Skip to main content

1 Korintiërs 11:2-34

Opdragte vir mans en vroue oor bid, profeteer en Nagmaal vier in die erediens

Paulus beweeg na sake wat met hulle byeenkomste te make het. Hy hanteer eers die wyse waarop mans en vroue moet bid of profeteer (1 Kor. 11:2-16). Dan gee hy voorskrifte oor die viering van die Nagmaal (1 Kor. 11:17-34). In hoofstuk 12-14 sal hy ook oor gawes binne die gemeente sowel as in die erediens uitwei waarvan die fokus op die liefde die sentrale boodskap is.

Teks en konteks

Mans en vroue moet op eerbiedige wyse bid en profeteer – 1 Korintiërs 11:2-16

Paulus begin om hulle te prys dat hulle vashou aan die tradisies wat hy aan hulle oorgelewer het. Hy verwys daarmee na die inhoud van die lering sowel as die opdragte vir hulle lewenswandel wat hy aan hulle oorgelewer het met sy bediening daar.

Hierdie brief wei nou verder uit daarop en gee onder andere hierdie opdrag wat gemik is op die wyse waarop hulle in die gemeente bid en profeteer. Mans, sê Paulus, moet dit met kort hare en sonder ‘n hoofbedekking doen. Vroue moet dit met lang hare en met ‘n hoofbedekking doen.

Anders kan dit as oneerbiedigheid teenoor die orde wat God neergelê het vir die uitoefening van gesag, gesien word. In Efesiërs 5 sal Paulus verder uitbrei oor die eerbied wat kinders van die Here aan mekaar binne hulle verhouding met Christus verskuldig is. Dit kom op ‘n besondere manier na vore in die eerbied wat ‘n vrou aan haar eie man bewys, asook die liefde wat hy weer aan sy eie vrou bewys.

Daardie eerbied, sê Paulus, moet ook in die erediens sigbaar wees: “ter wille van die engele” omdat hulle ook teenwoordig is in die erediens. Dit gee ook gestalte aan die wyse waarop God die mens geskep het: die vrou uit die man met die skepping, hoewel Paulus dié gedagte ook omdraai met die erkenning dat die man ook uit die vrou is met geboorte.

Hy som dit op met die belydenis: “alle dinge kom van God.”

Maar, nou is dit baie belangrik om raak te sien dat die manier waarop aan die opdrag uitvoering gegee moet word, op die kulturele gebruike van Paulus se tyd gebaseer is, die “natuurlike orde”. Mans het naamlik in daardie tyd gewoonlik kort hare gehad en vroue lang hare. Mans het weer nie gewoonlik ‘n hoofbedekking (hoed) gedra nie. Vroue, veral getroude vroue, het wel ‘n hoofbedekking (sluier) gedra, om hulle te onderskei van prostitute wat nie ‘n hoofbedekking gedra het nie.

Paulus werk dus hier met die algemene sosiale gebruike en pas die optrede in die gemeente rondom eerbied betoon daarby aan, sodat die gemeentelede nie die gevaar loop dat ongelowiges verkeerde afleidings maak dat die vroue losbandig is, en dat mans verwyfd voorkom nie.

Vroeër in die Griekse era het mans wel lang hare gedra, maar in die Romeinse era was kort hare die mode. Later sou bv. Joodse mans begin om ‘n hoed te dra wat tot vandag toe redelik algemeen is. Maar, dit was nog nie die geval in hierdie tyd nie.

Vandaar Paulus se tydgebonde relatiewe reëling rondom hare en hoofbedekkings vir gebed en profesie wat in ander kontekste weer by daardie mense se gebruike aangepas sou moes word.

Let op dat die eintlike boodskap van hierdie gedeelte dus is dat vroue saam met mans mag bid en profeteer in die gemeente! ’n Boodskap wat gemis word as ‘n mens op die relatiewe gebruik van die lengte van die hare en hoofbedekkings fokus.

Hoe om die Nagmaal te vier – 1 Korintiërs 11:18-34

Paulus brei sy voorskrifte vir die erediens uit na die wyse waarop die Nagmaal gevier moet word. Die verdelingslyne rondom leiers het ook na vore gekom in die wyse waarop hulle die Nagmaal gevier het. Paulus erken wel dat dit eintlik nie vermy kan word nie, want hulle optrede by die Nagmaal wys juis wie die beproefdes onder die gelowiges is.

Die situasie was dat sommige net hulle eie kos geëet sonder om te deel, terwyl ander honger gely het. Sommige was honger omdat hulle nie by die huis geëet het nie, en ander het niks gehad om te eet nie (waarskynlik slawe). Nog ander het weer te veel wyn gedrink en dronk geraak.

Paulus spreek hulle dus aan om eerder by die huis te eet, of dan te deel met ander, sodat hulle die fokus op die Here self en die gemeenskap met Hom en met mekaar kan plaas.

Dan gaan Paulus voort om met hulle die lering wat hy van die Here self ontvang het te deel, wat natuurlik ooreenkom met wat die Evangelies later sou vertel:

“Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.’ So ook met die beker ná die ete, met die woorde: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.’ Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom.”

Na Paulus hierdie lering gegee het, pas hy dit toe op ’n verdere ongepaste wyse om die Nagmaal te gebruik, naamlik om nie selfondersoek te doen nie. Daardeur drink en eet mense ’n oordeel oor hulleself wat letterlik ’n fisiese uitwerking op hulle het en sal hê.

’n Mens moet dit nou nie interpreteer asof net diegene dood is wat die Nagmaal verkeerd gebruik het nie, maar eerder dat daar in die algemeen meer siektes en dood by hulle teenwoordig was wat Paulus wyt aan die feit dat hulle nie as ’n gemeente genoegsaam bedagsaam voor die Here God lewe nie.

Boodskap en betekenis

Dit is regtig belangrik om Paulus se goedkeuring van mans en vroue se aktiewe deelname aan gebed en profesie met die nodige eerbied vir God en mekaar raak te sien. Dit is die absolute van hierdie teks wat ook vandag toegepas moet word.

Dit is egter net so belangrik om die kultuurgebonde aard van die riglyne rondom hare en hoofbedekkings raak te sien. Hierdie gebruike moet die aktiewe deelname ondersteun, maar nie aanstoot gee aan buitestanders nie.

Daarby moet almal van ons die Nagmaal met eerbied, selfondersoek en die bewussyn van die mense saam met ons vier.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar