Skip to main content

Inleiding op die boek Ester

Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.).  Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Serubabbel van 539 v.C. af) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.).  Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Israel in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen.  Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het.  Só moontlik ook Nehemia en Ester.

Continue reading

Inleiding op Hooglied

Lied van liedere

Hooglied is ‘n digterlike perspektief op die liefdeskuns tussen ‘n man en vrou.  Dit werk met ‘n hele aantal liefdesgedigte wat verskillende kante van die liefde uitlig.  Dit is letterlik ‘n “Lied van liedere”, ‘n “Song of songs” (“Canticle of Canticles”) soos dit in Engels vertaal word.  Luther het dit Hooglied genoem.

Salomo

Hoewel die boek tradisioneel aan Salomo toegeskryf is, is daar baie min geleerdes wat dit vandag nog handhaaf.

  • Aan die een kant kom Salomo se naam 7 keer voor in die boek (1:1, 5; 3:7, 9, 11; 8:11, 12).  In hoofstuk 3:6-11 word ‘n beskrywing gegee wat met Salomo self geïdentifiseer kan word.  Die man verwys ook na homself as die koning (7:5).  Die vrou word ook in die gedigte as koningin beskryf (6:8-9).
  • Aan die ander kant kan die titel van die boek bv vertaal word as: “Die mooiste lied oor Salomo” (1:1).  Dit maak sin as ‘n mens in ag neem dat dit in 8:11-13 wil voorkom asof die man iemand anders as Salomo is.  Die verwysing na die man en vrou as koning en koningin kan daarby liefdesname wees wat hulle in die digterlike verwysings na mekaar gebruik.

Belangriker as die mening hieroor, is egter die deurlopende feit dat die vrou in haar gedigte duidelik kies vir persoonlike liefde, eerder as die gedeelde liefde van die harem, soos wat die geval met Salomo sou wees.  Dit maak dit onwaarskynlik dat die skrywer Salomo is.

Continue reading

Rut 1:1-5 – Inleiding

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie.

Dit is aan die een kant ’n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ’n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel weens weduweeskap.  Tydvak is êrens tussen 1200-1000 vC.

Maar aan die ander kant is dit ook ’n verhaal van getrouheid aan Jahwe in die tyd van die Rigters (1:1) toe baie aan Hom ontrou was.  Die verhaal kry uiteindelik ’n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat uit hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word (4:22).  Die grootste eer sou hulle egter eers meer as ’n millennium later te beurt val, deurdat Rut en Boas ingesluit word in die geslagsregister van die Seun van God, Jesus van Nasaret (Matt 1:5-6).

Die sentrale figuur is Naomi wat ervaar hoe haar lot van verlies in ’n vreemde land verander na volheid in haar tuisdorp, Bethlehem, die “huis van brood”.

Die storie word in vier hoofstukke of tonele vertel na die inleiding van 1:1-6.  Elke toneel begin met ’n vers wat die tema vir die gebeure in daardie toneel aangee, en sluit af met ’n vers waarin die volgende toneel se tema antisipeer word:

  • Toneel 1: Terugkeer na Bethlehem – 1:6 en 1:22 (die begin van die garsoes);
  • Toneel 2: Ontmoeting by die Oesland – 2:1 en 2:23 (nog by skoonma gewoon);
  • Toneel 3: Huweliksaanbod by die Dorsvloer – 3:1 en 3:18 (man sal nie rus voor die saak afgehandel is nie);
  • Toneel 4: Huwelik tussen Boas en Rut – 4:1 en 4:22 (voorvader van Dawid).

Die spanningslyn word briljant opgebou van 1) die  verlange wat Naomi ervaar na uitkoms in ’n vreemde land (hoofstuk 1) na 2) die hoop wat ontvlam dat daar vir hulle voorsiening gaan wees in haar tuisdorp (hoofstuk 2) na 3) die potensiaal wat in die ontmoeting met Boas vir haar en Rut opgesluit lê (hoofstuk 3) na 4) die  vervulling wat sy ervaar met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van ’n nageslag in Obed (hoofstuk 4).

Die verhaal is natuurlik ook ’n boodskap aan Israel in die Rigtertyd dat God ingryp in nood en vir dié wat in en op Hom vertrou uitkoms bring.  Dit wys ook dat die risiko wat Rut loop met die koms na ’n vreemde land, en wat Boas loop om as losser op te tree, oor en oor die moeite werd is wanneer op God vertrou word.  En laat ons nie dink dat die risiko klein was nie.  Orpa het nie kans gesien daarvoor nie; ook nie die losser wat nader familie as Boas was nie.  Maar daardeur het hulle ook uitgemis op God se voorsiening.

1:1-5

Lees vandag net 1:1-5 as inleiding op hierdie uitnemende verhaal, voor ons in die volgende 4 dae hoofstuk vir hoofstuk daardeur gaan werk.  ’n Paar opmerkings:

  • Die name van die karakters in die boek is nogal betekenisvol.  Ek wil nie te veel daarvan maak nie, omdat daar min getuienis is wat dié betekenisse bevestig, maar vir wat dit werd is:

o   Elimelek se naam beteken “my God is koning”.

o   Maglon se naam beteken moontlik “sieklik”.

o   Kiljon se naam beteken moontlik “wegkwyn”.

o   Orpa se naam kan met “weerbarstig” vertaal word.

o   Die naam Naomi beteken “lieflik”.

o   Rut se naam word verskillend verklaar: “verkwikking” of vriendin”.

o   Boas se naam beteken moontlik “vinnig”.

  • Moab is reg oos van die Dooie See en ’n meer vrugbare gebied.
  • Dit is ironies dat hulle aanvanklik broodsgebrek in Bethlehem, die “huis van brood” belewe, en tog juis daar weer die voorsiening van die Here geniet.
  • Deuteronomium 23:2-3 het ’n verbod geplaas op die toelating van Moabiete in die huis van die Here, selfs tot in die 10de nageslag.  Die boek Rut relativeer egter dié verbod, veral omdat die grootste “tempel”-digter, Dawid, Moabiete in sy geslagslyn sou hê.

Ekskursus oor vroue in die NT

Ek het sommer ’n paar vroue uit die Nuwe Testament gaan opdiep wat ’n spesifieke rol en funksie gehad het, en dit is baie interessante leesstof:

  • Dorkas was ’n dissipel (Hand 9:36 – die woorde “gelowige vrou” in die oorspronklike beteken letterlik  “dissipel”).
  • Prisca (Priscilla) was saam met haar man Akwila mede-werkers van Paulus (Hand 18:2) en het byvoorbeeld vir Apollos, die groot prediker in Korinte, onderrig.
  • Filippus se 4 dogters was profetesse (Hand 21:9).
  • Phoebe (Rom 16:1) was óf ’n diaken (soos die woord diakonos gewoonlik vertaal word, maar die manlik vorm van die woord maak dit minder waarskynlik) óf meer waarskynlik ’n “dienaar” (soos die NAV dit vertaal) wat waarskynlik ’n “dienaar van die Woord” kon beteken, dws ’n leraar, soos die term op Timoteus van toepassing gemaak word, wat verseker ’n leraar was (vgl 1 Tim 4:6 waar die woord “dienaar” gebruik word, en uitgespel word as ’n gawe wat Skrifvoorlesing, prediking en onderrig ingesluit het [1 Tim 4:13]).
  • Junia was ’n vroulike apostel.  Junia (in NAV weergegee met Junias) was heel waarskynlik ’n vrou (so bv. geargumenteer deur die gerespekteerde Nuwe Testamentikus Cranfield in die ICC reeks, sowel as Dunn in die Word reeks – ’n bietjie ingewikkelde redenasie: Die woord Junian in die Griekse teks van Romeine 16:7 is die [akkusatiewe] verbuiging van óf Junias [manlike naam] of Junia [vroulike naam]; aangesien die manlike verbuiging egter nêrens anders in die Griekse literatuur gebruik word nie, en die vroulike vorm meer as 250 keer [Lampe], is dit baie meer waarskynlik dat Paulus hier ’n vroulike verbuiging gebruik en hier dus na ’n vrou verwys).  Waarskynlik was Junia dus getroud met Andronikus.  Dit wil ook voorkom asof die twee, Andronikus en Junia, apostels was, want die frase in Romeine 16:7 “hoogaangeskrewe by die apostels” kan eintlik beter vertaal word: “hoogaangeskrewe onder die apostels”, soos dit trouens in die Ou Afrikaanse vertaling was en in die NIV vertaal word: “outstanding among the apostles” (vgl Dunn).  Hulle was dus van die apostels aan wie die Here verskyn het waarna Paulus in 1 Kor 15:5-9 verwys en eintlik van ’n hoër orde as Paulus self, ten minste soos hy dit beskrywe!

Lees ook wat NT Wright oor vroue in die bediening te sê het!

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda