Skip to main content

Efesiërs 6:10-24

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag

Paulus sluit sy brief af met ‘n fokus op wat ‘n mens krag gee in die publieke stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie van Jesus Christus. God is besig om sy een nuwe mensheid te vestig (hfst. 2) en deur die kerk uit te brei (hfst. 3-4) en wil deur die krag wat Hy gee, sorg dat die liggaam van Christus die oorwinning sal behaal in die stryd om geestelike lojaliteit in die lewe van mense.  Dit is ‘n geestelike stryd wat met die ideologieë en verstaansraamwerke van mense en sisteme te make het – polities, ekonomies, en kultureel – sowel as met die kosmiese magte wat daaragter sit.

Dit sluit aan by wat Paulus al vroeër gesê het en bou op die uitsprake van God wat krag gee. Ons het juis nodig dat ons oë oopgaan vir die groot krag wat God in ons ontketen het, soos Paulus al in Efesiërs 1:19 geskrywe het: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet … hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo”!

En die rede waarom dit belangrik is, is omdat dit net God se krag is wat ons in staat sal stel om op ons pos te kan bly en mee te werk aan die vestiging en uitbreiding van die evangelie!  Ons voer die stryd nie alleen nie.

Teks en konteks

Dit is interessant om te sien wat die dinge is waardeur ons die krag van God ervaar en toelaat in ons lewe.  Paulus noem sewe maniere, waarvan net een, die Woord, met ‘n aanvalswapen gekoppel word, die swaard:

  1. Waarheid – in die lig van Efesiërs 5:6-20 het dit te make met die vasstaan in die lig van die waarheid, teen die onwaarhede wat mense verkondig (Ef. 5:6) sowel as om die vrugtelose praktyke van die duisternis aan die kaak te stel (Ef. 5:11). In ons toewyding aan die waarheid, ervaar ons God se krag wat ons vol maak van Homself.  Die waarheid is soos ‘n gordel waarmee ‘n soldaat sy jurk opgebind het, sodat hy makliker kon beweeg.  Dit maak ons vry in ons binneste van verslawing en weerbaar teen versoeking in die publiek.
  2. Vryspraak (geregtigheid) – dit het te make met die feit dat in Christus ons in die regte verhouding met God gekom het, en dat ons nou vrye toegang tot die Vader het. In ons blydskap oor God wat ons aangeneem het, volledig uit genade, ervaar ons die krag om standvastig te bly in die wêreld.
  3. Getuienis – die bereidheid om die evangelie na mense te neem, is ‘n kragtige bevestiging van God se werk in jou eie lewe. Dit is soos die skoene aan die voete van die soldaat wat sorg dat hy oor ruwe terrein kan beweeg, met die getuienis van die goeie nuus van die evangelie vir alle mense.
  4. Geloof – die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen, is die enigste manier om die aanslag van die bose af te weer. Dit is soos ‘n skild wat jou beskerm teen die brandpyle van die vyand.  Let op dat daar nie ‘n pyl en boog in die hand van die gelowige is nie, net ‘n skild om weerbaar te wees.
  5. Verlossing (redding) – as vryspraak die objektiewe werk van Christus in ons lewe is om ons in die regte verhouding met God te bring, is verlossing die subjektiewe diep oortuiging in ons binneste dat God dit inderdaad goed bedoel met ons en ons vir Homself as kinders aangeneem het. Dié oortuiging funksioneer soos ‘n helm op ons kop wat die sentrum van ons lewe, ons brein, beskerm.
  6. God se Woord – die enigste aanvalswapen is die Woord van die Gees, soos Paulus dit stel. En let op dat die Heilige Gees en die Woord direk aan mekaar gekoppel word.  Die een kan nie sonder die ander nie – albei is nodig om regtig in God se wil vir jou lewe te kan wandel.
  7. Gebed – dit is die aspek waarop die meeste uitgebrei word. Let op dat gebed allesomvattend is – by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie.

Paulus gebruik ‘n oorlogsmetafoor wat hy uitspel in terme van ‘n wapenrusting, gordel, borsharnas, skoene, skild, en swaard.  Omdat dit ‘n geestelike stryd is wat met dié wapens gevoer word, is die term “geestelike oorlogvoering” gemunt, ongelukkig met ‘n inkleding wat min met die teks self te make het.

Kyk weer na die dinge wat Paulus uitlig, en jy sal sien dat sy opdrag nie direk met ‘n aanval op die bose magte te make het nie, inteendeel, eerder met ‘n fokus op drie aardse goed: 1) mense aan wie die evangelie verkondig moet word (vers 15), 2) mense vir wie gebid moet word (vers 18-19) en 3) jou persoonlike lewe, waarin jy vas moet staan in die waarheid, vryspraak, getuienis, geloof, verlossing, die Woord en gebed.  Nie een opdrag het met die kosmiese magte as sodanig te make nie.

Deur vas te staan in die waarheid en die geloof, deur te bid en te getuig word weliswaar die mag van die bose in mense se lewens gebreek – die mag van die politiek, ekonomie en kultuur – maar altyd met werklike mense in die oog.  Daarmee ontken ek nie die bestaan van die duiwel en bose magte nie, maar fokus op dít wat die teks van ons vra – en die teks vra nie ‘n direkte geveg met die Bose nie, maar ‘n betrokkenheid by werklike mense.  Selfs die engele skram van ‘n direkte geveg met die duiwel weg, sê Judas 8-11.  Hoe ons geestelike oorlogvoering dus die kosmiese magte raak, word nie dieper deur Paulus hier uitgespel nie.

Paulus sluit af met die enigste persoonlike woord aan hulle, oor Tigikus, die getroue dienaar, wat hulle persoonlik sal inlig oor Paulus se situasie, en waarskynlik ook vir hulle die brief sal bring (soos ook die ander gevangenskap briewe).

Boodskap en betekenis

Paulus roep die gemeente op om die geestelike stryd te sien as ’n werklike, maar mense-gefokusde stryd – nie ’n direkte konfrontasie met bose magte nie. Gelowiges se krag om standvastig te bly kom uit die Here alleen, en hierdie krag word ervaar deur die waarheid, vryspraak, getuienis, geloof, verlossing, die Woord en gebed te beoefen. Die wapenrusting is dus nie ’n mistieke oorlog teen die duiwel nie, maar ’n lewenswyse wat fokus op mense se redding en geestelike groei. Standvastigheid in Christus is self reeds ’n oorwinning.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.