Skip to main content

Hebreërs 10:19-39

Laat ons die heiligdom ingaan met vrymoedigheid

Die skrywer rond nou die tema af wat hy in Hebreërs 5 begin het deur die geloofsgemeenskap op te roep om nie vas te val by die basiese prediking oor Christus nie – die “melk” van “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (Hebr. 6:1-2) – en eerder te fokus op die “vaste kos” van onder andere “die boodskap van regverdiging”, “die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (Hebr. 5:13-14) en “die volle sekerheid van die hoop” op God se beloftes (Hebr. 6:11).

Dit is immers waarom hy die moeite gedoen het om die omvattende waarde van Jesus se Hoëpriesterskap uit te spel in Hebreërs 7-10, want die regte perspektief daarop, sal hulle in staat stel om geestelike volwasse te word en die wedloop te hardloop wat vir elkeen van hulle voorlê.  Hy staan immers in vir hulle verlede, hede en toekoms.

Teks en konteks

Laat ons tot God nader met vrymoedigheid – Hebreërs 10:19-25

Die onderwerp wat hy nou aanraak, is die feit dat ons vrymoedigheid het om met God gemeenskap te hou: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.”  Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, het ons dus in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12).

Daarom die oproep om hierdie vrymoedigheid aan te gryp in ons verhouding met God: “Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Laasgenoemde verwys na die doop.  Let ook op die samehang van die interne reinigingswerk van God met die uiterlike teken daarvan, die doop.

Dit is dus nie genoeg om mense by geloofsekerheid uit te bring nie, hoe belangrik dit ook al is by die begin van die pad met God.  Geestelike groei kom wanneer ons vrymoedigheid voor God eksponensieel toeneem soos ons al hoe meer die voorreg om met Hom gemeenskap te hou, benut (10:22), in alles fokus daarop om sy wil te doen (10:36) en so te groei in die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of “siel” – 10:39).

Die Griekse woord wat die skrywer hier vir vrymoedigheid gebruik, is parrēsia en dra ook die betekenisse van moed, vertroue, reguit en openhartig (in Engels: courage, boldness, confidence, en frankness).

Vrymoedigheid is só noodsaaklik in ons kontak en gesprek met God.  Sonder dié vrymoedigheid kan ons moeilik vir Johannes navolg waar hy skryf: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.  En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15).

Dit is net so noodsaaklik in ons omgang met mense.  Van Paulus word bv. gesê dat hy die koninkryk van God  verkondig het en die mense van Rome “met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig,” het (Hand. 29:31; vgl. Ef. 6:19). En hy wys uit hoe goeie dienswerk (diakens) in die gemeente ’n mens se vrymoedigheid in die geloof laat groei (1 Tim. 3:13).

Ons moet egter nie net persoonlik op vrymoedigheid fokus nie, maar ons moet ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25).

Die volwasse wordende geestelike lewe bestaan dus uit 1) persoonlike toewyding, 2) aansporing en bemoediging van medelowiges tot liefde en goeie dade, sowel as 3) gereëlde samekomste as geloofsgemeenskap.  Dít is die dinge wat ons vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Here bevorder en ons in staat stel om die beloftes wat Hy vir ons in vervulling wil laat gaan, in ontvangs te neem.

Moenie God se gawes gering ag nie – Hebreërs 10:26-31

Na die positiewe aanmoediging om in hulle vrymoedigheid teenoor God te groei, waarsku die skrywer hulle ernstig dat die alternatief eenvoudig verskriklik sal wees.  “As ons willens en wetens sondig” bly daar niks oor om ons situasie te beredder nie.  “Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het en die Gees van genade uitgedaag het.”  Sterk woorde!

Dit is ’n kant van God wat baie van ons nie graag wil hoor nie, maar wat noodsaaklik is om regtig te agterkom wat op die spel is.  Die skrywer is oortuig dat niemand van hulle geloofsgemeenskap dié pad sal volg nie, maar hy waarsku nietemin sterk, omdat hy ook dié kant van God ken.

Moenie julle vrymoedigheid prysgee nie – Hebreërs 10:32-39

Hy herinner hulle dus aan die stryd wat hulle aanvanklik gehad het toe hulle tot geloof gekom het: beledigings, verdrukking, bespotting en verlies van besittings.  Wat hulle toe aangespoor het, was die wete dat hulle ’n beter en blywende besitting het, iets waaroor hy verder sal uitbrei in die volgende hoofstuk.

Dit is ook die rede vir die dringende oproep: “Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou ’n groot beloning in.” (Hebr. 10:35).  Dit is immers hierdie vrymoedigheid in ons verhouding met God wat ons in staat stel om te bid en te volhard.

Hy bemoedig hulle dus dat die uitkoms naby is, want net nog ’n kort rukkie, “en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.”  Wat nodig is dat hulle uit die geloof in God sal bly lewe en hulle nie aan Hom onttrek en só afdwaal van die geloof nie.

Boodskap en betekenis

In die lig van die omvattende voorsiening wat Jesus Christus vir elkeen van God se kinders gemaak het om gemeenskap met God te geniet, is dit geen wonder dat die skrywer hulle oproep om met vrymoedigheid self die heiligdom van God in te gaan.  Die pad is oop en niks moet ons verhinder om in hierdie gemeenskap te volhard nie.  Trouens, ons moet mekaar voortdurend daartoe aanmoedig.  Enigiets minder sal dislojaal wees aan dié Een wat sy lewe daarvoor gegee het.

In die volgende hoofstukke sal die skrywer ons verder herinner aan die skare van voorbeelde van vrymoedige geloofsvolharding wat ons aanmoedig en inspireer (Hebr. 11), sodat ons hierdie wedloop van geloof self met volharding sal hardloop, veral in die lig van die sonde wat ons so maklik aankleef, so maklik ons vrymoedigheid wegneem, en ons geestelik moeg kan maak (Hebr. 12).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda