Skip to main content

1 Johannes 4

Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle

Johannes vervolg in hierdie hoofstuk met:

  • ’n diepsinnige verduideliking van die werk van die Heilige Gees om ons van Jesus se God-mens natuur te oortuig, ’n tema wat hy reeds in die laaste vers van hoofstuk 3 aangeraak het, wat ons help om te onderskei tussen die waarheid en die dwaling – vers 1-6.
  • Dan keer hy terug na die tema van die liefde, nie net omdat dit deel van die onderskeidingsproses van dié dinge waarop dit regtig aankom in die lewe is nie, maar omdat hy die geloofsgemeenskap ook dieper in die waarheid van God se inwoning in ons wil inlei – vers 7-21.

Teks en konteks

Die oortuiging dat Jesus God-mens is, help ons onderskei tussen die waarheid en die dwaling – vers 1-6

Johannes wil verseker dat elke kind van God kan onderskei dié dinge waarop dit regtig aankom.  Veral met die invloed wat die leringe van valse profete in die gemeente kan hê.  Hy gee dus ’n maatstaf aan die hand waarvan tussen die waarheid en die dwaling onderskei kan word: dit is hoe mense oor Jesus dink.  Waar mense Jesus se Goddelike natuur saam met sy menslike natuur erken, kan ’n mens die gees van die waarheid herken.  Waar enige een van dié twee nature ontken word, kan ’n mens die gees van die dwaling herken.

Daarom moedig hy gelowiges aan om nie maar net enigeen se “evangelie” op sigwaarde te aanvaar nie, maar dit te toets aan dié sentrale maatstaf: hoe oor die God-mens Jesus gedink word.  Elkeen wat bely dat Jesus Christus as mens gekom het, is uit God. Elkeen wat dit nie doen nie, adem die gees van die antichris.

Daarom hoef gelowiges ook nie vreesagtig te wees oor verkeerde leringe hieroor nie, want “Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die wêreld is.”  Uit die oortuigings oor Jesus kan gelowiges ook agterkom wie saam met hulle “uit God” is en wie nie.  Dit bring sekerheid en oortuiging.

Dit laat ’n mens besef dat die onderskeid tussen die waarheid en die dwaling nie in ons perspektiewe oor randkwessies lê nie – hoe ons oor allerlei dinge in die kerk of die wêreld dink nie.  Die spilpunt waarom alles draai, is die oortuigings oor Jesus, nie eers in die eerste plek oor die Vader of die Heilige Gees nie, maar oor Jesus.  Hy is óf die Een wat God en mens bymekaarbring, óf nie.  Alles hang af van wat ons daaroor dink.  Hy bring ons in kontak met God die Vader.  Hy gee ons die salwing van die Heilige Gees.  Hy moet dus ook die fokus van ons geestelike lewe wees.

Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle – vers 7-21

Dat Jesus Christus die geheim van die geestelike lewe is – beide in terme van die onderskeiding tussen ware en valse leringe as in terme van die gemeenskap met God die Vader en die Heilige Gees – word nou nog dieper uitgespel as iets wat in die liefde gestalte kry.

Hoe Johannes hier te werk gaan, is baie diepsinnig.  ’n Mens kan die fokus op Jesus (vers 1-6) eintlik vertaal en verstaan as ’n fokus op die liefde (vers 7-21), want die liefde is uit God, soos Jesus ook uit God is.  Die diepste motivering vir ons liefde vir mekaar, kom dus ook van hierdie punt af.  Dit is omdat Jesus die liefde “uit God” is, dat ons ander kan liefhê.  Soos ons al hoe meer in God bly en diep van God se liefde in Jesus bewus word, bly ons nie net in die liefde nie, maar raak dit ook al hoe meer ‘n werklikheid dat dié liefde in ons bly.  Soos ons dus die fokus is van God se liefde, soos Jesus God se gawe aan ons is, só word medegelowiges die fokus van ons liefde en word ons God se gawe aan hulle.

Ons ken God dus eintlik ook net in dié mate wat ons die liefde ken.  Dit gaan nie net in ons teologie – ons Godskennis – oor die inhoud daarvan nie, hoe belangrik dit ook al is, maar ook oor die verhouding wat met Hom en mekaar tot stand kom.  Ons groei in kennis is dus nie net inhoudelik van aard nie, maar ook relasioneel.  Ons groei in Godskennis as ons groei in die liefde en omgekeerd.  Soos ons groei in die liefde, só groei ons in ons kennis van God.

Hierdie liefde van God is op sy beste geopenbaar in die gawe van God se “eniggebore Seun” sodat ons deur Hom kan lewe.  Dit is daarom ook nie óns liefde vir God wat die deurslag gee in ons verhouding met Hom nie, maar Sý liefde vir ons.  Dié liefde het ’n plan gemaak met ons sonde, deurdat Jesus die soenoffer daarvoor was en ons in ’n verhouding met God gebring het.

As God dus dít vir ons gedoen het, het ons ’n onvervreembare roeping om op dieselfde wyse ons medegelowiges lief te hê.  So raak God se liefde nie net volmaak in ons nie, maar raak God sigbaar vir mense rondom ons, want wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle.  So eenvoudig maar ook so diep as dit is die geestelike lewe.

Hierdie groei in die liefde gee ons ‘n dieper besef van die Gees se werking in ons.  Hierdie groei in die liefde gee ons die vrymoedigheid vir die oordeelsdag.  Dit laat ons sonder vrees en huiwering lewe.  Dit laat ons liefhê sonder enige terughouding.

Johannes sluit af met die herhaling van sy waarskuwing: as jy nie jou medegelowiges liefhet nie, dan bewys jy daarmee dat jy God ook nie liefhet nie.  Jy kan nie die onsigbare God liefhê, as jy nie jou sigbare medegelowige lief het nie.  “Wie God liefhet, moet ook sy broer en suster liefhê.”

Boodskap en betekenis

Johannes leer ons hier dat die onderskeid tussen waarheid en dwaling lê in die belydenis dat Jesus waarlik God én mens is. Dié geloof bring sekerheid en beskerm teen misleiding. Hierdie geloof in Jesus kom egter prakties tot uiting in die liefde: omdat God ons eerste liefgehad het in Christus, moet ons mekaar liefhê. Só word God se liefde sigbaar en volmaak in ons, en só kry ons vrymoedigheid en vrede, selfs vir die oordeelsdag. Wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom of haar.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem