Skip to main content

2 Konings 2

Met Elia se hemelvaart bevestig die Here Elisa se bediening met wonders

Met hierdie hoofstuk kom ons aan die einde van Elia se bediening met sy hemelvaart en word Elisa die een wat die vaandel vir die Here in Israel dra.

Teks en konteks

Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, anders juis as ’n toets aan Elisa of hy sy leier alleen sal laat of nie.

Die wonder by die Jordaan herinner ’n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses. Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later wanneer Elisa dit ook doen. Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie. Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen.

Elisa se versoek vir ’n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as hy te wees nie. Dit herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Hulle albei het besef, dit is die Here wat in beheer is, nie die profeet nie. Dit is waarom Elia vir Elisa sê, as jy my sien met die weggaan, sal jy die erfgenaam wees. Want, dit is net die Here wat Elisa se versoek kan waar maak.

Let op dat Elia in die stormwind weggeneem word, en nie in die wa en perde van vuur nie, soos dikwels verkeerdelik aangeneem word. Die versoek van die profete om Elia te gaan soek, hoewel vrugteloos, het te make met die gebruik van daardie tyd dat ’n lyk begrawe moet word.

Dit is wonderlik om te sien hoe die Here eenvoudig voortgaan om deur Elisa te werk, net soos Hy vroeër deur Elia gewerk het. Elisa se gesag as profeet word bevestig deur:

  • sy vermoë om die waters van die Jordaan te verdeel, soos ‘n Josua van ouds (2 Kon 2:13-14) en Moses voor hom by die Rietsee (Eks 14);
  • die reiniging met sout van die fontein buite Jerigo – die vloek oor Jerigo het ook die water besoedel (2 Kon 2:19-22) – ook soos Moses voor hom by Massa en Meriba. Let op dat die sout nie magiese krag het nie, maar dat dit die Here is wat die water bruikbaar maak.
  • die vervloeking van die spottende kinders wat Elisa se gesag as profeet aantas is ‘n duidelike boodskap aan die mense van Bet-El dat hulle met hulle Baäl-aanbidding moet ophou. Die straf van die kinders vir die aantasting van Elisa se gesag as profeet klink vir ons baie wreed. Hou egter in gedagte 1) dat dit die Here se eer is wat in gedrang is as ’n profeet geminag word en 2) dat dit in Bet-El gebeur waar sinkretisme beoefen is. Die tragiese verhaal is dus ’n harde woord aan ’n omgewing wat die Here nie wil dien nie en bevestig ook die gesag van Elisa.

Hierdie profetiese magsvertoon word dwarsdeur Elisa se bediening gesien:

  • Elisa het die weduwee van een van die profete gehelp om haar skuld te betaal met die wonderwerk van die olie (2 Kon 4:1-7);
  • Elisa het ‘n seun aan die onvrugbare Sunemmitiese vrou belowe en selfs die kind ná sy dood weer lewend gemaak (2 Kon 4:8-37);
  • Elisa het die effek van die giftige bitterappels wat deur een van die profete seuns gepluk is, opgehef (2 Kon 4:38-41);
  • Elisa het honderd man gevoed met twintig garsbrode en ‘n paar vars koringare, ‘n duidelike voorafskaduwing van die Here Jesus se broodvermeerdering (2 Kon 4:42-44);
  • Elisa het Naäman, die bevelvoerder van die Siriese magte, van melaatsheid genees (2 Kon 5:1-19) ook soos Jesus lank daarna sou doen;
  • Elisa het Gehasi met melaatsheid gestraf vir sy oneerlikheid en gierigheid (2 Kon 5:20-27) ook soos God vir Miriam in die woestyn gestraf het vir haar opstand teen sy gesag;
  • Elisa het ‘n verlore bylkop teruggekry deur dit op die water te laat dryf (2 Kon 6:1-7);
  • Elisa het ‘n Siriese mag verblind en hulle na Samaria gelei om hulle mag te breek (2 Kon 6:8-23); en
  • Elisa het ‘n dooie laat herleef toe dié met Elisa se bene in sy graf in aanraking gekom het (2 Kon 13:20-21).

