Skip to main content

Psalm 80

Laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word

Psalm 80 is waarskynlik geskryf in die tyd tussen die Assiriese ballingskap in 722/1 vC en die beleëring van Jerusalem deur Sanherib in 701 vC. Die LXX, Griekse vertaling van die OT, voeg bv ‘n titel “’n Psalm aangaande die Assiriër” by, wat dié interpretasie versterk (Kidner). Dit pas dus goed in die tyd van Hiskia. Daarom hanteer ek dit hier, en nie as deel van die reeks van Asaf Psalms wat ek ná die tweede ballingskap sal hanteer nie.

Die Psalm verwys dus na die val van Samaria. Die gebedsrefrein: “Herstel ons…” (vers 4, 8, 20 – 2020-vertaling) openbaar hoe diep hierdie skokkende gebeure ook in Jerusalem gevoel is (geskep deur die Asafiete), want Israel was nou ‘n Assiriese provinsie vanwaar hulle aangeval kon word.

Teks en konteks

Hierdie Psalm is ryk aan metafore wat ons gebede ’n besondere krag kan gee. Dit praat oor God in terme van beide sy intieme persoonlike verhouding met sy mense, uitgedruk met die metafoor van die herder, sowel as sy kosmiese Heerskappy oor alles. Dit praat ook oor God se mense in terme van beide die historiese openbare status as God se volk, sowel as in terme van die intieme verhouding met Hom, uitgedruk met die metafoor van die wingerdstok.

Dit is dan ook die manier waarop die Psalm ingedeel is wat telkens afgesluit word met die gebed: “herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.” (vers 4, 8, 20):

  • ’n roerende pleidooi tot God as Herder om te luister (vers 2-8) en
  • ’n roerende pleidooi tot God as Almagtige om op te tree ter wille van sy volk, Sy wingerdstok (vers 9-20).

“Luister tog, Herder van Israel” – vers 2-8

Psalm 80 bevat twee titels van God wat ’n besondere krag gee aan die gebed om herstel: “Herder van Israel” (vers 2) en “Almagtige God” (4 keer in vers 5, 8, 15, 20 – “Heerser oor alle magte” vertaal die 2020-vertaling). Dit gee aan God se ingrype beide ’n persoonlike intieme karakter – Hy is in ’n noue verhouding met hulle – en ’n kosmiese openbare karakter – Hy is in beheer van alles en almal, selfs die gerubs (vers 2).

Die titel “Herder” word net nog twee ander kere in die OT direk vir God gebruik. In Psalm 23:1 druk Dawid sy persoonlike ervaring van God se sorg in sy lewe uit. In Genesis 48:15 druk Jakob ook sy persoonlike ervaring van God se sorg aan die einde van sy lewe daarmee uit.

Dit word egter ook ’n hele paar keer indirek op God van toepassing gemaak. In Psalm 28:9 gebruik die Psalmis dit as ’n metafoor: “wees vir hulle ’n herder”, vir die tipe sorg wat van God afgebid word. In Prediker 12:11 word wysheid met God as die “Een herder” verbind. In Jesaja 40:11 word die lotsverandering wat God bring ook met die herderbeeld uitgedruk: “Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.” Ook Esegiël werk uitvoerig met dié beeld van God as Herder en verbind dit aan God se omsien en redding van sy volk in ballingskap (34:12) wat hulle in veiligheid “rustig sal laat lê en herkou” (34:15) en reg sal laat geskied (34:16).

Hierdie titel vir God word uiteindelik ’n hele paar keer in die NT vir Jesus gebruik, waar Hy spesifiek die “Goeie Herder” (Joh. 10:11,14) en “Groot Herder” (Hebr. 13:20) genoem word (sien ook 1 Pet. 2:25; Openb. 7:17). Die belofte van verlossing word ook op besonder roerende manier aan God se oordeel op die “herder in sy diens” (Sag. 13:7) verbind, soos Jesus dit van sy eie naderende kruisdood van toepassing maak (Matt. 26:31 – vgl. Mark 14:27; Joh. 10:11 verwys ook daarna), een van die kragtige voorspellings in die OT wat in Jesus se kruisdood vervul is.

Netso benoem die Psalmis die volk van God met ’n aantal beskrywings wat God se verhouding met hulle in die verlede in die geskiedenis anker – nageslag van Josef, stamme Efraim, Benjamin en Manasse. Hulle wag op sy verlossing. Hoekom? Want ironies genoeg bewys God se straf dat Hy aan hulle verbind is. Dit bring die hoop dat God dan ook hulle lot kan verander. Dit is waarop die Psalmis vertrou.

Hoe lank sal U dan nog afsydig staan teenoor die gebed van u volk? “Herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.” (vers 8).

“Laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word” – vers 9-20

Die Psalmis maak sy appèl op God om herstel deur die pragtige metafoor van Israel as God se wingerdstok wat Hy uit Egipte gaan haal het om in Israel te kom plant, in te span. Dit is ’n metafoor wat gereeld in die profete van die OT gebruik is (Jes. 5:1-7; Jer. 2:21; 12:10; Eseg. 19:10-14; Hos. 10:1 – ook Jakob verwys na sy nageslag met dié metafoor in sy gebed in Gen. 49:22).

Die Here het tog self vir Israel ’n plek reggemaak, hy kon floreer in sy gebied en sy lote uitstoot tot aan die Eufraat. Maar nou is die mure om die land, by wyse van spreke, afgebreek en stroop al die verbygangers, wildevarke en gediertes uit die veld God se wingerd. Dit kan tog nie, God moet mos optree!

Hy span dus die beeld van Israel as wingerdstok in om die Here tot aksie te beweeg, om tog uit die hemel af te kyk (vers 15) en Hom oor Israel, oor sy wingerdstok, te ontferm en weer onder Sy sorg te neem. “Hou in stand wat U met u eie hand geplant het, die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het!” (vers 16).

Daarom bid Hy dat die Here Hom nie net oor die heelal sal bekommer nie, maar oor sy mense met wie Hy in ’n intieme verhouding is, Hom oor hulle sal ontferm en weer onder sy sorg sal neem. En hy vra dat die volke wat Israel vernietig het eerder tot niet sal gaan (vers 17). “Dán sal ons nie weer van U af wegdraai nie … dan sal ons u Naam aanroep!” (vers 19).

’n Subtiele boodskap is verskuil in vers 18 wat nie in die 1983 vertaling raakgesien kan word nie. Dit is dat die gebed van die metafoor van die wingerdstok skuif om oor ’n individu te praat wat die Here uitgekies het en God tot aksie in beweging moet bring. Die 2020-vertaling help ’n mens om dié subtiele boodskap raak te sien: “Hou tog u hand oor die man aan u regterkant, oor die mensekind wat U vir Uself grootgemaak het.”

Uiteraard bedoel dit hier nog in die eerste plek die volk Israel, maar in die lig van die NT gebeure kan ’n mens nie anders as om iets van die NT vervulling hierin raak te sien nie. Geen wonder dat dié metafoor in die NT nie op die volk van God van toepassing gemaak word nie, maar wel op Jesus, die Seun van God, wat die fundamentele verandering wat God in die nuwe bedeling teweegbring – deur self die basis van hulle gemeenskap te word in die God-mens Jesus – uitdruk (Joh. 15:1-8). Die NT dra dus die boodskap dat die hoop vir verandering nie in die herstel van die volk opgesluit lê nie, maar in die redding wat Jesus bring. Iets wat reeds in Psalm 80 op verskuilde manier teruggevind kan word.

Boodskap van die Psalm

Dié Psalm is regtig swanger van betekenis. God word op só ’n ryk en omvattende manier beskryf: as Herder en as Almagtige. Dit is die fundamentele basis vir ons gebed – dat God naby ons is en dat Hy oor alles is. Die volk word op net só ’n intieme en raak manier beskryf, as wingerdstok van die Here wat met sy eie hand geplant is en vir Homself gekweek is. Dit voeg nog ’n aspek by tot ons vertrekpunt in gebed, dat ons lewe van Hom afhanklik is en sy sorg ons enigste hoop is.

Laat dié drie aspekte jou gebedslewe verryk – God is Herder, naby, intiem betrokke; God is Almagtig, die Heerser, in staat om die onmoontlike moontlik te maak; Jy is in Christus Jesus God se wingerdstok, ’n loot aan die wingerdstok (Joh. 15) vir wie Hy op besondere maniere kan en wil sorg.

Bid dit vandag vir iemand spesifiek: “Herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda