Skip to main content

Esra 5:1-6:13

God ondersteun die leiers deur die profete Haggai en Sagaria

Hoofstuk 5 en 6:1-13 van Esra hervat die verhaal van die bou van die tempel in die konteks van verbete teenstand van die goewerneur van die Wes-Eufraat, Tattenai en sy bondgenote. Dit is net met:

  • die vasberade ondersteuning van twee Skrifprofete, Haggai en Sagaria,
  • die beskikking van God self om die leiers van Juda se hande te sterk en
  • die uiteindelike onomwonde steun van koning Darius van Persië (in 521 vC) wat die tempel voltooi kon word en met groot vreugde in 515 vC ingewy is.

Darius (522-486 vC) beveel selfs uiteindelik die teenstanders om sonder versuim en nougeset die tempelbou projek te ondersteun. Praat van ironie! Die voltooiing van die tempel loop uit op die vreugdevolle viering van die Paasfees, waarskynlik die eerste een ná die terugkeer uit ballingskap, waarvan ons lees nadat ons die profete Haggai en Sagaria behandel het.

Teks en konteks

Die bystand en ondersteuning van Haggai en Sagaria

Die werk aan die tempel in Jerusalem is weens die intimidasie en omkopery van die mense van die land vir ‘n baie lang tyd gestaak, amper 20 jaar, sodat die tempel bly lê het – met net die fondamente gegooi – tot in die tweede regeringsjaar van koning Darius.

In ’n kort mededeling word die werk van twee profete aan die einde van dié tyd erken, Haggai en Sagaria, wat die Jode van die stad Jerusalem sowel as in die platteland van Juda aangespreek het oor hulle gebrek aan durf en moed om die tempel bouwerk te voltooi, al was daar groot teenstand.

Die effek van dié twee profete op die leiers en die volk van Juda

Die 4 boodskappe van Haggai het die leiers van Juda geïnspireer om weer te begin bou aan die tempel. Dit het ’n effek gehad op die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua.

Die 8 visioene van Sagaria het hulle weer regdeur die tyd wat hulle gebou het aan die tempel ondersteun en bemoedig, deurdat hulle kennis geneem het van wat God hulle gee – passie en ontferming, beskerming, Sy teenwoordigheid, vergifnis en verantwoordelikheid, bemoediging en bemagtiging – en wat Hy hulle belowe – vervloeking van goddeloses, uitwissing van die sonde en ’n besit neem van die hele aarde. Laasgenoemde is uiteraard ook beloftes wat meer op die toekoms slaan.

Die bystand en ondersteuning van die twee profete was dus onontbeerlik vir hulle standvastigheid. Dink net daaraan dat jy in ’n kerk sit en dié twee profete as predikers het! Dit wys ook hoe profesie nie net – soos mense soms aanneem – met die toekoms te make het nie, maar veral met die verklaring van God se wil vir die hede. O, mag ons meer súlke profetiese prediking ervaar ook vir ons eie tyd!

Die teenstand van die Wes-Eufraatse goewerneur Tattenai

Soos dit maar altyd is, bly die teenkanting nie uit nie. Die Wes-Eufraatse goewerneur Tattenai en sy bondgenote verskerp die intimidasie deur nie net neerhalend van die tempel te praat as ’n timmerasie nie – en onthou, die Jode was maar al te bewus van die feit dat die tempel nie tot sy vorige glorieryke gestalte herstel sou kon word nie, daarvoor was hulle te arm – maar ook te kyk of hulle nie deur koning Darius ’n einde aan die bouery kan bring nie.

Maar die Here het die Joodse leiers versterk, met Haggai en Sagaria se persoonlike boodskappe aan Jesua en Serubbabel, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom ’n beslissing oor die saak ontvang is.

Vervolgens word die brief aan Darius redelik volledig aangehaal, waarin ook die Joodse aansprake aangehaal word, met verwysing na die ballingskap onder Nebukadnesar en die vrylating onder Kores. Tattenai wou die konkrete getuienis uit die koninklike argiewe bekom, voordat hy die Jode sou toelaat om die tempel te voltooi.

Darius se soektog in die argiewe in Babel het die nodige dokumente opgelewer wat sy voorganger Kores se bevel in verband met die bou van die tempel in Jerusalem uitgespel het. Die bedoeling met, die planne vir en die koste van die bouprojek is in geen onseker taal daarin uitgespel nie.

Darius het daarom vir die goewerneur van die Wes-Eufraat en sy bondgenote streng opdrag gegee in ’n brief van sy eie, dat hulle nie mag inmeng nie, maar alles in hulle vermoë moet doen om te help en die werk aan die tempel te ondersteun. Trouens die koste moet uit die belastings wat aan die Wes-Eufraat betaal word, kom.

Bykomend moet selfs genoeg voorsiening gemaak word vir die bring van die daaglikse offers sodat die doel met die terugkeer van die volk bereik kan word, gemeenskap met die God van die hemel.

Esra skryf daarom met blydskap dat die goewerneur gehoor gegee het aan die koninklike opdrag, maar vermeld weereens dat hulle vordering ook aan die optrede van die twee profete, Haggai en Sagaria, te danke was en daarom kon hulle die tempel klaarmaak soos die konings hulle beveel het.

Die vermelding van Artasasta in dié verband is moontlik omdat Esra aan sy latere hulp met die voltooiing van die stadsmure dink.

Boodskap en betekenis

‘n Mens leer by die profete Haggai en Sagaria dat die geloofsgemeenskap sowel teregwysing as bemoediging nodig het om hulle roeping as God se mense te kan vervul.

Daarom spreek Haggai bv – soos ons later in sy profesieë sal sien – die volk aan dat hulle op hulle eie huise fokus eerder as op die huis van die Here.

Maar, toe hulle positief daarop reageer, en dit in moeilike omstandighede met baie teenstand, het Haggai hulle bemoedig met beloftes van hoe die Gees hulle verder sal bemagtig.

Haggai bemoedig ook spesifiek die leiers met persoonlike boodskappe sodat hulle die volk kan begelei om die grootse projek om die tempel te kan voltooi, af te handel.

Ook Sagaria se profesieë het daarmee te make. Sy visioene skets God as die ontfermende Een, die Een wat hulle sal beskerm terwyl hulle gehoorsaam is aan sy opdrag aan hulle. Dié boodskap word ook aan die leiers gegee om hulle te help om standvastig te wees en sterk leiding te gee.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar