Skip to main content

1 Petrus 4

Bo alles moet julle mekaar innig liefhê

In die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy nou op die interne en eksterne uitdagings wat hierdie geloofsgemeenskappe sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê.

Hy fokus daarom in die volgende twee hoofstukke op vyf sake wat hulle staande kan hou en laat volhard:

  • Laat julle lei deur die wil van God – 1 Petrus 4:1-6
  • Bedien mekaar met julle genadegawes – 1 Petrus 4:7-11
  • Verheerlik God in lyding en doen wat goed is – 1 Petrus 4:12-19
  • Versorg die geloofsgemeenskap – 1 Petrus 5:1-4
  • Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 1 Petrus 5:5-11

Dít is die dinge wat hulle standvastigheid in hulle geloofstryd in die wêreld sal gee. Ons lees nou hoofstuk 4 se drie dele en sal daarna hoofstuk 5 se laaste twee lees.

Teks en konteks

Laat julle lei deur die wil van God – 1 Petrus 4:1-6

As die Here dan ons gewete skoon gewas het en ons die versekering gegee het dat ons verhouding met Hom vasstaan op grond van die opstanding van die Here Jesus Christus (3:21-22), dan kan die Here van ons verwag om nie langer aan die “stroom losbandigheid” – “uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies, en verfoeilike afgodediens” – mee te doen van die wêreld nie, maar ons te laat lei “deur die wil van God”.

Dit is immers waarvoor Christus gely en gesterwe het, sodat ons, soos Hy, met die sonde kan klaarspeel. Ons hoef nou nie meer ons deur ons menslike begeertes te laat lei nie, maar kán nou doen wat God van ons vra. Die wil van God word hier gebruik in die sin van iets wat God deur my lewe tot stand wil bring. Dít is waarvoor ons onsself moet gee. Dít is ook die eerste ding wat ons staande sal hou in ons geloofstryd in hierdie wêreld.

Dat dít die wêreld sal verstom en hulle die geloofsgemeenskap sal laat belaster, mag dit die gelowiges nie afskrik nie. God sal immers van almal rekenskap eis. Die gelowiges kan reeds in dié lewe aan Hom rekenskap gee. Die ongelowiges sal dit hierná moet doen, en dit sal tot hulle skade wees.

Vers 6 het ek gister reeds uitgelê. Hoewel ‘n hele aantal geleerdes verkies om die frase: “hulle wat reeds dood is”, te interpreteer asof dit dui op mense wat nog lewe, maar geestelik dood is, maak dit vir my meer sin om dit te verklaar as bedoelende: “die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

Bedien mekaar met julle genadegawes – 1 Petrus 4:7-11

Die tweede aspek van hulle standvastigheid het te make met die wyse waarop hulle mekaar bedien met die genadegawes wat God hulle gee: “As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God moet julle mekaar bedien in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het.

Dit sluit in dat hulle selfbeheersd en nugter lewe, en veral baie tyd aan gebed spandeer. Dit sluit in dat hulle gasvry teenoor mekaar sal wees, “sonder om te mor”. Dit sluit in dat as iemand die gawe gebruik van woorde, hulle dit sal ontvang: “soos woorde van God.” Dit sluit in dat as iemand dien, hulle dit sal doen: “vanuit die krag wat God voorsien.

Bo alles moet julle mekaar innig liefhê.” Hoekom? Want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek, sê Petrus. Daarmee verwys Petrus waarskynlik na beide die wysheidstradisie se waarneming: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee,” (Spreuke 10:12) sowel as na Jesus se lering oor vergifnis.

Dit is immers Petrus wat die vraag aan Jesus gevra het oor hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom gedoen het: “Selfs sewe keer?” Jesus se antwoord: “maar selfs sewentig maal sewe keer,” het vergifnis eintlik onverhandelbaar deel van die etos van die koninkryk gemaak (Matt. 18:21-35)

Let op hoe hy dié aspek van sy lering afsluit met amen, dit sal so wees!

Verheerlik God in lyding en doen wat goed is – 1 Petrus 4:12-19

Die derde aspek van hulle standvastigheid lê geleë in hulle insig in die redes vir en doel van lyding, sodat hulle dit nie as iets vreemds sal interpreteer nie, maar as iets waardeur God se seën op hulle rus. Die uitkoms van onregverdige lyding “ter wille van Christus se Naam,” óf doodgewoon die feit dat iemand ly “omdat hy ‘n Christen is,” dra by tot die verheerliking van God se Naam.

Die NAV het in vers 19 die lyding geïnterpreteer met die vertaling as dat dit gebeur: “omdat God dit wil“. Dit kan egter ook vertaal word as: “vanweë God se wil” of soos die BDV dit het: “in ooreenstemming met die wil van God.” Dit gee ‘n ander betekenis aan die lyding wat meer hoopvol is. Dit is nie dat God besluit dat ons moet ly nie. Petrus verwys hier na lyding omdat ons God se wil doen. Dit is waarom ons op sulke lyding nie met aggressie en onbegrip moet reageer nie, maar steeds moet voortgaan om God se wil te doen, terwyl ons ons lewe aan God toevertrou en veral aanhou om goed te doen!

Weereens word dit ook begrond in die voorbeeld van die Here Jesus Christus. Ons het op dié manier deel aan sy lyding. En ons het die versekering en vreugde dat lyding op paradoksale manier bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God, op ons rus.

Dit is beter om in dié lewe deur die smeltkroes van lyding te gaan en in die proses al hoe nader aan God te kom, as om die lyding te probeer vermy deur aan God ongehoorsaam te word. Dán bly slegs die vrees vir die ewige dood.

Boodskap en betekenis

Petrus draai nie doekies om nie. Om God se wil te doen en daarin te volhard is nie kinderspeletjies nie. Dit vra vashou en vasbyt. Wat ons bemoedig in dié uitdagende opdrag is die volgende:

  1. In die eerste plek die sekerheid van wat God wil. Waar ons seker is van ons roeping, help dit ons om gefokus te bly.
  2. In die tweede plek help dit dat ons mekaar nie net bedien met ons gawes nie – met woorde van God en vanuit die krag van God – maar mekaar ook só lief sal hê dat ons ‘n genadige ruimte vir mekaar skep om die Here te kan bly dien, selfs al struikel ons ook vele kere.
  3. In die derde plek inspireer die voorbeeld van Christus ons om aan God gehoorsaam te bly en nooit op te hou om goed te doen nie, selfs al ly ons juis omdat ons God se wil doen óf net omdat ons die naam Christen dra.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.