Skip to main content

1 Korintiërs 6

Vermy onreg en onsedelikheid

Paulus spreek vervolgens twee verdere etiese kwessies aan: onderlinge klagtes wat gelowiges met regsake probeer uitsorteer (1 Kor. 6:1-11), en seksuele immoraliteit wat gelowiges probeer regverdig deur die slagspreuk: “alles is geoorloof” (1 Kor. 6:12-20). Hy waarsku hulle dat onregverdiges nie die koninkryk van God sal beërwe nie en dat seksuele losbandigheid jou liggaam besoedel as ‘n tempel van die Heilige Gees.

Teks en konteks

Moenie mekaar hof toe sleep nie, want kwaaddoeners sal nie die koninkryk van God beërf nie – 1 Korintiërs 6:1-11

Paulus werk met die uitgangspunt dat die regstelsel van daardie tyd nie geestelik van aard was nie, en net volgens menslike regsreëls gewerk het, veral in die konteks van die wyse waarop mense mekaar bedrieg en benadeel in regsake (vgl. vers 8).

In die lig van die feit dat ware wysheid van God af kom (vgl 1 Kor. 1:18-31) en gebaseer is op ’n kruis-evangelie (1 Kor. 2:1-5; vgl. ook vers 6-16), moet gelowiges nie van die regstelsel verwag om uitspraak te gee in sake wat binne die gemeenskap van gelowiges hoort nie.

Gelowiges moet dus in die eerste plek eerder hulle toevlug neem tot medegelowiges om uitspraak in geskille te lewer (soos Jesus ook in Matteus 18 voorskryf), want dit is boonop sulke tipe uitsprake wat uiteindelik in die hiernamaals aan die geloofsgemeenskap toevertrou sal word. Ons sal met Christus se Wederkoms saam met Hom die wêreld sowel as die engele oordeel (vgl. Openb. 20:4). Hoe kan ons dan nou dit regverdig om ongelowiges te vra om onderlinge klagtes te beslis?

Paulus maak in die tweede plek hier die kruisevangelie van toepassing op dié wat in die proses onreg ly, en beveel hulle om liewer te kies om self tekort te skiet as wat hulle optrede moontlik ander gelowiges ’n onreg sal aandoen. Dit is juis die verskil tussen die reëls van hierdie wêreld en dié van die geloofsgemeenskap dat dit op selfhandhawing eerder as selfverloëning begrond is.

Daarmee gee hy natuurlik ook vir ons die sleutel om die lysie van “onregverdiges” in vers 9-11 te verstaan, want dit is oor die kwaad wat hoereerders, afgodedienaars, egbrekers, manlike prostitute, mans wat met mans intiem verkeer, diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters en rowers ander mense aandoen, wat hulle nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (vgl. Gal. 5:19-22).

Let op dat Paulus nie net die sonde van egbreuk of diefstal ontbloot nie, maar die kwaad wat dit ander aandoen. Dit gaan dus nie net oor die sonde wat hulle verhouding met God deurbreek nie. Dit gaan ook oor die onreg wat hulle ander in die proses aandoen.

Die frase “manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer” is die vertaling van twee Griekse woorde: malakois en arsenokoitai. Die eerste woord beteken letterlik “sagtes” of “verwyfdes” en het waarskynlik te make met die passiewe persone in ‘n selfdegeslag seksuele verhouding. Die tweede woord beteken letterlik “manneslapers” en is ‘n samestelling van twee Hebreeuse woorde uit Levitikus 18:22 (zakar mishkav – vgl. ook Lev.20:13) wat verwys na die aktiewe een in ‘n selfdegeslag seksuele verhouding (Louw-Nida).

Party van die gelowiges in die gemeente het juis hierdie sondes laat afwas. Hulle is geheilig en vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God, waarmee Paulus verwys na die doop en vervulling met die Heilige Gees na hulle bekering.

Ons moet seksuele losbandigheid vermy en God in ons liggaam verheerlik – 1 Korintiërs 6:12-20

Let op hoe Paulus die eerste perikoop afsluit met ’n verwysing na vryspraak, en dan direk oorgaan na die verkeerde idee wat die Korintiërs het oor vryheid: “Alles is geoorloof”, asof dit geen perke het nie. Die vryheid in Christus is onderhewig aan die beginsel vraag of iets jou verhouding met God en die gemeenskap sal bevorder of belemmer, en of dit jou sal verslaaf of nie (vgl. 1 Kor. 10 waar hy verder hierdie tema van vryheid sal uitpak).

Hy pas dit dan toe op die seksuele lewe en skiet die idee af dat seks op dieselfde vlak as eet lê. Die Korintiërs het die spreekwoord: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos” ook op die liggaam en seks toegepas: “Seks is vir die liggaam, en die liggaam vir seks.”

Die vernaamste rede waarom so ’n seksuele losbandige houding verkeerd is, is omdat gelowiges ’n intieme verhouding met God het, en seksuele onsedelikheid en losbandigheid God deel sou maak daarvan. En dit kan tog nie, sê Paulus. Ons liggame is daar vir die Here.

Dit geld alle seksuele verhoudings, wat nie binne die huwelik plaasvind nie, soos hy in die volgende hoofstuk uitspel. Let op die verwysing na Genesis 2:24 dat God se reël is dat seksuele gemeenskap net tussen een man en een vrou mag plaasvind: “die twee sal een liggaam wees.”

Net soos die Gees die liggaam van die gelowiges as ’n tempel gebruik (1 Kor. 3:16-17), gebruik Hy daarby ook die liggaam van gelowiges as tempel (1 Kor. 6:19). Ons behoort dus nie aan onsself nie, en moet God ook in ons liggaam verheerlik deur nie onsedelik te lewe nie.

Boodskap en betekenis

Wat baie duidelik is, is dat Paulus ’n baie hoë sedelike standaard daar stel waaraan gelowiges hulleself moet meet. Ons mag nie mekaar hof toe sleep nie. Ons mag nie vasval in sonde en dit dan verdedig op grond van ons gewaande vryheid nie. En ons mag nie seks hê buite die huwelik nie, want ons moet God met ons liggame verheerlik.

Omdat God deur sy Gees in ons woon, behoort ons nie aan onsself nie, kan ons nie net maak wat ons wil nie, kan ons nie eers op onreg reageer soos wat die wêreld dit doen nie, maar is ons gebonde aan ’n ander stel reëls wat met omgee en opoffering te make het. Daarvan is en was Jesus die uitnemende voorbeeld. Dit is Sy voorbeeld wat ons moet navolg.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar