Skip to main content

Rigters 1:1-2:5

Die geduld en genade van die Here met die verval en verydeling van hierdie tyd

Inleiding

Die skrywer(s) van Rigters is nie vir ons bekend nie. Die verhale is as deel van die Vroeë ProfeteJosua, Rigters, 1&2 Samuel, 1&2 Konings – versamel en waarskynlik voltooi deur ‘n redaksie proses óf net ná die tyd van die oorlog teen die Filistyne in ongeveer 1070 vC (1 Sam 4) óf net na die Assiriese ballingskap van die tien noordelike stamme in 722 vC (2 Kon 15:29). Dit lei ons af uit Rigters 18:30-31 waarin die verwysing na Silo ons aan die Filistynse oorlog in die 11de eeu vC laat dink en die verwysing na die ballingskap aan die wegvoering na Assirië in die 8ste eeu vC.

Dit kan ook wees dat hierdie ballingskap – die plek waarheen word nie in die teks gespesifiseer nie – eintlik na die verwoesting van Silo verwys, dws dat dit dieselfde gebeurtenis was soos dit moontlik uit ander verwysings in die Bybel daarheen afgelei kan word (Jer 7:12,14; 26:6; Ps 78:60). Die argeologiese getuienis dui ook in die rigting daarvan dat Silo in 1050 vC verwoes is wat beteken dat dit ‘n meer lokale wegvoering kon wees net ná die gebeure in 1 Samuel 4.

Hoe dit ook al sy, die boek is waarskynlik lank vóór die latere ballingskap na Babilon in die vroeg 6de eeu vC voltooi.

Die stryd om te oorleef tussen die nasies

Die boek handel oor die tyd na die aanvanklike inname van die land deur Josua. Die stryd om te oorleef in die land tussen die nasies wat steeds daar gebly het, is in volle swang. Die boek dek dus die verhaal van die wel en wee van die volk tussen ongeveer 1400 en 1050 vC. Dit lei ons af uit die verhaal van Jefta wat optree in ongeveer 1100 vC (ongeveer ‘n halwe eeu voor Saul se koningskap vanaf 1050 vC as ‘n mens Jefta se ses jaar by dié van Ibsan se sewe en die Filistynse oorheersing van 40 jaar in die tyd van Simson bymekaar tel tot en met Samuel se rigterstyd). Die Intog het volgens Jefta 300 jaar gelede gebeur (Rigt 11:26).

Dit is duidelik dat die tyd van die rigters ‘n tyd van groot afvalligheid en ongehoorsaamheid aan die Here was. Die volk het telkens weer afvallig geraak van die Here en die omringende nasies se afgode aanbid en by hulle onsedelikheid betrokke geraak. Presies dié dinge waarteen Josua, en voor hom Moses, hulle gewaarsku het.

Die leiers wat die Here gebruik het om van tyd tot tyd in te gryp, was egter nie van dieselfde statuur as ‘n Moses en ‘n Josua nie. Dit het beteken dat die verlossing wat die Here deur hulle bewerk het, meesal net vir ‘n tyd was, waarna die volk weer afvallig geraak het.

Waar Josua die land aanvanklik in ‘n groot “platvee”-veldtog aan Israel onderhorig gemaak het, was elke stam verantwoordelik daarvoor om in ‘n langdurige “skoonmaak”-veldtog die gebied wat aan hulle toegeken is, te verower.

Al die stamme het egter nie met ewe veel sukses hulle gebiede verower nie. Juda het wel die meeste sukses daarmee behaal, behalwe vir die gebied rondom Jerusalem. Maar die ander stamme was minder suksesvol. Die inname van en vestiging in Kanaän was daarom net nie omvattend genoeg nie. ‘n Groot aantal Kanaänitiese volkere het tussen die Israeliete bly voortbestaan. Dit het beteken dat daar telkens die versoeking was om deel te neem aan die heidense feeste, waarin veral die afgodery en onsedelikheid daarvan ‘n impak op die volk en hulle verhouding met die Here gehad het.

Een uitsondering was die Keniete wat waarskynlik saam met Israel getrek het en ‘n deel van die grondgebied van Juda gekry het. Hulle was familie van Israel via Jetro. Hy was ‘n afstammeling van Abraham se seun Midian by sy vrou Ketura. Moses was ook getroud met Jetro se dogter, Sippora, ‘n Kenitiese vrou. Daarom veg die Keniete saam met Israel in verskillende gevegte teen die Kanaäniete, soos die verhaal van Jael wat vir Sisera doodgemaak het, illustreer (Rigt 4).

Die siklus van verval, straf, roep na God en verlossing

Die verskillende verhale van dié Rigterstyd word kenmerkend in dieselfde patroon gegiet:

  1. VERVAL: Elke verhaal begin met die volk wat afvallig word.
  2. STRAF: Die Here straf die volk en gee hulle oor aan onderwerping en onderdrukking deur die omringende nasies.
  3. ROEP NA GOD: As die volk te swaar begin kry, kom hulle tot inkeer, en roep na die Here om uitkoms.
  4. VERLOS: Dan luister die Here, stuur ‘n leier om hulle uit hulle penarie te red en verlos hulle.

Net om daarna maar weer te sien dat die volk afvallig word, gestraf word, roep na die Here en uit genade verlos word. ‘n Konstante siklus van verval en verlossing.

Die leier wat die Here telkens gestuur het, was soms ‘n onbelangrike persoonGideon – óf ‘n onkonvensionele eenEhud en Jael was sluipmoordenaars, Jefta was ’n huursoldaat, óf ‘n persoon van twyfelagtige moraliteitSimson wat net nie vroue kon uitlos nie.

Aan die een kant wys dit iets van die beskikbare leierskap materiaal, maar aan die ander kant darem ook iets van die geduld en genade van die Here wat deur enigiemand sy verlossingswerk tot stand kan bring. Daar was darem ook die onkreukbare Debora!

Geeneen van hierdie leiers kon egter daarin slaag om Israel in ‘n standvastige lojale verhouding met die Here te plaas nie. Die boek eindig dus op ’n noot van wanhoop wanneer daar nie eers meer rigters in Israel te vinde is nie en elkeen begin doen het wat reg is in sy eie oë: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.(Rigt 21:25).

Die wanhoop waarmee die boek Rigters afsluit, het daarmee egter die tafel gedek vir die behoefte aan en verwagting vir ‘n koning wat met die verhale van die profeet en rigter Samuel en die salwing van die konings Saul en Dawid, in vervulling gaan.

Wie was die Rigters?

Die Hebreeuse woord vir rigter (šôp̄ēṭ) word as regter, regeerder of leier verklaar (so vind ons dit ook in die Mari-tablette en Ugaritiese tekste) wat jou ‘n oorhoofse idee gee van wat die rigters gedoen het. Hulle is almal deur die Here geroep om die volk as leiers te verlos. Hulle het baie keer regspraak beoefen (Debora). Hulle het soms as regeerders opgetree hoewel met wisselende sukses (Abimelek).

Weens die charismatiese kant van baie van die rigters kan hierdie tyd as ‘n tyd van helde beskryf word, wat die epiese aard van die verhale verklaar. Dit is egter duidelik dat elkeen van hierdie rigters hulle roeping van die Here as die eintlike Rigter (of Regter) ontvang het, soos Hy dit inderdaad genoem word in die boek (Rigt 11:27). Dit is hierdie Goddelike Rigter wat deur die menslike rigters sy beslissings uitgevoer het.

Die oorwegende indruk van die boek is dat elkeen doodgewoon gedoen het wat reg was in sy eie oë. Daar was nie ‘n wydverspreide gesonde geestelike omgewing nie. Daar was geen algemene gesonde gemeenskapslewe nie. Daar is gehuiwer op die rand van anargie in sy ergste vorm. Dié situasie is eers met die koms van die priester-profeet-rigter Samuel (1 Samuel) in die regte rigting gestuur met veral koning Dawid (2 Samuel) en koning Salomo met die bou van die tempel (1 Konings) wat ‘n stuk stabiliteit en voorspoed gebring het, hoewel selfs dit op die lang termyn uiteindelik ook nie genoeg was nie, en die volk in ballingskap gevoer is (2 Konings). ‘n Tragiese geskiedenis.

Teks en konteks

Die eerste deel van die boek sit die siklus van verval, straf, roep na God, en verlossing op die tafel – Rigters 1:1-3:6. Dit bestaan uit twee dele:

  1. die verloop van die verowering van die land in die suide en noorde van die land en
  2. ‘n samevatting van die patroon wat in die res van die boek gevolg sal word: afvalligheid, straf, roep na God, verlossing deur ‘n rigter.

Die Here se geduld en genade skyn soos ‘n helder lig in die onderskeie verhale van die boek Rigters deur. Ten spyte van die verval en verydeling en dreigende anargie waarvan ‘n mens die hele tyd ook bewus bly, skryf die Here nie die volk in hulle gebrekkige gehoorsaamheid af nie.

Dit beteken aan die een kant dat die verhale tot ons troos dien, omdat ongeloof en ongehoorsaamheid nooit die laaste sê kan hê oor dié mense wat die Here uitgekies het om hulle God te wees nie.

Dit beteken aan die ander kant dat die verhale ons ook tot stilstand wil ruk, omdat ongeloof en ongehoorsaamheid gevolge het wat nie net persoonlike afvalligheid insluit nie, maar ook die dreigende anargie in ‘n samelewing. Waar God se mense nie vir Hom bo alles dien nie, raak dit alles rondom hulle.

Die hoop in die boek lê in God se Gees wat telkens vaardig raak oor ‘n rigter wat in die krag van die Here optree om die volk te verlos. Ons lees dit eksplisiet van Otniël (Rigt 3:10), Gideon (Rigt 6:34 – agv die Gees se werk kan hy direk met God praat en van hom leiding vra met die vlieswol), Jefta (Rigt 11:29), en talle kere van Simson (Rigt 13:25; 14:6,19; 15:14).

So ook in die Engel van die Here ten spyte van sy optrede weens hulle afvalligheid (2:1-5). Hy verskyn aan Gideon en bemoedig en stuur hom (Rigt 6:11). Hy verskyn aan Manoag se vrou om haar van haar komende swangerskap met Simson in te lig, en uiteindelik ook aan Manoag toe hy nie sy vrou se woord wou aanvaar nie (Rigt 13:3,9).

Maar, dit wys ook die gebreke van dié bedeling uit, want dit het nie die hele gemeenskap van gelowiges verander nie. Dit het nie eers die rigters se lewens totaal verander nie. Trouens, die hele volk ly duidelik aan ‘n gebrek van die belewing van die teenwoordigheid van die Here. Hoe anders was dit nie in die woestyn verhale en aanvanklik met Josua se verowering nie!

Terwyl die volk saam was, in die laer sowel as in die oorlog, was daar ‘n gedeelde ervaring van God se teenwoordigheid en begeleiding. Nou by hulle huise waar elkeen sy eie pot aan die kook moes hou, en hulle hulle eie verbintenis aan die Here in stand moes hou, het hulle gesukkel om getrou en gehoorsaam te bly.

Israel het daarom in hierdie tyd gedreig om in chaos te verval, om net soos die omringende volke te word in hulle afgodery en onsedelikheid, omdat die noodsaaklike fokus op die teenwoordigheid van die Here in alles wat hulle doen, nagelaat is. Soveel so dat die Here amper so ver gaan om hulle heeltemal op te gee, gesimboliseer met die skuif van Gilgal na Bokim …

Die “skoonmaak”-veldtog van Juda begin – Rigters 1:1-21

Die “skoonmaak”-veldtog in die suide begin belowend na Josua se afsterwe met die Israeliete wat die Here getrou raadpleeg oor hoe hulle verder te werk moet gaan. Die Here beveel Juda om daarmee te begin. Simeon, wie se gebied deur Juda se grondgebied omring word, snoer hulle kragte met Juda s’n saam, sowel as die Keniete.

Die Here het hulle laat slaag in hulle veldtog. Tot die gevreesde Adoni-Besek – wat erken dat dit die Here is wat hom straf vir sy gruweldade – word verslaan. Dit wil voorkom asof Juda met dié veldtog Jerusalem ingeneem en verwoes het (dit was eintlik in die gebied van Benjamin), maar dit het nie vir altyd gehou nie.

Daarom vertel die skrywer vir ons dat die Jebusiete nog ‘n geruime tyd land daar saam met die Benjaminiete gebly het. Eers in die tyd van Juda is Jerusalem finaal ingeneem en het dit in Israelitiese besit gekom.

Daar was groot welslae oor hulle hele gebied – die Bergland, die Suidland, die Laeveld sowel as in Hebron teen die reuse Sesai, Agiman en Talmai. Die kosbare verhaal van die dogter van Kaleb, Aksa, en die held Otniël (waarskynlik ‘n familielid van Kaleb, óf ‘n jonger broer, óf ‘n nefie) – wat genoeg water beding vir hulle grond – word weer vertel, soos ons dit al in Josua 15 aangetref het.

Die verhaal van Otniël sal in Rigters 3 verder geneem word, want hy tree ook as die eerste rigter op in hierdie tyd (vgl sy geslagsregister in 1 Kron 4:13).

Die boek is duidelik daaroor dat die Here by die stam Juda was, hoewel hulle ook hulle uitdagings gehad het. Die mense van die Vlakte kon nie verower word nie. Die stede Gasa, Askelon en Ekron het dus in Filistynse hande gebly, ‘n bron van groot irritasie totdat Dawid hulle beslissend verslaan het.

Die “skoonmaak”-veldtog van die Josefstam – Rigters 1:22-29

Die “skoonmaak”-veldtog in die noorde begin ook belowend met die hele Josefstam wat na Bet-El toe opruk steeds onder die bevel van die Here wat by hulle was. Hulle verkry toegang tot Bet-El deur iemand wat hulle oorreed – amper soos met Ragab vroeër by Jerigo – om vir hulle toegang te verleen tot die stad. Gevolglik verower hulle die stad, maar spaar die man en sy mense. Hy het egter nie by Israel aangesluit soos Ragab hulle nie, maar deel van die Hetiete geword.

Die Manasse gedeelte van die stam het egter swaar getrek met hulle veldtog en kon net daarin slaag om die Kanaäniete dwangarbeid te laat doen. Hulle kon nie die stede in neem nie. Dieselfde het die Efraim gedeelte van die stam gegeld met die Kanaäniete wat in Geser gewoon het.

Die energie en effektiwiteit van hulle veldtog het dus algaande afgeneem. Hulle het al hoe minder sukses behaal, waarskynlik omdat dit so uitgerek en moeisaam was. ‘n Gees van mismoedigheid oor die volhoubaarheid van hulle veldtog en ‘n gelatenheid oor wat reeds bereik is, het waarskynlik oor hulle vaardig geraak. Dit het die hele volk se volharding beïnvloed.

Die “skoonmaak”-veldtog van die ander stamme – Rigters 1:30-36

Die veldtog in die middel van die land het gevolglik ernstig in gebreke gebly. Sebulon het gefaal. Aser het gefaal. So ook Naftali.

Dan is in die berge ingedryf, soveel só dat ons hulle in Rigters 18 aantref as steeds op soek na ‘n vastrapplek in die land. Selfs Simson se heldedade as deel van die stam Dan bring nie daarin ‘n verandering nie. Dit wil voorkom asof die Josefstam hulle uiteindelik daarmee gehelp het, deur die Amoriete te verslaan wat hulle ‘n gaping later gee vir hulle eie vestiging.

