Skip to main content

Psalm 144

Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is

Die metafore waarmee Psalm 144 begin laat my dink dat dit saam met Psalm 143 gelees moet word. Hy prys die Here, sy rots. Hy praat van God as sy vertroueling, sy bergskuiling, sy beskutting, sy bevryder, sy skild. By Hom skuil Dawid, Hy wat sy volk aan hom onderwerp. Dit kan as ‘n vasgryp aan die beloftes van die Here gelees word. Daarom hanteer ek dit hier.

Teks en konteks

Die Psalm val duidelik in twee dele uiteen. Die eerste deel – vers 1-11 – beskryf in die eerste persoon enkelvoud die gebed van die koning om bevryding. Die tweede deel – vers 12-15 – beskryf in die eerste persoon meervoud die gebed van die koning vir en namens die geloofsgemeenskap dat die Here hulle op omvattende wyse sal seën.

Die 2020-vertaling verbind dié twee dele met ‘n “sodat” in vers 12 om die implisiete verband tussen die bevryding van konflik en die seën van ‘n florerende gemeenskap te beklemtoon. Daarmee word twee van die grootste teologiese lyne in die OT aan mekaar verbind – die Abrahamitiese tradisie van seën en die Mosaïese tradisie van bevryding. En dit is betekenisvol dat dit in die gebed van Dawid gekombineer word, want hy is dan ook die voorafskaduwing van die Messias, Jesus Christus, die een wat ons verlos en die een wat ons seën.

Bevry my en red my uit die mag van vreemdelinge – vers 1-11

Dit wil voorkom asof die konteks in die eerste gedeelte ‘n dreigende oorlog is – vgl. vers 1 wat praat van oorlog en vers 10 wat praat van die oorwinning wat God aan konings gee, ook aan Dawid sy dienskneg wat Hy: “bevry van ‘n dodelike swaard.” Dit kan ook op sy vervolging deur Saul dui of op die oorloë wat daar ook in hierdie tyd uitgebreek het met die Filistyne.

Eksegeties is daar ‘n baie belangrike woordspeling wat in die NAV verlore raak. Dit is die verwysing na Dawid se hande wat deur die Here geleer word om oorlog te maak (vers 2), die Here se hand wat uit die hoogte hom red van gevaar (vers 7), in die konteks van die vreemdelinge: “wie se monde onsin verkondig en wie se regterhande bedrieglik is.” (vers 8 en 11 – NAV: “wie se woorde en dade leuens en bedrog is.”)

Die laaste verwysing na die vreemdelinge se “regterhande” dui waarskynlik op valse eedswering, want, soos vandag, is die regterhand opgehou as teken van ‘n eed van waarheid. Dawid se teenstanders se regterhande is egter bedrieglik en dui eintlik op die teendeel, d.w.s. dat hulle nie hulle woord kan hou nie.

Daarom prys hy die Here dat dié standvastig bly midde in die konflik. Hy druk dit in die eerste twee verse uit met ses beskrywings van God: my Rots, Vertroueling, Bergskuiling, Toevlugsoord, Bevryder, en Skild by wie hy skuil. Dít betuig die Here aan hom deurdat die Here hom in staat stel om die konflik die hoof te bied – “Hy wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.

Maar, let op dat dié vaardigheid uiteindelik aangevul moet word – eintlik afhanklik is daarvan – dat God se hand hom nie net versorg en in ag neem (vgl die eksplisiete verwysing na Ps 8 se loflied op God se sorg vir die mens) al is hy soos ‘n asemteug en sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee.

Nee, God se hand reik uit die hemel soos van ouds by die berg Sinai – terwyl die berge rook en die weerligte flits – en bring verwarring by die vyande en bevry Dawid van die konflik (watermassa) ten spyte van die onsin wat die vreemdelinge verkondig en die bedrog van hulle gedrag.

Daarom, wil Dawid die Here loof op sy tiensnarige harp, omdat God Hom telkens bewys as die een wat in konflik Self ingryp en klaarheid en oorwinning bring. Let op hoe Dawid aan dié loflied weereens die gebed koppel teen die vreemdelinge se onsin en bedrog, ‘n baie belangrike herhaling, wat die erns van die situasie waarin hy verkeer, beklemtoon.

Hoe gelukkig is die volk wat God se voorsienige seën beleef – vers 12-15

Dawid skets dan die voorsienige seën van die Here wat hulle almal se deel sal wees, as God hom bystaan in die oorlog. Hulle seuns sal nie in hulle jeug sneuwel nie, maar volgroeide plante word. Hulle dogters sal nie weggevoer word in slawerny nie, maar soos hoekpilare die familie se voortbestaan nie net bevestig nie, maar ook versier met hulle skoonheid: “uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.

Dit sal ook sorg dat die graanskure vol van kos kan word, en die weivelde vol vee, en die beeste vrugbaar en hulle gemeenskapslewe kan floreer: “met geen bres in ons mure nie, en geen gejammer op ons pleine nie.” Die dood sal nie meer die volk se bestaan kenmerk nie.

‘n Droom?! Moenie glo nie: “Hoe gelukkig is die volk wie se God die Here is!” Waar Hy hulle lei en hulle Hom volg, is dít hulle voorland – bevryding en seën!

Boodskap en betekenis

Dawid erken hier dat sy sukses en oorwinning afhanklik is van God self. God is die toevlug en beskerming. ‘n Mens kan op Hom vertrou te midde van die struwelinge van die lewe. Trouens, Hy is die Een wat ons ook leer hoe om “oorlog” te maak, dws om op te tree en betrokke te raak in die koninkryk van die hemele.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…