Skip to main content

Skakel in by Veritas!

Ek het ‘n navraag gekry oor die Veritas opleiding en deel graag meer inligting, want ek kan aan geen beter beskikbare opleiding vir dissipelskap en die bediening van lidmate en leraars dink nie. Die verdere voordeel is ook dat jy al hoe dieper kan gaan met die materiaal en kan vorder van die sertifikaat en diploma opleiding tot by ‘n geakkrediteerde meesters- of doktorsgraad! Alles met dieselfde uitgangspunte en metodiek. Daar is selfs ‘n roete vir iemand sonder matriek om hierdeur professioneel opgelei te word vir die bediening!

In kort, hoe dit werk:

Die Veritas opleiding fokus op Geïntegreerde Leierskapsontwikkling deur drie prosesse:
  1. Interpretasie van die Bybel op ‘n praktiese en verantwoordelike wyse
  2. Toepassing van die absolutes van die Bybel op ‘n spesifieke konteks
  3. Kommunikasie van die absolutes in die spesifieke konteks

Dit bevorder dus ‘n proses van teologie-in-konteks wat gelowiges en kerke na volwassenheid lei en transformasie van individue, gesinne en die gemeenskap in die breë bevorder.

In die grondvlakfase is daar vier modules wat deur fasiliteerders regdeur Suid-Afrika (en in 44 ander lande) aangebied word:
  1. Module 1: Uitleg en vermaning (Paulus se briewe) met ‘n fokus op Christenskap, geestelike volwassenheid, oorwinning oor versoeking en sonde, leierskapsontwikkeling, hoe om ‘n Bybelse teologie te beoefen en hermeneutiek te doen en dit prakties toe te pas om ‘n Bybelstudiegroep te lei en hoe om te preek.
  2. Module 2: Verhale (Pentateug en OT historiese boeke) met ‘n fokus op etiese besluitneming, kinderbediening, rolle van eggenote, huweliksgetrouheid, en ouerskap.
  3. Module 3: Poësie (Psalms, Wysheidsliteratuur en Profete) met ‘n fokus op pastorale sorg en profetiese betrokkenheid in die samelewing vandag.
  4. Module 4: Sinoptiese Evangelies, Johannes, Handelinge en Openbaring met ‘n fokus op barmhartigheid, finansies, selfverloëning en die ontwikkeling van ‘n strategie vir die kerklike lewe.

Die opleiding kan in-persoon of per zoom gebeur. Die koste is net die moduleboek wat tans R420 is (R470 vir mense wat in dieselfde proses as fasiliteerders opgelei word). Jy kan weekliks inskakel van Februarie tot September in al die groot sentra in die land. Jy kan reël dat dit oor drie of vier naweke aangebied word, óf selfs in ‘n drie-dag marathon! Zoom is ook ‘n opsie.

Ek begin uiteraard eers volgende jaar ernstig hiermee werk, maar oorweeg solank of jy wil inskakel, sodat ek dit kan deurgee vir die onderskeie spanne (ook in ander lande, want die Bybelskool.com gehoor is mos oor die hele wêreld!) en hulle jou kan indeel.

As jy gehou het van die materiaal van Bybelskool.com gaan jy Veritas as ‘n natuurlike verdere ontwikkeling van jou eie reis met God en die Bybel ervaar. Dit sal ‘n voorreg wees om só verder met julle besig te wees (terwyl Bybelskool.com natuurlik steeds voortbestaan!)

Die “boeke” van God

Die Bybel praat op vier maniere oor die “boeke van God”.

1. Die boek van jou lewe

Daar is  ‘n boek van God wat jou lewe bepaal. Dawid skryf in Psalm 139 van ‘n boek waarin al sy dae opgeskryf is, selfs vóór hy nog bestaan het (Ps 139:16). Dit is ‘n boek waarin God se besluite vir ons lewe opgeskryf is. Dit beweeg Dawid tot ‘n diep ontsag vir God.

Dit lyk ook asof daar voortdurend in hierdie boek geskryf word, want Dawid sê dat selfs gelowiges se trane opgeskryf word in hierdie boek van God (Ps 56:9). God is nie net intens bewus van alles wat in ons lewe aangaan nie. Hy is intiem betrokke by elke detail daarvan. Selfs van voor jou geboorte af.

Continue reading

Hou sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin

Ek het ‘n navraag gekry oor hoe om sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin te hou. Hier is die metodiek wat ek voorstel, en ‘n paar opsies vir Bybelboeke om deur te werk aan die hand van my bydraes. Dit is alles gratis.

METODIEK

STILTETYD

Ek gebruik die volgende basiese metodiek as ek die Bybel lees.
Lees, luister, leef

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Lees die gedeelte deeglik deur. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een of meer sleutelgedagtes wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het oor die hoofstuk in die Bybel en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte(s) wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat moet jy dink of doen daarmee (insigte)? Wat belowe dit vir jou (beloftes)? Wat vra dit van jou (opdagte)? Wat is die kern van die boodskap daarvan vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit in sy teenwoordigheid.

HUISGODSDIENS OF KLEINGROEPE

As ‘n mens dan saam kom vir huisgodsdiens of in ‘n kleingroep (na elkeen stiltetyd gehou het), kan ‘n mens met mekaar deel wat jou bybly – insigte, beloftes, opdragte – en dan ‘n tyd van gebed gee waar julle die Here aanbid, voorbidding doen, en Hom loof vir gebedsverhoring.

BYBELBOEKE

1. Prontuit die Waarheid – die vier evangelies

Werk die vier evangelies saam deur.

2. Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Volg die verhaal van Paulus in Handelinge en sy dertien briewe, want dit is die verhaal van die kerk. Só sal dié verhaal ook jou verhaal word.

3. Ek kom gou – Die boek Openbaring

Werk Openbaring deur.

4. Klaagliedere van Jeremia

Jeremia help ons om sin te maak van die Covid-19 tyd.

5. Werk die Bybel deur

Gebruik die Bybelskool materiaal om enige boek in die Bybel deur te werk. Daar is inligting oor elke hoofstuk in die Bybel. Lees dit kronologies deur, of soos die Here jou lei.

Wees versigtig vir die verkeerde idees oor Kersfees

Ek het ‘n navraag gekry oor die gewaande heidense oorsprong van Kersfees.

Ek sal egter versigtig wees vir die artikels wat Kersfees met afgodery verbind. Dit berus op swak navorsing. Ook die idee dat Kersfees uit ‘n heidense fees ontwikkel het. Die waarheid is dat dit andersom ontwikkel het. Heidene het Kersfees vir hulleself gekaap.

Daar is byvoorbeeld sommige mense wat probeer om ‘n Bybelse argument teen Kersfees, veral teen die idee van ‘n Kersboom, te voer vanuit die misplaaste gedagte dat die Bybel ons verbied om bome in ons huise te bring en te versier.

Daar is ‘n gedeelte wat dikwels aangehaal word om Kersfees met afgodery te verbind. Jeremia 10:1-16 word gereeld aangehaal. Wees regtig versigtig vir dié misleiding.

Hierdie gedeelte in Jeremia verwys na die afsny van bome, die afkap van die hout om ‘n afgod te maak, en dan die afgod met silwer en goud te versier voordat dit aanbid word. (sien ook Jesaja 44:9-18).

Die gedeelte in Jeremia kan egter nie só uit sy konteks geneem word as ‘n argument teen Kersbome nie. Die boodskap daarvan was in die eerste plek ses eeue voor Jesus se geboorte aan die Jode gerig. Dit was in die tweede plek nie as ‘n profesie vir vandag aangebied nie. En dit gaan in die derde plek in Jeremia 10 oor afgode waarteen tereg gewaarsku moet word.

Kersbome is nie afgode en word nêrens gebruik om aanbid te word nie!

Natuurlik moet ons Kersfees vier as ‘n fees van Christus, en fokus op die hoop, vrede, liefde en vreugde wat Hy bring. Lees byvoorbeeld sy geboorte en kinderverhale. Beklemtoon dat Hy die Geskenk is aan ons, en dat ons geskenke aan mekaar gee uit dankbaarheid is vir wat Hy vir ons gedoen het.

Maar, moenie die kerkjaar wat met Advent en Kersfees begin, besoedel met idees wat Christus se onoortreflike waarde vir ons verminder in die gedagtes van gelowiges en die gemeenskap nie. Vier die kerkjaar met oorgawe: Advent en Kersfees, Epifanie en Lydenstyd, Pase en Pinkster. Dit is ons storie!

Hier is ‘n paar artikels wat ek waardevol gevind het as jy meer hieroor wil lees.

EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020

Lees die Bybel deur in 2020!

Lees vier hoofstukke per dag uit die OT en NT om die Bybel in een jaar deur te lees.

  • Die gedeeltes uit die OT bevestig jou in die verhaal van God se belofte van seën vir almal en alles wat Hom aanroep ten spyte van die mens se inherente boosheid ná die sondeval.
  • Die gedeeltes uit die NT bevestig jou in die verhaal van Jesus en sy kerk wat die boodskap van verlossing na alle nasies toe neem sodat hulle die ewige lewe kan beërwe deur geloof en gehoorsaamheid.
  • Die gedeeltes uit Psalms vorm daagliks jou gebede.
  • Die gedeeltes uit Spreuke vorm daagliks jou lewe.

Laai hier af: Pdf – in vier kwartale opgedeel:

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda