Skip to main content

Numeri 32

Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan

Teks en konteks

Waar die belange van vroue in Numeri 27 (en 36) ‘n aanpassing van die erfreg genoodsaak het, word op dieselfde soepele manier die versoek van die stamme Ruben en Gad gehanteer om aan die oostekant van die Jordaan in die Jaser- en Gileadstreke grondgebied te kry. Dit was goeie veewêreld en ‘n perfekte woonplek vir hulle weens die groot troppe vee wat hulle besit het. Dit was in elk geval gebied wat hulle van die Amoriete verower het ná dié hulle wederregtelik aangeval het (Num. 21).

Let op hoe vernuftig die leiers van Ruben en Gad die gesprek benader. Eerstens is hulle baie eerbiedig teenoor Moses in die teenwoordigheid van die hoëpriester Eleasar (wat natuurlik sy pa Aäron opgevolg het ná sy pa se dood – vgl Num 20) en die ander volksleiers: “As u dit goedvind …” Tweedens wys hulle daarop dat die gebied van die Amoriete deur die: “Here vir die volk Israel” verower is, wat hulle versoek in die oë van Moses moet legitimeer.

Moses reageer egter baie skerp daarop, want nie net sou dit beteken dat hulle nie in die oorspronklike beloofde land van Kanaän hulle grondgebied sou kry nie, hulle sou moontlik verlei kon word om nie die res van die volk te help om die land Kanaän te oorwin nie (vgl. Deut. 3:12-20 vir Moses se terugblik hierop).

Hy was bang dat hulle volksgenote ontmoedig kon word – letterlik: “julle dwarsboom die hart van die kinders van Israel” – soos dit te vore gebeur het met die 12 verkenners en dat die volk weer aan God ongehoorsaam sou kon word: “En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel. As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.

Die twee stamme is daarom in die derde plek duidelik daaroor dat hulle steeds aan die voorpunt sal trek van die Israeliete en nie sal rus tot: “elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.” Hulle is dus eerbiedig, baseer hulle versoek op God se werk, en verbind hulle onomwonde aan die Intog van Israel in die beloofde land. Hulle wou egter steeds oos van die Jordaan bly, as Moses dit sou toelaat.

Moses het ingestem op hulle eie voorwaardes, maar hulle herinner aan die gevolge van ongehoorsaamheid. Dit sou ‘n sonde nie net teen hulle volksgenote wees nie, maar teen die Here. Sou hulle aan Hom ongehoorsaam wees: “moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.”

Moses betrek ook vir Eleasar om die reëling vanuit die priesterlike teokrasie te bekragtig. Indien Gad en Ruben egter nie hulle kant van die ooreenkoms nakom nie, sou hulle ‘n deel van Kanaän moes kry.

In die uitdeel van hierdie grondgebied kom daar nóg ‘n stam by, die helfte van die stam Manasse wat amper verdubbel het in die omswerwinge in die woestyn. Hulle sou dus ook oos van die Jordaan bly, waarskynlik omdat afstammelinge van Makir, seun van Manasse, ‘n groot rol gespeel het in die verowering van Gilead. Dit is dan ook waar Selofgad se dogters hulle erfgrond gekry het, aangesien Selofgad ‘n agterkleinseun van Makir was.

Jaïr van Manasse, wat ook hier genoem word, speel later ‘n groot rol in die Rigterstyd (Rigt. 10; vgl. 1 Kron. 2:21-22).

Betekenis

Dit tref my met hoeveelheid volwassenheid die stamme dit begin regkry om met mekaar te werk. Die eerbied vir leierskap, die toe-eiening van die gawes van God, sowel as die verbintenis aan mekaar help hulle om ‘n wedersyds bevredigende ooreenkoms te bereik. Iets wat ons gerus in ons groei in geestelike volwassenheid in gemeentes in ag kan neem. Waar ons binne die ruimtes bly wat God aan ons gegee het, en mekaar volledig in ag neem, sal ons floreer.

Dit tref my ook hoe belangrik ‘n moedige hart is, ‘n hart wat nie gedwarsboom en ontmoedig word deur ‘n afwyking van ooreenkomste nie. Dit geld nie net individue nie, hoewel ‘n mens dit natuurlik baie keer prakties van enkelinge waarneem. Dit geld egter ook geloofsgemeenskappe. Waar ons dit regkry om ons aan ooreenkomste te hou, versterk ons mekaar, help ons mekaar om moed te hou en die pad te loop wat die Here vir ons beplan. Waar ons dit nie doen nie, dwarsboom ons nie net ander nie, maar ook onsself en skaad ons ons verhouding met God self.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.