Oor die ander stamme – Benjamin (miskien het hulle saam met Juda geveg, maar dit staan nie in die teks nie, en was in terme van Jerusalem duidelik oneffektief) en Issaskar – word daar nie eers geskryf nie …

‘n Klein ligpunt vir dié droewige verhaal kom uit die getuienis van Aser in die latere geskiedenis van Israel. Waar die mense van Aser hier nie hulle taak om die Kanaäniete te verdryf, uitgevoer het nie, is dit darem ook juis mense van hierdie stam wat ná die ballingskap by Juda aansluit vir die Paasfees (2 Kron 30:10-11). Daar was ‘n oorblyfsel in die stam van Aser, soos dit telkens in die geskiedenis van Israel was, ‘n klein groepie wat getrou gebly het.

En in die NT is dit Anna van die stam van Aser wat in die tempel haar verheug oor die Jesuskind. Sy verteenwoordig daarom in Lukas se navorsing oor Jesus ‘n lid van die noordelike stamme wat getrou gebly het en die voorreg kry om die vervulling van die Messiaanse droom te ervaar (Luk 2:36). ‘n Skrale troos, maar ‘n belangrike een.

Die Engel van die Here staak sy hulp weens hulle ongehoorsaamheid – Rigters 2:1-5

Die gedeelte sluit met die ontstellende onttrekking van die ondersteuning van die Engel van die Here aan die volk. Die Here, want dit is wie die Engel verteenwoordig, het besluit dat hulle ongehoorsaamheid sy loop moet neem. Die nasies en hulle gode sal vir hulle ‘n valstrik word, ‘n uitdaging wat hulle net die hoof sal kan bied waar hulle tot inkeer kom en die Here bó alles sal begin dien.

Simbolies demonstreer die Engel van die Here dit deur van Gilgal – waar die hele Intog en Vestiging begin het, en waar die besnydenis en eerste Paasfees in die land gehou is (vgl Josua 5) – na Bokim (óf by Bet-El of by Silo) te gaan. Die hoop het in ‘n diep hartseer verander:

  • Gilgal beteken “weggerol” met die betekenis dat die smaad van Egipte van hulle af weggeneem is. Hulle het ‘n nuwe bestaan by die Here gekry, soos die besnydenis en die Paasfees bevestig het. Gilgal was die baken van hoop dat die belofte in vervulling sou gaan.
  • Bokim daarenteen beteken “huil” met die betekenis dat hierdie bestaan in die teenwoordigheid van die Here nou ‘n hartseer uiteinde gehad het weens die ongehoorsaamheid van die volk om die belofte van die Here in besit te neem. Dit is dus nie net die Here wat hartseer is oor hierdie uitkoms nie. Hulle ongehoorsaamheid het ‘n hartseer bestaan vir die volk ingelei. Bokim was die baken van wanhoop dat die belofte in gedrang gekom het.

Gelukkig is dit nie al wat hierdie Engel doen nie …

Boodskap en betekenis

Hierdie tragiese geskiedenis word in Psalm 106:34-46 gebruik as enersyds ‘n teregwysing van die volk in ballingskap, waarskynlik in die 6de eeu vC, om nie in dieselfde slaggate te trap as hulle voorouers nie. Dit word andersyds ook as ‘n aanmoediging gebruik om in hulle predikament staat te maak op die Here se genade en geduld wat hulle kan red, soos Hy dit telkens deur die rigters gedoen het.

Daarom kan die Psalmis die gemeente oproep: “Red ons, Here ons God, maak ons bymekaar tussen die volke uit, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug. Aan die Here die God van Israel kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Die hele volk moet sê: “Amen! Prys die Here!” (Ps 106:47-48 –Dawid het dié verse ook gebruik in ‘n ander konteks met die ontvangs van die ark in Jerusalem: 1 Kron 16).

God se troue liefde is regtig vir ewig. Dit sien ons ook in hierdie verhaal van die opstaan en val, opstaan en val van die volk van Israel. Telkens red die Here hulle weer. Hoekom? Want Hy is fundamenteel goed. En Hy wys dit deur sy troue liefde.

God se troue liefde is daarom die basis vir ons eie vertroue op God. So leer ons alreeds in die OT. In sy troue liefde sien ons God se goedheid en motiveer dit ons om ten spyte van watter situasie ons ons ook al in mag bevind, ons Hom om uitkoms kan nader.

Dit is die diep boodskap van die evangelie soos die Reformasie dit onder andere geformuleer het: uit genade alleen (Sola Gratia). Daarby kom natuurlik ook die ander solas: deur geloof alleen (Sola Fide), deur die Skrif alleen (Sola Scriptura), deur Christus alleen (Solus Christus), en aan God alleen al die eer (Soli Deo Gloria).

Maar in hierdie Psalm staan die genade voorop, God se guns ten spyte van sonde en opstand. Dit is op God se genade wat ons onsself kan verlaat, dié Een wat ewig is en goed, en dit wys in sy troue liefde.

“U het ons verlos, Here ons God. Prys die Here!”

Dit is waarom die oordeel van die NT oor die Rigterstyd ook nie so negatief is as wat ons miskien sou verwag nie. Ja, die anargie, veral dit wat in die laaste vier hoofstukke beskryf word, was verskriklik. Maar dit is nie al waarvan die boek ons vertel nie. En die NT is nie blind daarvoor nie.

Stefanus verwys alreeds kursories na die Here se hand in die Vestiging in die land, sonder om die rigters by name te noem (Hand 7:45).

Paulus verwys op sy eerste sendingreis ook met groot lof na alles wat God in dié tyd gedoen het in sy toespraak in Antiogië in Pisidië (Turkye). Die Here het die volk reeds in die woestyn geduldig verdra, sê Paulus, en daarna die sewe nasies in die land Kanaän uitgewis om hulle land aan die Israeliete te gee. Dit is onder sy leiding wat die rigters oor die land geregeer het tot met die tyd van die konings (Hand 13:19-20 – die 450 jaar waarna hy verwys, is waarskynlik die 400 jaar in Egipte, die 40 jaar in die woestyn en ‘n 10 jaar vir die aanvanklike Intog se oorloë, waarna die rigters opgetree het).

Maar dit is veral die Hebreërskrywer wat vol lof is ook vir die rigters self. As hy terugdink aan die Rigterstyd dan sluit hy vyf van die rigters in as geloofshelde: “En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon (Jerubbaäl), Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete.” (Hebr 11:32). Hulle word in dieselfde asem as koning Dawid en die profete genoem. Trouens, nie een van die profete se name word genoem nie, net dié van die rigters.

Die skrywer lys van die dinge wat hierdie rigters onder andere gedoen het wat hulle laat kwalifiseer vir die galery van geloofshelde: “Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word. Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.” (Hebr 11:33-38).

Die beste perspektief hou die Hebreërskrywer egter vir laaste, en dit is dat baie van dié geloofshelde nie gekry het wat beloof is nie, al het hulle met hulle hele wese uitgesien daarna, omdat God nie wou hê dat hulle die voleinding bereik sonder ons nie: “En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.” (Hebr 11:39-40).

Voordat ons dus ‘n te onbarmhartige oordeel oor die rigters fel en oor die tyd waarin hulle opgetree het, dink daaraan dat dit deel van God se beplanning was ter wille van ons. As hulle die voleinding sou bereik het in hulle eie tyd, sou ons miskien nooit die lig gesien het nie.

Maar, dit beteken ook dat ons die oproep in Hebreërs 12 moet hoor dat ons die laste moet afgooi en die sonde wat ons so maklik verstrik en ons geloofswedloop hardloop met die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinding van die geloof.

Ons moet immers die geduld wat ons Here met ons het, beskou as geleentheid om gered te word, soos Petrus ons herinner (2 Pet 3:15). En al die verhale van die rigters, hoe gebrekkig hulle ook al opgetree het, is vir ons ‘n aansporing en bemoediging in die geloof, omdat ons in hulle God se geduld en genade aan die werk sien.

Anders loop ons ook die gevaar van anargie in ons eie geestelike lewe, waar elkeen doodgewoon doen wat reg is in sy eie oë.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…