Kontak my
Jy kan my op hierdie e-pos adres kontak: Chris van Wyk. Klik net op die skakel en jou e-pos program sal oopmaak met my adres reeds ingevul. Dit is ‘n persoonlike e-pos adres en dus heeltemal privaat. Niemand anders sal ‘n boodskap wat jy na hierdie adres stuur, kan sien nie.
Adri
Is dit moontlik om vir my ‘n lys te gee met die verse van genade en hoop
Chris van Wyk
Hi Adri – daar is net 3 verse waar genade en hoop saam voorkom:
Verwysing
Daar is 697 waar óf genade óf hoop voorkom. Ek het ‘n Word dokument vir jou aangeheg: Laai dit hier af.
rina
Hallo Chris, ek het gehoor dat daar in die bybel geskryf staan dat God se…My wil gee ek jou maar jou wil laat ek jou.. Kan jy asb help, waar kan ek daarvan lees. Baie baie dankie ek waardeur
Chris van Wyk
Hi Riana, Ek ken nie die aanhaling nie (“My wil gee ek jou maar jou wil laat ek jou”).
Jy kan meer hier lees oor die onderwerp van God se wil:
lettie jacobs
haai Chris, ek geniet jou aanbieding van Lukas so baie, ek sou dit graag by ons bybelskool wil aanbied. Het jy dalk al die hele oorsig van Lukas en sal jy dit met my deel asseblief?
Chris van Wyk
Ek is bly jy geniet dit! Die eerste paar bydraes gaan oor die breë prentjie van Lukas en Handelinge, wat ek in die gemeente al as Bybelskool aangebied het. Die huidige bydraes word egter geskryf soos ek dit nou saam met julle lees. Dit is dus so vars soos die sonsopkoms elke oggend!
Gerrie Viljoen
Middag Dominee Chris, het u miskien vir my inligting oor wedergeboorte, bekering, heiligmaking en geloofsekerheid? Baie dankie vir u hulp. Groete. Gerrie.
Chris van Wyk
Hi Gerrie
Jy kan meer daaroor lees by hierdie skakels:
https://bybelskool.com/wedergeboorte-en-bekering/
https://bybelskool.com/as-iemand-nie-van-bo-af-gebore-word-nie/
https://bybelskool.com/dordtse-leerreels-n-kort-inleiding/
https://bybelskool.com/god-wil-ons-heilig-maak/
https://bybelskool.com/vraag-34-kan-jy-deur-die-wet-of-goeie-werke-gered-word/
https://bybelskool.com/geloofsekerheid/
Herman van Bybelverskille
Chris, kosbare werk waarmee jy besig is.
Ek doen ‘n studie van die oorsake vir die verskille tussen ouer vertalings soos die 1933/53 Bybel en die KJV, teenoor nuwer vertalings soos die 1983-Bybel en die NIV.
Seën,
Herman Grobler
Chris van Wyk
Hi Herman – jy het self ‘n omvattende studie begin, wat ons begrip van die teks verdiep. Dankie! Sterkte! Vir belangstellendes: http://bybelverskille.wordpress.com
Tania
Goeie dag, enige lees materiaal oor vas? Ek wil graag weet, is vertel dat alle vasse dieselfde deurbrake verskaf, maar waarom is daar dan verskillende vasse? Kan mens dus enige vas volg, of is daar spesifikie vasse vir spesifike deurbrake…? Baie dankie.
Chris van Wyk
Johannes Calvyn het drie doelstellings aan die vas gekoppel: lewensdissipline, gebedsvoorbereiding of (‘n vorm van) skuldbelydenis. Vas was vir hom meer ‘n saak vir die geloofsgemeenskap as ‘n persoonlike saak, en dit gaan daarom met openbare gebed saam (bv die voorbeeld van Antiogië). Vas is ook nie net weerhouding van kos nie, maar kan ook beteken dat jy min en lig eet, om te kan bid. Calvyn het ook op drie gevare van vas gewys: uiterlike vertoon, verdienstelikheid, en gewetensdwang. Lees meer by: http://wp.me/pZl58-1ar
rina
Ek wil graag weet wat word bedoel in Spreuke 11 vers 15 met borg staan,sou dit beteken dat daar nie geleen moet word nie?
Chris van Wyk
Borgstaan beteken om in te staan vir iemand as dié in die skuld kom. Dit is nie dieselfde as leen nie, maar die beginsels geld ook daarvoor. Gee eerder as borgstaan/leen. Ek het eintlik in Spreuke 6 meer daaroor geskrywe: http://www.bybelskool.com/spreuke/spreuke-61-19-leef-met-oorleg/. Ek haal ‘n deel daaruit vir jou aan:
6:1-5 – Wees versigtig met verbintenisse aan vreemdes
Die eerste vermaning het met borgstaan vir vreemdes te make. Dié tema sal nog ’n paar keer aangeraak word in Spreuke (11:15; 20:16) selfs ook wanneer dit nie met vreemdes verband hou nie, maar met enigiemand wat in die skuld is (22:26).
Die punt wat die pa aan sy seun maak, is dat hy versigtig moet wees aan wie hy hom verbind, veral uit die hoek van die mag wat ander dan oor jou kan hê. Sy pa wil hê dat hy vry moet wees van verpligtinge wat vanweë ander se dwaasheid op hom gelê kan word.
Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens vir iemand anders iets kwytskeld of as ’n geskenk gee nie. Dit het die pa reeds in sy vierde lewensles vir hom geleer, dat hy nie ’n weldaad moet weerhou van iemand wat dit toekom nie (3:27-28). Borgskap van vreemdes het egter net só ’n inherente gevaar van misleiding, waaraan die pa sê ’n mens jou net nie moet blootstel nie.
En as dit wel gebeur het? Wel, doen alles in jou vermoë om daaruit los te kom! Soebat, pleit, selfs al kos dit jou ’n nag se slaaploosheid, sorteer dit uit!
Carol
Is die Lees, luister en leef slegs in ePub beskikbaar of ook in boekvorm?
Chris van Wyk
Op die oomblik is dit net in ePub beskikbaar. Binnekort sal ek dit ook in mobi vir Kindle publiseer. Ek is besig om te onderhandel met ‘n uitgewer vir gedrukte kopieë. Maar die detail moet nog uitgesorteer word.
Carol
Baie dankie…sal gaaf wees as dit ook in gedrukte vorm verkrygbaar kan wees en sal op die uitkyk wees daarvoor. Sterkte en dankie vir al die moeite, tyd en energie wat hierin gegaan het en nog gaan.
Chris van Wyk
Hi Maruschka – ek het die volgende geskryf oor Hooglied 3:1-5 met die boodskap dat Hooglied hier vir ons sê: “Liefde kom tot sy reg binne families”
Ek haal aan:
“So pas het die vrou die hoop uitgespreek dat die man haar veilig sal laat voel in hulle liefde, dat hy haar vrees sal help besweer van die afskeid van haar ouerhuis. Nou worstel sy in haar droom/nagmerrie met haar eie behoeftes. Hoewel sy hom beskryf as die een wat sy liefhet, letterlik: “die een wat my siel liefhet” – dws die een aan wie haar binneste verkleef geraak het – wil sy nie, selfs nie in haar droom nie, onbehoorlik optree nie. Sy wil hom eers gaan haal na die geborgenheid van haar ma se huis, háár veilige ruimte.
Dat sy hom na haar ma se huis bring, dra die betekenis van haar soeke na veiligheid, vastigheid, en aanvaarding, iets soortgelyks as wat ons lees van Isak wat sy vrou Rebekka by sy ma Sara se huis laat bly het (Gen 24:67), hoewel die rolle hier omgekeer is. Die vrou van Hooglied beskryf daarmee haar begeerte aan ouerlike goedkeuring van haar liefde. Sy het ‘n sterk behoefte aan die liefde van die man, maar sy het net so ‘n sterk behoefte dat dit nie onbehoorlik of onvanpas sal wees binne die konteks van haar familielewe nie.
Die wagte wat die stad patrolleer is al op baie maniere metafories geïnterpreteer. Sommige dink daaraan as die samelewing se reëls, ander weer aan die beskerming van maagdelikheid (Garrett). In die lig van die geweldige prioriteit wat op maagdelikheid in Israel geplaas is, maak laasgenoemde vir my sin. Met die herhaling van die frase rondom die vroue van Jerusalem (ook in 2:7; 5:8; 8:4) lewer sy waarskynlik verder kommentaar op haar eie droom-behoeftes, dat die liefde nie ryp gedruk moet word voor die tyd daarvoor aanbreek nie. Dit dui aan die een kant op haar keuse teen die insluiting in die harem van Salomo, en aan die ander kant op haar keuse om die liefde net binne die veilige ruimte van familie-wees te geniet, soos dit met die huweliksluiting in die volgende perikoop moontlik word.
Daar is ‘n hele paar ooreenkomste tussen dié gedig en die een wat ons in hoofstuk 5:2-8 lees – die verlange na die man, die soeke in die stad, en die verwysing na die vroue van Jerusalem. In hoofstuk 5 is die konteks egter haar aanvanklike weiering van die man se toenadering, en stel dit haar bloot aan verguising deur die wagte. Die ander gedigte wat daarop volg, sluit dan by dié soektog aan, maar daaroor later.”
Annalize
Hi Chris waar begin ek die Bybel lees en leer .Ek weet nie waar om te begin nie en ek wil graag dit reg doen gee asb vir my riglyne.
Chris van Wyk
Hi Annalize – jy rig ‘n belangrike versoek waaroor ek ‘n bietjie verder wil nadink. Jy soek ‘n soort beginner lees van die Bybel, en ek gaan mettertyd iets in daardie rigting skep. Hier is solank ‘n skakel om met die evangelie van Johannes te begin en dit met my begeleiding deur te lees. Dit gee vir jou riglyne vir jou leeswerk en ‘n inleiding oor die evangelie van Johannes. Daarna vind jy al die skakels om dit hoofstuk vir hoofstuk deur te lees. Soos jy lees kan jy kommentaar lewer en ek sal antwoord, soos tyd my toelaat. Geniet!
Michelle
More Chris, Ek wil dit ook graag weet. Ek sal dan ook nou met die evangelie van Johannes begin, maar sal jy ons asseblief laat weet met watter boek moet ons volg.
Chris van Wyk
Hi Michelle, dit hang af van wat julle plan met die Bybel is. Julle sou doodgewoon die NT kon deurlees. Daarna die OT. Of julle sou kon afwissel. Een NT boek. Dan ‘n OT boek. Dan ‘n Psalmboek (daar is vyf). Dan weer ‘n NT boek. En so kan julle aangaan. Iets wat my op die oomblik interesseer is om Paulus se dertien briewe in volgorde deur te lees. Miskien maak ek ‘n post om mense daarmee te help … Vir al bogenoemde maniere is die skakels na die onderskeie Bybelboeke by http://bybelskool.com/alfabetiese-lys-van-bybelboeke-by-bybelskool-com/ beskikbaar. Onthou net dat die datums wat soms daarin aangegee word, verouder is. Lees dit net in volgorde soos dit aangegee is en ignoreer die datums en ander verouderde instruksies.
mariza
iemand het aan my verduidelik om in tale te praat is van ‘n heidense gees omdat korinte n heidense stad was. help asb om dit reg te kan verduidelik dat dit van die Heilige Gees is.
Chris van Wyk
Om in tale te praat, is nie heidens nie, maar ‘n gawe van die Heilige Gees. Paulus verduidelik die plek wat tale inneem in die geloofsgemeenskap in 1 Korintiërs 12-14. Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ’n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het wel gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het. Daarom het Paulus hulle gehelp om te verstaan dat nie almal al die gawes het nie, ook nie tale nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.
Hy brei in hoofstuk 14 uitvoerig uit oor die onverstaanbare onsinnigheid van tale in die erediens eerder as die verstaanbare opbouende karakter van profesie, veral ook omdat tale eintlik ’n teken vir die (lidmaat-)ongelowiges is (vgl Jes 28:11-12; Deut 28:49 – God se grootheid is raakgesien in die vreemde taal van die Assiriërs, hoewel dit nie begryp is nie). Nie dat Paulus die gebruik van tale afkraak nie, hy gebruik dit immers self. Maar tale is bedoel vir die binnekamer en aanbidding, nie soseer vir die eredienste en byeenkomste nie, omdat dit ’n gebedstaal is. Paulus sal dus eerder 5 woorde met sy verstand wou praat (met ’n openbaring, kennis, profesie of lering) as 1 000 woorde in ’n ongewone taal. Dit is die geestelik volwasse manier om in eredienste op te tree, wat nie net vir gelowiges iets beteken nie (opbou), maar ook vir ongelowiges of buitestaanders (appèl).
gloria
Ds Chris.die program wat die bybelskool gebruik het ek nie op my rekenaar..en ek is maar baaaiiiieee dom met tegnologie.. n Ander manier hoe ek die bybelskoolmateriaal kan ontvang op rekenaar….ASB
groetnis
gloria
Chris van Wyk
Hi Gloria – stapsgewyse:
1) Gaan na http://bybelskool.com/subscribe/ op die Internet
2) Vul jou e-pos in die blokkie in en klik op Subscribe
3) Maak jou e-pos program oop en klik op die Confirm Follow skakel wat in die e-pos sal wees wat van WordPress na jou gestuur word.
4) Dan sal die bydraes per e-pos na jou toe gestuur word.
Anders kan jy dit elke weeksdag ook lees by http://bybelskool.com/job/
Susan Leeuwner
Ek wil graag e pos stuur aan jou Chris maar ek kry dit nie reg nie. Ek wil graag die 4 evangelies lees en die leer kry wat die 4 evangelies langs mekaar het asseblief.
Sonja Slater
Goeiedag Ds Chris, Ek het vanaf middel Desember 2016 ‘n nuwe dringendheid in my om meer vd Here en die Bybel te weet en het begin om Bybelstudie te doen, elke dag ‘n stiltetyd te hou met behulp van ‘n Bybeldagboek en ek lees fisies die Bybel deur van Genisis tot Openbaring, woord vir woord, en wil dit in een jaar doen. Nou, ek is amper deur Genisis met my Bybelstudie (bo en behalwe die fisies deurlees) en sou graag die boeke in volgorde wou deurwerk. Ek laai solank af wat u reeds van Eksodus het maar sou dit vinniger wou doen as wat u publiseer. Ek soek ook Bybelstudie oor Levitikus, Numeri ens wat nog nie op u webtuiste is nie. U praat by die beskrywing van 1 en 2 Konings dat u reeds saam met u lesers en gemeente die 5 boeke van die pentateug deurgelees het maar ek sien niks van dit nie? Dankie vir u goeie werk en dat u my help om die Bybel beter te verstaan. Groete.
Chris van Wyk
Hi Sonja. Ek het aanvanklik boek vir boek gewerk en dan riglyne gegee sodat mense dit kan deurlees. Dié stof is wel beskikbaar, maar redelik “oud” in die sin dat ek gegroei het in my verstaan van ‘n hele paar dinge met die deurwerk van die hele Bybel. Eksodus se riglyne is geïnkorporeer in die huidige boek, en die res is ek tans besig om te skryf. Vir die res van Eksodus sal jy dus geduldig moet wees! Ek sou egter Levitikus, Numeri, Deuteronomium, Josua en Rigters se riglyne kon beskikbaar stel. Dit is egter effe verouderd!
Sonja Slater
Goeiedag Ds Chris, Soos ek voorheen gevra het kan u asb die riglyne vir Levitikus tot Rigters vir my beskikbaar stel? Se net waar ek dit kan aflaai asb. Dankie.
Chris van Wyk
Hi Sonja. Ek het dit geplaas by hierdie skakel: Kort inleidings op Levitikus, Numeri, Deuteronomium, Josua en Rigters. Josua en Rigters het ‘n bietjie meer om die lyf, maar die ander boeke is net ‘n kort inleiding.
Annemarie Swanepoel
Goeiemore, die diensmeisies wat Laban vir Lea en Ragel gegee het, wat namens hulle kinders vir Jacob gebaar het, waar het hulle vandaan gekom? Van watter ras was Bilha en Silpa gewees? En oor die algemeen, wie was die slawe van daardie tyd? Waar het hulle vandaan gekom? Dit is nou voordat die 12 stamme self slawe gaan word het in Egipte.
Chris van Wyk
Die Bybel vertel ons nie van watter nasie Bilha en Silpa was nie. Wel dat hulle slawe was, alhoewel daar ook ‘n Joodse tradisie is dat hulle jonger dogters van Laban was (Rabbi Eliezer). Dit bots egter met die Bybelse idee dat hulle slawe was en kan nie aanvaar word nie. Die slawe van daardie tyd het van enige nasie gekom. Met die verowering van gebiede in oorlog is van die mense as slawe gevange geneem. Dit kon dus van enige nasie onder die son wees. Daar was ook handelaars in slawe wat op verskillende maniere hulle slawe bekom en verslaaf het. Soms het mense van dieselfde nasie egter in armoede verval en kon hulle hulleself of van hulle kinders as slawe verkoop om ‘n bestaan te kon maak. Hulle was dan van dieselfde nasie. Daar was egter streng reëls hoe sulke slawe hanteer moes word, en daar was spesifieke reëls oor hoe hulle na ‘n tyd weer vrygelaat moes word, soos ons ook in die Bybel lees (Lev 25).
Johan
Sal dit so wardeer as ek weer die e-pose gereeld kan ontvang
Chris van Wyk
Hi Johan. Ek sien nie jou e-pos in my lys nie. Ek sal jou registreer, maar jy moet dit net goedkeur as WordPress vir jou vra dat jy dit bevestig.
Francois
https://www.christianitytoday.com/ct/2020/april-web-only/covid-19-is-not-gods-judgment.html
Ds Chris Die intrnet is vol skrywe oor die Civid19 pandemie en of dit n oordeel van God is. Die artikel in die skakel gee n goeie gebalanseerde seining, maar die vraag kom by my op: is dit n Bybels seining en in lyn met wat ons as NG Kerk glo, of net goeie debat? Jou mening sal waardeer word.
Chris van Wyk
Hi Francois, daar is baie verskillende menings oor die virus se verbintenis aan God al dan nie. Die NG Kerk het nie ‘n amptelike standpunt daaroor nie. Jy kan verder lees wat NT Wright daaroor sê, en hoe Daniel Philips daarop reageer. Ook John Lennox se uitstekende bydrae sowel as John Piper se mening in ‘n gratis boek.
My eie mening is dat die Bybel duidelik is daaroor dat God sy goeie skepping aan verganklikheid en verydeling onderwerp het weens die sondeval (Gen 3; Rom 8). Dit is die raamwerk waarbinne beide natuurlike en bonatuurlike prosesse uitspeel. Alles gebeur binne ‘n dubbele oorsaaklikheidsmodel. God is daarom op soewereine manier betrokke by seën en straf (Noag en Babel verhale), vrugbaarheid en onvrugbaarheid (aartsvaderverhale), voorspoed en teenspoed (Josef verhale), beskerming en blootstelling aan plae (Egipte verhale), verlossing en veroordeling (woestyn verhale), toetsing en herstel (wysheidsverhale).
En só kan ‘n mens aangaan regdeur die verhale van die koninkryk en die ballingskap tot by die terugkeer na die land en daarna. Elke profeet in die OT praat van God was sy wil uitwerk in die wel en wee wat mense ervaar, natuurlik en bonatuurlik. Daar is dus niks wat gebeur waarby God nie betrokke is nie. Hy is nie uitgelewer aan dinge wat Hy nie kan beheer nie. Hy bepaal selfs ons nie-materiële dinge soos ons gedagtes (Jer 17). Hoe sal Hy nie materiële dinge kan bepaal nie?
Dit is nie anders in die NT nie met Jesus wat uitvoerig praat in die profetiese rede oor oorloë, hongersnode en pessiektes wat kom (Matt 24-25). Al dié dinge is deel van God se agenda van sy verlossende oordeel van hierdie wêreld soos Johannes in die Openbaring helder uitspel (Openb 4-5). Daar is immeers niks in hierdie skepping wat nie sy bestaan kan herlei tot God nie. Dit is waar van hemelse wesens – goed en sleg. Dit is waar van die aarde – goed en sleg.
Trouens, dit is Jesus wat die sewe seëls van daardie agenda oopmaak wat wydverspreide rampe tot gevolg het. En dit raak net erger deur die sewe trompette en sewe bakke tot by die finale oordeel wat die heelal betrek en in die geskiedenis voltrek word.
In dit alles beskerm die Here sy mense – nie noodwendig van die dood nie, maar in en deur die dood tot in die ewige lewe – maar dit gebeur nie sonder sy intense en intieme betrokkenheid daarby nie. Hy werk sy wil uit midde-in en deur die rampe wat ons saam met die wêreld tref.
Ons hoop is ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waarheen God met sy kinders op pad is. Daarna sien ons met reikhalsende verlange uit. Dit gee ons die hoop om die dinge wat nou gebeur as die tekens te sien van die nuwe wat aanbreek, God se koninkryk wat deurbreek, en in sy volle werklikheid aan die kom is.
Waar die dood gedood sal word, en die trane afgevee sal word, en ons gesigte sal blink van die heerlikheid van die Here wat elke stukkie duisternis sal uitwis, sodat ons heilig en onberispelik voor God die ewigheid sal kan binnegaan.
Dit is waarskynlik die belangrikste boodskap van hierdie COVID-19 tyd. Maak gereed vir die nuwe wat God sal laat kom. Vir dié wat die Here dien, wees waaksaam en volhard. Vir dié wat die Here nie dien nie, kom tot inkeer en bekering. Die einde is naby.
Francois du Toit
Daie dankie Ds Chris vir die goeie antwoord op my vraag, en die insiggewende skakels.
Hannes
Goeie dag Dr van Wyk
Jammer om te pla.
Die volgende Leesrooster 2021: Bybelskool bydraes vind ek nie. U hulp sal waardeer word.
Handelinge 10:34- 43, Jesaja 25:6-9, Psalm 118: 1-2,14-24 en Markus 16: 1-8.
Baie dankie.
Chris van Wyk
Hi Hannes. Ek het gekies om daardie nie te hanteer nie, om mense nie te oorlaai nie.