Psalm 119:81-88
KAF – Op u woord wag ek sodat ek dit kan nakom
Die elfde deel van die Psalm fokus op die dilemma van gelowiges wat in ‘n situasie van vervolging wag op ‘n woord van die Here of die vervulling daarvan. Hy beskryf die inhoud van die verlange op verskillende wyses: ‘n woord van verlossing (119:81), ‘n woord van troos (119:82), ‘n woord van regstelling (119:84), ‘n woord van hulp (119:86 –“Help my!”), en ‘n woord van lewe (119:88).
‘n Mens kan sy verlange met een woord opsom: “Wanneer?!” Sy hele wese smag na die verlossende en vertroostende woord van die Here. “Hoeveel dae moet u dienskneg nog wag?” (BDV). Hy druk sy stryd uit met die ongelooflike sprekende metafoor van ‘n velsak in die rook. Dit het verskrompel van die lang blootstelling aan rook. Dit kan selfs wees dat hy hier eintlik van ‘n skoorsteen van dierevel praat wat amper onbruikbaar begin raak van al die blootstelling aan die rook en hitte van die vuur.
Tóg het hy die voorskrifte van die Here nie vergeet nie. Tóg het hy die Here se opdragte nie verontagsaam nie. Daarom het hy die vrymoedigheid om met verwagting die Here te smeek om uitkoms, want dit is uiteindelik al wat hy met sy lewe wil doen: om die getuienisse (‘edût – onderwysing in NAV; bepalings in BDV) uit God se mond na te kom.
Let op hoe sy verwagting en verlange na verlossing nie soseer gemik is op die een of ander voordeel wat hyself daaruit sal put nie, maar om in staat gestel te word om al meer te kan beantwoord aan sy lewensdoel, om absoluut nougeset te doen wat die Here hom wys.
Dit is na alles wat Psalm 119 in hoofsaak sê die doel van die lewe is: “Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here.” En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus wat hierdie ongelooflike ding gesê het van sy eie lewensbegeerte: “Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” (Joh. 5:19)
Hierdie gedeelte van die Psalm laat my diep dink oor my eie gehegtheid aan die woord van die Here. Nie net om my gedrag daardeur te laat bepaal in die algemeen nie (bv. die dubbele liefdesgebod, en die vrug van die Gees), maar om baie meer te fokus op die daaglikse woorde van die Here in my stiltetyd, en dit met alles in my na te kom.