salomo se toewyding aan God en sy begeerte om ‘n permanente woning vir die heilige teenwoordigheid van God te bou. Die tempel sou hierna ‘n sentrale plek in die godsdiens van Israel inneem en as teken dien van die vervulling van God se belofte aan Dawid in die opvolgende geslagte.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar