Skip to main content

Rigters 4

Debora, die formidabele moeder in Israel

Teks en konteks

Hoewel Debora nie buite die boek Rigters vermeld word nie (wel Barak) is dit duidelik dat sy die eintlike een was wat die voortou geneem het in dié geskiedenis van Israel. Sy was ‘n gesogte profeet, gedugte regter, bobaas rigter en gesagvolle leier wat die titel: “moeder in Israel” heeltemal waardig was. ‘n Onkreukbare mens, as daar ooit een was.

Dit is hoe sy haarself beskryf in die loflied oor die oorwinning wat hulle behaal het: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.” (Rigt 5:7).

Die Israeliete verval in ongehoorsaamheid en die Here straf hulle met koning Jabin van Hasor

Die verhaal begin soos gewoonlik met die Israeliete wat doen wat verkeerd is in die oë van die Here en in ongehoorsaamheid verval. Ehud (en Samgar) se invloed het met sy dood getaan. Hierdie keer gee Hy hulle as straf oor in die hande van die koning Jabin van Hasor, ‘n stad so vyftien kilometer noord van die See van Galilea.

Ongeveer ‘n eeu te vore in die tyd van Josua het die toenmalige koning Jabin (dit is ‘n titel) van Hasor ’n noordelike koalisie met omringende inwoners teen die magte van Israel gevorm. Josua kon daarin slaag om die stad in te neem in die aanvanklike “platvee”-veldtog en sy koning oorwin (Jos 11:1–15).

Nou is die rolle omgekeer en word Israel deur ‘n nasaat, ook koning Jabin, oorheers, ‘n hele 20 jaar lank. Veral die hoof van Jabin se weermag het chaos in Israel gesaai met sy 900 ysterstrydwaens.

Israel is dus gekonfronteer met ‘n formidabele vyand. Dit was aan die begin van die Yster tydperk in die Midde-Ooste, wat beteken dat die Kanaäniete regtig tegnologies gevorderd was vir die tyd. Hulle kon wapens van yster maak, wat baie beter was as die brons waarvan Israel se wapens gemaak is. Met hulle skaarste aan goeie sterk wapens, laat staan nog ysterwaens, was Israel menslik gesproke nie opgewasse teen Sisera nie.

Dit het die Israeliete baie bang gemaak. Hulle het traag geraak om te reis. As hulle êrens gereis het, as hulle nie anders kon nie, het hulle ompaaie gebruik. Die lewe buite die stede van Israel het gekwyn en agteruitgegaan. Die boere het in sulke omstandighede swaar gekry en kon nie hulle lande bewerk soos hulle wou nie. Hulle het langs bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly (vgl Gideon in Rigt 6:2). Hulle het regtig wegkruip-lewens gelei.

Die Here luister na hulle geroep om hulp en gee vir hulle dié moeder in Israel: Debora

Daarom het hulle soos tevore tot die Here geroep om hulp. En vanweë God se voorsiening kon Hy hulle weer verlos, dié keer met ‘n besondere vrou, die moeder Debora.

Dit tref my hoe God selfs terwyl die verdrukking as strafmaatreël die lewe moeilik maak vir die volk, reeds ‘n plan gereed het om die volk te verlos. Sy oordeel sluit altyd sy verlossing in. Daarom dat ‘n mens so baie keer in die Bybel van oordeel as ‘n verlossende oordeel kan praat.

Debora was ‘n formidabele vrou. Haar naam beteken letterlik by (heuningby), en soos ‘n koninginby het sy alles beïnvloed rondom haar. Sy was die eerste werkende ma waarvan ons in die Bybel lees.

Sy was die vrou van Lappidot, maar terselfdertyd die bobaas rigter van die Israeliete. Sy was daarby ’n gesogte profetes wat altyd onder ‘n palmboom – wat uiteindelik na haar vernoem is, die “Deborapalm” – in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit het om die Israeliete se geskille by te lê. Sy was dus ook ‘n gedugte regter.

Sy word egter ook ‘n gesagvolle leier, want sy laat vir Barak uit Naftali roep en beveel hom – namens die Here! – om Sisera by die Kisonspruit naby die Taborberg tegemoet te trek met die stamme Naftali en Sebulon, die Jabiniete die stryd aan te sê, en hulle te verslaan (saam met Efraim, die halwe stam van Manasse in die land [Makir], Benjamin, en Issaskar, soos dit uit Rigters 5 blyk).

En Barak kom nie net na haar toe op haar bevel nie, maar vra haar om saam te trek, anders sal hy nie die moed hê om dié opdrag na te kom nie.

Die Israeliete behaal ‘n klinkende oorwinning oor Hasor

Daar in die “slag van Taänak”, tussen die Taborberg en die Kisonspruit, het Naftali en Sebulon (en die ander vier stamme) ‘n klinkende oorwinning oor Sisera en die Jabiniete van Hasor behaal. Die eer sou egter aan ‘n vrou behoort, soos sy hom ingelig het toe sy instem om saam te gaan.

Hierdie profesie het nie net op haarself as rigter gedui nie, maar ook letterlik op wie Sisera sou doodmaak. Dit is inderdaad ‘n vrou wat vir Sisera verslaan het, Jael, ‘n Keniet, nageslag van Moses se skoonpa (of swaer) Gobab, en daarom nageslag van Midian, Abraham se een seun by Ketura (Eks 2; Num 10).

Let op hoe Debora volledig staatmaak op wat die Here vir haar sê. Sy doen wat reg is in die oë van die Here, óók in die veldslag wat op sy terme gevoer word. Haar vertroue in God boesem dus vertroue in by die volk. Die Here se belofte van oorwinning gee Barak die moed om op te tree.

Maar let ook op dat dit die Here is wat vrees in die harte van Sisera en sy beter toegeruste mag inboesem, soveel só dat Sisera sy strydwa agterlaat en te voet voor die manne van Israel vlug.

Daar is egter meer. Uit die lied wat Debora en Barak sing (Rigt 5), wil dit voorkom of daar iets baie ongewoons gebeur het, iets wat hulle groot vrees verklaar. Miskien was daar ‘n geweldige wolkbreuk, óf ‘n aardbewing by die Kisonspruit, wat ‘n groot vloed veroorsaak het óf een of ander kosmiese gebeure. Nietemin, dit het die leër van Sisera onkant gevang, sodat hulle gevlug het.

Op sy halsoorkop vlugtog kan Sisera skaars sy “geluk” glo toe hy die tent van Jael, Geber die Keniet se vrou, sien. Geber se familie en koning Jabin, Sisera se koning, was ou vriende. Maar Sisera was salig onbewus daarvan dat Geber intussen weggetrek het van sy familie af … (4:11)

Jael is die vriendelikheid self, en volgens die gasvryheidsgebruike van daardie tyd, nooi sy die vreemdeling in haar tuiste in. Met haar uitnodiging bied sy aan hom ‘n veilige hawe. Wat meer is, sy versteek hom van die buitewêreld wanneer sy die tentdoek oor die opening laat sak …

Met die woorde wat ‘n moeder vir haar kind sou sê, troos sy hom: Moenie bang wees nie (4:18).  Dorstig ná sy vlugtog, vra Sisera water om te drink. Jael bied hom meer aan as wat hy vra. Sy gee vir hom dikmelk van haar bokke.  As ‘n mens tussen die lyne lees, wonder jy of hier nie dalk iets seksueels gesuggereer word nie. Die toe tentdeur, die feit dat Jael hom boonop agter ‘n gordyn wegsteek; dat hy water vra en moontlik dink hy gaan heelwat meer kry …?

Sisera – doodmoeg na die geveg en die vlug te voet, emosioneel afgetakel deur die skande van nederlaag – val in ‘n diep slaap. Dit is presies waarvoor Jael gewag het.  Sy tel ‘n tentpen en ‘n hamer op, en sy sluip suutjies na Sisera toe … Sy lig die hamer, en kap die tentpent dwarsdeur die slaap van sy kop met soveel krag dat sy sy kop in die grond vasslaan. En Sisera sterf in sy slaap …

Wat Jael se motivering was, weet ons nie. Bes moontlik was daar onmin tussen haar man en sy familie wat sy toe oorgedra het op hulle vriende: koning Jabin en sy generaal Sisera. Of miskien was sy lojaal teenoor Barak en sy manskappe. Dalk het sy vir Debora geken. Miskien het sy bedreig gevoel … wie sal weet?

Die hoogtepunt van die verhaal is wanneer Barak daar aangehardloop kom, steeds besig om na Sisera te soek. Jael, die onbekende vroutjie iewers in ‘n tent op die vlakte, kan na die “dapper” generaal toe gaan,  en ewe koel aankondig dat sy die man het wat hy soek! En toe Barak by die tent instap, sien hy Sisera daar dood lê met ‘n tentpen deur sy slaap.

Debora se woorde (4:9) was profeties. God het inderdaad vir Sisera in die hand van ‘n vrou gegee …

Boodskap en betekenis

Die Bybel beskryf karakter as ‘n manier van leef, ‘n pad wat jy loop, en die vrug wat jou lewe gevolglik dra.  En daar is baie beskrywings van karakter: bv.

  • eerbaarheid, d.w.s. mense wat hul beloftes nakom;
  • regverdigheid, d.w.s. mense wat reg oordeel, reg lewe en reg laat geskied aan ander;
  • integriteit, d.w.s. waar mense nie onregverdige voordeel uit hul posisie of vermoëns sal trek nie.

Karakter is dus ‘n morele begrip, waar jou lewenswyse gemeet kan word aan jou lewensbeginsels.

Die wonderlike is dat dit prakties geïllustreer word in die diverse stories van menslike karakters.  Hierdie karakters word in al hulle fasette geteken, die goeie en die slegte. Ons word telkens daarmee uitgenooi om in hulle voorbeeld ons eie pad, ons eie manier van leef te vind, ‘n lewe van karakter.

Soos met die verhaal van Debora. Sy was voorwaar ‘n formidabele vrou.

  • Sy was die leier van die volk.
  • As regter het sy geskille tussen die volk bygelê, daar waar sy onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-el gesit het. Die palm is inderdaad na haar vernoem, vanweë haar besondere regspraak.
  • As profeet het sy God se wil vir die volk uitgelê.
  • En in hierdie swaar tyd, wat twintig jaar lank geduur het, ‘n tyd waar vrees en wanhoop geheers het, tree sy na vore as “‘n moeder in Israel” (5:7), en lei hulle na rus en vrede. Met moederlike sorg hou sy die wag oor die volk, en sorg sy dat God se belofte van oorwinning waar word.

Haar naam beteken letterlik by (heuningby), en soos ‘n koninginby het sy alles beïnvloed rondom haar.  Sy was die eerste werkende ma – die vrou van Lappidot – waarvan ons in die Bybel lees.

Let net op hoe sy te werk gaan, waaruit ‘n mens die kaliber van hierdie vrou agterkom:

  • Haar vertroue in God het die mense om haar met geloof gevul. Sy het gewerk met die visie wat God haar gegee het dat dinge anders kon wees. En hierdie visie het lewenskrag ingeblaas in ‘n volk wat vasgevang was in ‘n wanhopige siklus.
  • Sy kon aanpas by ‘n weifelende Barak en hom die moed gee om ten spyte van sy vrees, die Israeliete in die oorlog te lei.
  • Sy kon strategies dink, onder leiding van die Here, deur die Kisonspruit te kies as die plek waar die geveg sou plaasvind. En so, sonder dat sy ‘n swaard optel, bewerk sy ‘n klinkende oorwinning vir Israel.

 

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…