Skip to main content

Job 3

Job vervloek sy geboortedag

In drie roerende gedeeltes begin Job om sy geboortedag te vervloek, soos Jeremia ook later sou doen (Jer. 20:14-18).  Job sou in die eerste plek verkies het om glad nie gebore te word, en dus nooit te bestaan het nie (3:1-10).  Hy sou andersins in die tweede plek verkies het om by geboorte te sterf, en nooit te gelewe het nie, uitgedruk met ‘n reeks van drie waaroms (3:11-19).  Of hy sou in die derde plek verkies het om eerder nou te sterf, as om verder te lewe, ook uitgedruk met ‘n reeks van drie waaroms (3:20-26 – die waaroms word veronderstel, hoewel dit eintlik net in vers 20 in die teks voorkom).

Hoewel Job dus nie direk die Here self vervloek nie – soos die Satan verkeerdelik voorspel het, en waartoe sy vrou hom aangemoedig het – veroordeel hy dit dat God hom in die lewe geroep het: “Waarom moes God dan die lewenslig gee aan ‘n man wat net swaar kry.” (3:20).

Dit is nie dat hy soseer God blameer vir sy lot nie.  Hy druk hier net die diepte van sy emosie uit.  Die lewe is vir hom geen plesier meer nie.  Waarom dan lewe?  Soos Clines (Word kommentaar) opmerk: “here we are invited to view the man Job in the violence of his grief.

Let egter ook op dat Job besef dat hy nie enige gesag het om dié vervloeking uit te voer nie.  Daar is geen outomatiese krag in sy woorde nie, behalwe maar net die magtelose smart oor sy lot.  ‘n Vloek het immers ‘n agent nodig om uitgevoer te word, net soos dit van ‘n seën waar is.  En dié agent is God.  Job kan dus maar net wens…

Job sou verkies om glad nie gebore te word nie – 3:1-10

Job sou verkies dat die dag waarop hy gebore is nooit aangebreek het nie, dat daar geen vreugde by sy ouers oor sy geboorte moes gewees het nie.  Dié dag moes donker gewees het.  In plaas daarvan dat daar lig moes wees soos by die eerste skeppingsdag, moes God eerder ‘n sluier daaroor getrek het met ‘n sonsverduistering.  Die dag, sy skeppingsdag, moes nooit gebeur het of bestaan het nie.  Dit moes vervloek gewees het.

Die oerdier, die Leviatan, moes dié dag vernietig het.  Die môrester, die een wat die dag aankondig, moes vergeefs op sy geboorte gewag het.  Job wou die smart van geboorte gespaar gebly het.  Daar moes nooit ‘n geboortedag of ‘n verjaarsdag gewees het nie.

Let solank egter hier op dat Job temas aanroer wat die Here ook in sy uiteindelike gesprek met Job sal aanraak in hfst. 38-42:6: sterre, donkerte, geboorte, lig asook die mitologiese Leviatan (3:8; vgl. in 40:20; 41:3 waar die woord vertaal word as krokodil maar wel met mitologiese trekke beskryf word).  Dit onderstreep dat die Here intens bewus is van wat in ons aangaan, en dat Hy die vermoë het om insig te bring, deur letterlik die woorde te gebruik waarmee ons met Hom in gesprek tree.

Job sou verkies om nooit te gelewe het nie – 3:11-19

Met drie waaroms druk Job op retoriese wyse sy smart oor die lewe uit.  Hy sou verkies het om nooit te gelewe het nie:

  • Waarom het hy nie by geboorte gesterf nie?
  • Waarom het sy ma hom nie laat sterf nie, maar hom op haar knieë geneem en gevoed? Hy sou dan rustig in die graf kon lê, onbewus van die pyn van hierdie lewe, en as’t ware soos konings of ryk mense die gelykstelling van die graf kon beleef.
  • Waarom was hy nie eerder ‘n misgeboorte wat sonder meer begrawe is nie? Dan sou hy rus van die kwaad van goddeloses kon hê in die plek waar klein en groot dieselfde rus ervaar en daar geen onderskeid is tussen slaaf en vryman nie.

Job sou verkies om eerder nou te sterf – 3:20-26

Met nog drie waaroms – hoewel die waarom eintlik net in vers 20 voorkom, word dit verder veronderstel – druk Job op retoriese wyse ook sy smart oor die voortsetting van sy lewe uit.  Hy sou verkies om eerder nou te sterf:

  • Waarom moes die Here die lewenslig gee aan ‘n man wat net swaar kry?
  • Waarom moes die Here die lewe gee aan ‘n man wat so bitter ly? Hy hunker tevergeefs na die dood.  Dit is vir hom soos ‘n verborge skat.  Hy sou maar te bly wees as hy die dood nou kon smaak.
  • Waarom moes die Here die lewenslig gee aan ‘n man wie se toekoms tot niet is? Daar is geen lig meer vir hom in die pad vorentoe nie, anders as wat Psalm 119:105 belowe.

Wat Job gevrees het, het gebeur: “Ek het geen rus en geen vrede nie, geen verposing nie, net angs.”  Sy goed en sy gesondheid is van hom weggeneem.  Waarom dan lewe?

Interessant is dat hy nie selfmoord oorweeg nie, hoewel dit nie onbekend in die Bybel is nie.  Vgl. Abimelek (Rigt. 9:54), Saul (1 Sam. 31:4-5), Agitofel (2 Sam. 17:23), Simri (1 Kon. 16:18), en Judas (Matt. 27:5).  In sy smart verlaat hy homself egter op ‘n manier nog steeds op die genade van die Here, al is dit dan hier om te wens dat sy lewe tot ‘n einde kan kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda