Skip to main content

Openbaring 17

Die oordeel word finaal oor Babilon voltrek

Nadat die sewende bak katastrofiese vernietiging oor die hele aarde ontketen het, ook oor Babilon, sien Johannes in Openbaring 17-18 visioene waarin die bose “Babilon”, die moeder van alle onsedelikheid, ‘n simbool van die antichristelike magte, se val verder beskrywe word.

Haar val lei tot ‘n groot aantal lofliedere deur die groot skare in die hemel en die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens in Openbaring 19:1-10 wat nie net die gedeelte oor Babilon afsluit nie, maar ook die oorgang na die aankondiging van die bruilof van die Lam is.

Openbaring 17 word in twee dele opgedeel. Die eerste deel, vers 1-6, skets die prostituut Babilon in grafiese detail. Die tweede deel, vers 7-18, lê die eerste deel se betekenis uit, amper soos Jesus gedoen het met die gelykenis van die Saaier – eers die gelykenis, dán die verklaring daarvan (Matt. 13).

Openbaring 18 tot 19:10 handel oor haar vernietiging.

Teks en konteks

Die prostituut Babilon – Openbaring 17:1-6

Die eerste prentjie wat vir ons van Babilon, d.w.s. Rome, geteken word, is dié van ’n prostituut wat by baie waters bly en met die konings van die aarde onsedelik verkeer en ’n groot bedwelmende effek op die mensdom het.

In die tweede prentjie sit sy kleurryk op ’n godslasterlike helderrooi dier met sewe koppe en tien horings in die woestyn. Nie net word sy as fundamenteel onrein en onsedelik geteken nie, maar rig sy groot verwoesting aan onder gelowiges. Sy is dronk van die bloed van die heilige getuies van Jesus.

Babilon staan vir die rebelse antichristelike beskawing sedert die eerste voorkoms daarvan met die bou van die toring van Babel (Gen 11). Hulle opstand en weerstand teen God neem net toe ten spyte van die toorn van God wat met die plae van die sewe trompette en sewe bakke op hulle uitgegooi is.

Die visioen het Johannes heeltemal verstomd gelaat.

Die betekenis van die vrou en die dier – Openbaring 17:7-18

Die betekenis van die simboliek word vervolgens uitgespel.

Die dier waarop sy sit, is die antichris

Die antichris word spottenderwys vergelyk met Christus. Anders as Christus wat is en was en kom, is die antichris een wat was, maar nou nie meer is nie en wel weer kom, maar om onder te gaan. Sy ondergang sal die hele wêreld verras.

Die sewe koppe is sewe berge en sewe konings

Die sewe koppe van die dier is aan die een kant letterlik die sewe berge van Rome, hetsy werklik of simbolies bedoel. Dit word egter ook as sewe konings beskryf wat nie op enige sinvolle wyse met keisers verbind kan word nie. Daarom staan dit moontlik vir die vyf groot koninkryke wat die Romeinse ryk voorafgegaan het: Oud-Babilonië, Assirië, Nieu-Babilonië, Medië-Persië, en die Grieke. Daarna kom die Romeine wat uiteraard die sesde een is, en die ander (toekomstige) koninkryk(e) daarna die sewende een. Hoe ‘n mens ook al daaroor dink, die sewe koppe staan vir die politiese mag wat Rome en die ander koninkryke uitgeoefen het en wat wel êrens almal tot niet sal gaan.

Die tien horings

Die tien horings staan ook vir tien konings wat aanvanklik deel van die Romeinse ryk was, maar dan in opstand kom en hulle eie politiese mag vestig. Dit dui op die onderlinge verdeeldheid wat daar in magsuitoefening regdeur die wêreld tussen heersers sal wees. Waarin hulle wel verenig is, is in hulle teenstand teen God. Hulle span saam teen die Lam, maar word deur Hom oorwin. Daarin deel dié wat deur Hom geroep en uitgekies is en getrou gebly het.

Die waters is ‘n simbool vir die nasies

Die waters is ‘n simbool van die volke, menigtes, nasies en tale wat in die proses sal ly, soos Johannes dit self uitlê. Soos dit telkens in die wêreld gaan, draai die konings egter uiteindelik teen Babilon en stroop haar van haar mag en praal. Totdat God ook aan hulle heerskappy ‘n einde maak.

Boodskap en betekenis

Openbaring 17 bied ‘n visie op Babilon, die groot prostituut, as ‘n verteenwoordiger van al die antichristelike magte wat deur die eeue heen teen God se heerskappy rebelleer. Al die wêreldse stelsels wat in groot welvaart leef, maar in opstand teen God leef, sal uiteindelik vernietig word.

Ons as gelowiges word gewaarsku teen die verleiding van wêreldse magte en goddeloosheid, maar word ook die versekering gegeedat God se oordeel regverdig is en sy koninkryk finaal sal triomfeer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda