Skip to main content

Inleiding op die boek Ester

Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.).  Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Serubabbel van 539 v.C. af) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.).  Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Israel in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen.  Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het.  Só moontlik ook Nehemia en Ester.

Continue reading

Inleiding op Hooglied

Lied van liedere

Hooglied is ‘n digterlike perspektief op die liefdeskuns tussen ‘n man en vrou.  Dit werk met ‘n hele aantal liefdesgedigte wat verskillende kante van die liefde uitlig.  Dit is letterlik ‘n “Lied van liedere”, ‘n “Song of songs” (“Canticle of Canticles”) soos dit in Engels vertaal word.  Luther het dit Hooglied genoem.

Salomo

Hoewel die boek tradisioneel aan Salomo toegeskryf is, is daar baie min geleerdes wat dit vandag nog handhaaf.

  • Aan die een kant kom Salomo se naam 7 keer voor in die boek (1:1, 5; 3:7, 9, 11; 8:11, 12).  In hoofstuk 3:6-11 word ‘n beskrywing gegee wat met Salomo self geïdentifiseer kan word.  Die man verwys ook na homself as die koning (7:5).  Die vrou word ook in die gedigte as koningin beskryf (6:8-9).
  • Aan die ander kant kan die titel van die boek bv vertaal word as: “Die mooiste lied oor Salomo” (1:1).  Dit maak sin as ‘n mens in ag neem dat dit in 8:11-13 wil voorkom asof die man iemand anders as Salomo is.  Die verwysing na die man en vrou as koning en koningin kan daarby liefdesname wees wat hulle in die digterlike verwysings na mekaar gebruik.

Belangriker as die mening hieroor, is egter die deurlopende feit dat die vrou in haar gedigte duidelik kies vir persoonlike liefde, eerder as die gedeelde liefde van die harem, soos wat die geval met Salomo sou wees.  Dit maak dit onwaarskynlik dat die skrywer Salomo is.

Continue reading

Rut 1:1-5 – Inleiding

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie.

Dit is aan die een kant ’n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ’n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel weens weduweeskap.  Tydvak is êrens tussen 1200-1000 vC.

Maar aan die ander kant is dit ook ’n verhaal van getrouheid aan Jahwe in die tyd van die Rigters (1:1) toe baie aan Hom ontrou was.  Die verhaal kry uiteindelik ’n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat uit hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word (4:22).  Die grootste eer sou hulle egter eers meer as ’n millennium later te beurt val, deurdat Rut en Boas ingesluit word in die geslagsregister van die Seun van God, Jesus van Nasaret (Matt 1:5-6).

Die sentrale figuur is Naomi wat ervaar hoe haar lot van verlies in ’n vreemde land verander na volheid in haar tuisdorp, Bethlehem, die “huis van brood”.

Die storie word in vier hoofstukke of tonele vertel na die inleiding van 1:1-6.  Elke toneel begin met ’n vers wat die tema vir die gebeure in daardie toneel aangee, en sluit af met ’n vers waarin die volgende toneel se tema antisipeer word:

  • Toneel 1: Terugkeer na Bethlehem – 1:6 en 1:22 (die begin van die garsoes);
  • Toneel 2: Ontmoeting by die Oesland – 2:1 en 2:23 (nog by skoonma gewoon);
  • Toneel 3: Huweliksaanbod by die Dorsvloer – 3:1 en 3:18 (man sal nie rus voor die saak afgehandel is nie);
  • Toneel 4: Huwelik tussen Boas en Rut – 4:1 en 4:22 (voorvader van Dawid).

Die spanningslyn word briljant opgebou van 1) die  verlange wat Naomi ervaar na uitkoms in ’n vreemde land (hoofstuk 1) na 2) die hoop wat ontvlam dat daar vir hulle voorsiening gaan wees in haar tuisdorp (hoofstuk 2) na 3) die potensiaal wat in die ontmoeting met Boas vir haar en Rut opgesluit lê (hoofstuk 3) na 4) die  vervulling wat sy ervaar met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van ’n nageslag in Obed (hoofstuk 4).

Die verhaal is natuurlik ook ’n boodskap aan Israel in die Rigtertyd dat God ingryp in nood en vir dié wat in en op Hom vertrou uitkoms bring.  Dit wys ook dat die risiko wat Rut loop met die koms na ’n vreemde land, en wat Boas loop om as losser op te tree, oor en oor die moeite werd is wanneer op God vertrou word.  En laat ons nie dink dat die risiko klein was nie.  Orpa het nie kans gesien daarvoor nie; ook nie die losser wat nader familie as Boas was nie.  Maar daardeur het hulle ook uitgemis op God se voorsiening.

1:1-5

Lees vandag net 1:1-5 as inleiding op hierdie uitnemende verhaal, voor ons in die volgende 4 dae hoofstuk vir hoofstuk daardeur gaan werk.  ’n Paar opmerkings:

  • Die name van die karakters in die boek is nogal betekenisvol.  Ek wil nie te veel daarvan maak nie, omdat daar min getuienis is wat dié betekenisse bevestig, maar vir wat dit werd is:

o   Elimelek se naam beteken “my God is koning”.

o   Maglon se naam beteken moontlik “sieklik”.

o   Kiljon se naam beteken moontlik “wegkwyn”.

o   Orpa se naam kan met “weerbarstig” vertaal word.

o   Die naam Naomi beteken “lieflik”.

o   Rut se naam word verskillend verklaar: “verkwikking” of vriendin”.

o   Boas se naam beteken moontlik “vinnig”.

  • Moab is reg oos van die Dooie See en ’n meer vrugbare gebied.
  • Dit is ironies dat hulle aanvanklik broodsgebrek in Bethlehem, die “huis van brood” belewe, en tog juis daar weer die voorsiening van die Here geniet.
  • Deuteronomium 23:2-3 het ’n verbod geplaas op die toelating van Moabiete in die huis van die Here, selfs tot in die 10de nageslag.  Die boek Rut relativeer egter dié verbod, veral omdat die grootste “tempel”-digter, Dawid, Moabiete in sy geslagslyn sou hê.

Onlangse kommentaar