Boodskap en betekenis

Die verhaal sê vir ons op ‘n onomwonde manier dat dit God is wat in beheer is en wonderlike dinge deur sy volgelinge se bediening doen. Die mantel van Elia wat nou oorgaan op Elisa is net ‘n simbool van Elisa se roeping as profeet. En wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom.

Wat wel interessant is, is dat Elisa ‘n baie meer charismatiese profeet was as Elia. Hy het tyd geneem om die regte atmosfeer te skep met snaarinstrumente sodat God sy woord aan hom kan gee (2 Kon 3:15).

Dit tref ‘n mens ook in Elisa se bediening hoe hy beide gewone mense as vernames bedien het: die arm vrou van ’n profeet wat hy van ‘n inkomste voorsien; die meer welvarende Sunemmitiese vrou vir wie hy help met ‘n kind; die arme profeteseun aan wie hy die verlore bylkop terugbesorg.

Maar, dan was Elisa net so gemaklik om vernames te bedien, soos die bevelvoerder Naäman wat hy van melaatsheid genees het, en die konings van Israel en Juda, en selfs van die Arameërs, wat hy met die woord van die Here bedien het. Soms met baie swaar woorde wat die Here hom gegee het om aan hulle oor te dra. In een geval het dit Elisa in trane laat uitbars.

Elisa se verhaal, en natuurlik ook Elia s’n daarvoor, gee vir ons ’n visie op ‘n God wat ’n mens met alles kan vertrou. Hy is nie net besorgd oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop.

Maar, dan is God ook in die groot dinge betrokke, hoewel ons dit soms moeilik raak sien, omdat dit slegs vir die geloofsoog sigbaar is.

Elisa ontvang egter die vermoë van God om die onsigbare nie net raak te kan sien nie, maar dit ook vir ander sigbaar te maak. Soos die keer wat Elisa vir Gehasi help om God raak te sien in die konflik met die Arameërs. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” En die Here het geantwoord en Gehasi se oë oopgemaak vir die berg rondom Elisa wat vol perde was, en strydwaens van vuur!

En dit was vir Elisa moontlik, want hy het naby hierdie God geleef, sodat mense later gedink het dat ook Elisa alomteenwoordig is, en selfs weet wat in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!

Elisa het egter ook die Here se barmhartigheid geken wat hy illustreer met die ete wat hy vir die Arameërs in Samaria laat voorsien het, eerder as dat hy Israel se koning toegelaat het om hulle dood te maak.

Elisa het egter ook sy kwota moeilike opdragte gehad.

Hy moes Gasael as koning van die Arameërs salf, eintlik in uitvoering van die opdrag van Elia, en vir Jehu as koning van Israel. Albei geweldenaars.

  • Toe Elisa die boodskap aan Gasael oordra dat hy koning sal word, het Elisa in trane uitgebars oor die wreedheid waarmee hy Israel sal straf.
  • Met die salwing van Jehu het Elisa nie eers self gegaan om hom te salf nie, maar een van sy profete gestuur. En vir die profeet wat hy gestuur het om Jehu te salf, aangesê om so vinnig as moontlik homself daarna uit die weg te maak, want Jehu was ‘n wrede man.

En al het Elisa dit als kon voorsien, het hy nogtans gedoen wat die Here van hom gevra het. Daarmee het Elisa geïllustreer dat die Here gehoorsaamheid vra, selfs al is dit hoe uitdagend. Ons is niks minder aan God verskuldig nie.

Op Elisa se sterfbed is daar ’n roerende ontmoeting met koning Joas van Samaria, waar Joas Elisa as die leier par excellence van Israel met trane geëer het: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde.” (2 Kon 13:14). Hy was soos ‘n een-man weermag van God vir Israel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.