Skip to main content

Prediker 8:1-17

Die voordeel en frustrasie van wysheid

Na die Prediker nou oor welvaart en selfverwesentliking geskryf het, fokus hy in hoofstuk 8 op ‘n paar aspekte van wat ware wysheid is en of dit as sodanig ‘n voldoende antwoord kan gee op die uitdagings van die lewe.

Uiteraard is hy eintlik die hele tyd besig om daaroor te skryf, maar hier probeer hy dieper in die aard van die wysheid indelf in terme van die raamwerk wat dit kan verskaf om die beloop van die lewe te kan verklaar al dan nie. Eerstens beskryf hy dié wat hy meen wysheid het – vers 1-8. Tweedens beoordeel hy die waarde van dié wysheid in terme van die voordeel, maar ook die frustrasie daarvan – vers 9-17.

Die voordeel van wysheid – 8:1-8

In ‘n paar spesifieke opmerkings kry ‘n mens ‘n idee van wat wyse mense doen, selfs hoe hulle lyk!

  • Wyse mense is vriendelike mense – 8:1.
  • Wyse mense is getroue mense – 8:2.
  • Hulle is mense wat nie voortvarend is nie – 8:3.
  • Hulle het diskresie, omdat hulle mense is wat nie by ‘n swak saak staan nie, onder andere omdat hulle weet verkeerde dade kan jou nie red nie – 8:3 en 8.
  • Hulle is mense wat met oorleg optree, deur uit die pad van die koning te kom – 8:3-4.
  • Wyse mense het integriteit, deurdat hulle bevele gehoorsaam – 8:5.
  • Maar, in die lig van die vorige opmerking, is wyse mense ook diégene wat tyd spandeer om agter te kom hoe elke ding se tyd en manier werk, want dan weet hulle wanneer en hoe hulle moet handel (“Alles word [immers] bepaal deur tyd en geleentheid!” – Pred 9:11). Hulle is dus ook intens praktiese mense wat aandag gee aan tydsberekening – 8:5-6.

Die frustrasie van wysheid – 8:9-17

Hoewel die Prediker positief is oor sulke wyse mense, en in elk geval hulle hoër aanslaan as dwase mense, wys hy uit hoe die tipe wysheid tog ook uiteindelik kortkom en frustreer.

Eerstens is wysheid van minder waarde in situasies waar daar ‘n ongelyke magsverhouding bestaan – 8:9-14. En ‘n mens moet dit ter harte neem.

  • Wysheid kan nie vanself die kwaad weerstaan nie, veral nie as dié een wat jou kwaad wil aandoen, mag het oor jou nie. Dit is natuurlik iets wat ons intuïtief as die waarheid hoor, as ‘n mens dink aan ongelyke medemenslike verhoudings, soos steeds in ras-, klas-, en geslags-verhoudings op baie plekke die geval is. Die feit dat ‘n mens iets as verkeerd uitwys, beteken nog lank nie dat dit deur almal só aanvaar sal word as riglyn vir die lewe nie.
  • Waar ‘n verkeerde daad ook nie onmiddellik en duidelik uitgewys word nie – bv deurdat dit gestraf word nie – raak dit maklik ‘n patroon of manier van lewe wat moeilik uitgeroei word. Dit is ook waar van die mag wat deur dinge soos die korrupsie van afpersing en omkopery uitgeoefen word (7:7).

Die lyn van argumentasie in vers 12-14 is nie so helder nie, omdat dit lyk asof die Prediker twee punte probeer maak wat eintlik in konflik met mekaar is. Aan die een kant wil hy sê (8:12-13) dat dit goed gaan met vromes en sleg gaan met goddeloses, waarmee hy eintlik ‘n meer finale oordeel vanuit God se beheer oor die wêreld probeer formuleer. Maar aan die ander kant wil hy herhaal wat hy op ander punte gesê het, dat daar uitsonderings op dié reël is (8:14), en dít is steeds sy nagmerrie, een van die slegste dinge wat ‘n mens kan beleef (sien ook weer 7:15).

Tweedens is die wysheid van vreugde soek in jou geswoeg “onder die son” natuurlik van waarde, soos hy nou al ‘n paar keer gesê het, en weer in hoofstuk 9:7-10 gaan herhaal. Maar, die probleem daarmee is dat dit jou nie help om God se werk van begin tot einde te verstaan nie. Die wysheid het dus tydelike (selfs medium-termyn) waarde, maar nie finale waarde nie. Dit beteken nie dat hy fatalisties raak en sy Gods-”diens” versaak nie, al is God se werk onnaspeurbaar nie. Hy stel steeds ‘n lewe met oorgawe voor, in erkenning van God (8:16-17). Maar, hy erken wel dat dit beperkte waarde het in terme van die groter lewensvrae wat hom besighou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda