Skip to main content

2 Samuel 16

Gusai wen Absalom se vertroue om Dawid te beskerm

Met Dawid se vlug uit Jerusalem sien ‘n mens hoe almal kant kies in die groeiende konflik. Siba, Saul se dienskneg, ondersteun vir Dawid, maar met die oog op sy eie voordeel. Simeï, ‘n familielid van Saul, vervloek vir Dawid, en kies vir Absalom, ook waarskynlik tot sy eie voordeel, hoewel hy later tot inkeer kom. Gusai, Dawid se vriend, speel egter die belangrikste rol deur net oënskynlik Absalom se kant te kies. Absalom besluit om Gusai te vertrou, en sy woord saam met dié van Agitofel in berekening te bring. In die volgende hoofstuk sal Gusai hierdie vertroue tot Dawid se voordeel aanwend. Só het die Here Agitofel se goeie raad verydel.

Teks en konteks

Siba, Saul se dienskneg, is die eerste wat met Dawid se vlug naderkom met rygoed en eetgoed om Dawid te ondersteun, maar dit is duidelik met die oog op sy eie voordeel. Hy beswadder Mefiboset valslik van verraad en verkry só Mefiboset se eiendom weens Dawid se ondeurdagte reaksie sonder om hom van die feite te vergewis. Mefiboset kry dit later reg om Dawid van die teendeel te oortuig, maar Siba het die eiendom behou.

Die volgende persoon wat naderkom is egter Simeï, ‘n familielid van Saul, wat Dawid van ‘n kant af slegsê, waarskynlik om in Absalom se goeie boekies te kom. Let op hoe verdraagsaam Dawid teenoor Simeï se vervloeking optree met ‘n beroep op die Here se regverdigheid, moontlik ook omdat hy dit as deel van God se oordeel oor sy eie wandade sien (1 Sam 12:10-12). Hy maak staat op God se alsiendheid: “Miskien sien die Here my trane raak en laat die Here weer vir my die goeie terugkeer in die plek van Simeï se geskel op hierdie dag.” (vgl Ps 56:9: “hou my trane in u kruik”)

Hy sien die aanval op hom selfs oor as Simeï later om verskoning vra (hoofstuk 19), moontlik as deel van sy belofte om goedgesind te wees teenoor Saul se nageslag en ter wille van goeie verhoudinge met die Benjaminiete. Let op hoe Dawid vir Abisai keer om Simeï dood te maak, net soos hy doen toe dieselfde Abisai vir Saul wou doodmaak (1 Sam 26 – daar is talle raakpunte tussen dié twee verhale).

Die koning en al die mense by hom het so vinnig as wat hulle kan, getrek en uiteindelik uitgeput langs die pad asem geskep. Dit moes naby die Jordaan gewees het, hoewel die grondteks dit nie direk uitspel nie (vgl 2 Sam 17:22).

Die volgende persoon op die toneel, terug in Jerusalem, is Gusai, die vriend van Dawid, wat Absalom ontmoet toe dié saam met Agitofel Jerusalem binnery. Let ook op hoe slim Gusai optree. Hy verklaar dat hy “die een wat deur die Here, en hierdie manskappe en al die manne van Israel gekies is”, aanvaar en dié sal dien. Absalom betrek dit op homself, maar in sy arrogansie mis die feit dat Gusai van die Here se keuse praat…

Gusai gaan aanvanklik ook nie vir Agitofel, oupa van Batseba, teë nie, selfs al is dit verskriklike dinge wat Agifofel vir Absalom laat doen deur hom by Dawid se byvroue te laat slaap.

Om by Dawid se byvroue te slaap, was ‘n openlike bewys van die nuwe koningskap, en goeie raad van Agitofel. Dit druis egter teen die ou tradisies van Israel in, soos verskeie kere te vore uitgespel. Vergelyk Ruben se oortreding in Genesis 35:22 met Jakob se straf daarvoor in Geness 49:4; ook die verbod in Levitikus 18:8 en Deuteronomium 22:30.

Eers later (hoofstuk 17), wanneer Dawid se eie lewe deur agtervolging in die gedrang kom, sal Gusai sy mening begin gee om Agitofel se raad te verydel. En die Here sal dié raad gebruik om Agitofel se raad te fnuik.

Boodskap en betekenis

Dit bly vir my ‘n raaisel dat wat hier ‘n lofwaardige en navolgingswaardige optrede is deur Dawid teenoor Simeï, so omvergewerp kan word deur die laaste opdragte aan Salomo aan die einde van Dawid se lewe, waar Dawid onder andere vir Simeï laat boet vir sy wandade (1 Konings 2). Dit lyk asof Dawid uiteindelik tog toegegee het aan wraakgedagtes.

Maar, hoe ‘n mens nou ook al daaroor oordeel, dit bly iets wat my bybly om selfs in die sterkste aanval op jou eerder op die Here se reaksie en ingryp te vertrou as op jou eie.

Dit is ook ‘n riem onder die hart dat Gusai, die vriend van Dawid, eenvoudig op ‘n briljante manier deur die Here gebruik word om die raad van Agitofel te fnuik. Op dié manier word Dawid beskerm selfs al is dit ‘n uiters uitdagende tyd in sy koningskap.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…