Skip to main content

2 Kronieke 20; 1 Konings 22:41-51

Josafat oorwin in oorlog deur vas, gebed en lofprysing

2 Kronieke 20 sluit die verhaal van Josafat af met die oorwinning wat hy oor verskeie omringende nasies behaal: die Mobiete, Ammoniete en Meüniete (van die Seïrberge – vers 23). Die verhaal beklemtoon Josafat se vertroue op God en God se reaksie daarop deur die volk in die oorlog tegemoet te kom. 1 Konings 22:41-51 gee ook ‘n opsomming van sy regering.

Ons sal hom wel weer aantref in 2 Konings 3 waar hy weereens in ‘n vennootskap met Israel in oorlog betrokke raak in die tyd van Elisa. Daar is ook ‘n paar verdere verwysings na hom in die tweede boek van Konings om die konings van Israel te dateer.

Psalm 75 en 76 kan moontlik met die woorde van die profeet, Jagasiël, in 2 Kronieke 20:13-17 verbind word. In die twee Psalms word God as Regter en Redder geloof, ook op die wêreldverhoog. Daar is ooreenkomste met Jagasiël se woorde. Hy word daarby ook as een van Asaf se nageslag hier genoem. Maar ek het besluit om die twee Psalms saam met die ander Asaf Psalms ná die ballingskap te hanteer.

Teks en konteks

Let op dat die eerste ding wat Josafat doen, is om hulp by die Here te soek deur ’n vasdag regdeur sy grondgebied uit te roep. Hier dien die vas as openbare gebedsvoorbereiding om die Here se hulp te vra.

Josafat se gebed is besonder treffend en toon interessant genoeg ’n paar ooreenkomste met die aanhef en eerste 3 gebede van die Ons Vader (Matt. 6:9-13). Vergelyk:

  • “Ons Vader wat in die hemel is” met “Here, God van ons voorvaders, U is God” (vers 6)
  • “Laat u Naam geheilig word” met: ”vir u Naam ’n heiligdom gebou” (vers 8),
  • “Laat u koninkryk kom” met “U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies” (vers 6) en
  • “Laat u wil ook op die aarde geskied” met “Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig” (vers 12).

Die Here antwoord hulle deurdat die Gees van die Here oor die Leviet, Jagasiël ,uit die nageslag van Asaf, kom, en bevestig dat dié saak ’n saak vir die Here is. Die opdrag aan die volk is om nie te veg nie: “neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.”

Josafat eggo dit in sy opdrag aan die mense in die Tekoawoestyn, dieselfde plek vanwaar die skaapboer Amos min of meer ‘n eeu later (762 vC) as profeet sal optree, dat hulle hul vertroue in die Here hulle God moet stel. Dan sal hulle vasstaan:

“Luister na my,
Juda en inwoners van Jerusalem!
Vertrou op die Here julle God,
dan bly julle behoue;
vertrou op sy profete,
dan behaal julle sukses.”

Twee verdere dinge staan uit:

  • die oorleg wat Josafat deurentyd met die volk pleeg;
  • die geweldige belangrike rol wat lofsang en gebed speel, onder begeleiding van die Kehat- en die Koraggroepe wat die volk uit volle bors die Here laat prys het.

Daarom het hulle die plek waar die verwarring van God hulle teëstanders getref het die Vallei van Lofprysing (Lofdal) genoem.

Soos Abia die oorlog teen Jerobeam met ’n preek ingelei het (2 Kron. 13 – die Here werk hier ook deur die priesters se trompette) en Samuel vroeër die Filistyne oorrompel het met kategese (1 Sam. 7 – die Here verwar hulle met donderweer), só wen die volk hier met lofprysing en gebed.

Die Kronis wyt daarom die oorwinning aan die rol van God self: “Die Here het onverwagte aanvalle bewerk …” wat verwarring gesaai het en die vyande teen mekaar laat draai het. Ons weet uiteraard nie presies hoe dít gebeur het nie, maar die klem is op die Here wat oorwinning gee, terwyl die volk hulle verbintenis aan Hom en hulle verering van Hom, uitbasuin.

Dit is ‘n beginsel wat ons regdeur die Skrif aantref: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees,” sê die Here, die Almagtige (Sag 4:6). Dit is die woorde wat vir die goewerneur Serubbabel, kleinseun van Jojagin, en ook ‘n afstammeling van Josafat, en daarom deel van die Dawid-geslag waaruit die Messias gebore sou word (Matt 1:12-13), die moed gegee het om teen alle teenstand heen ná die ballingskap die tempel te laat herbou (vgl Esra 2; Nehemia 7; Haggai 2) met Nehemia wat uiteindelik ook die stadsmure herbou het.

2 Kronieke 20 sluit af met ’n opsomming van Josafat se regering sowel as die verhaal van Josafat se mislukte vennootskap met Ahasia van Israel. Die verskil in regeringstyd met die weergawe in 1 Konings 22 in sommige manuskripte (25 jaar in Kronieke, 22 jaar in Konings) is waarskynlik omdat Josafat saam met sy pa, Asa, geregeer het in die tyd van sy siekte.

1 Konings 22 gee ekstra inligting oor die verwydering van die laaste van die manlike selfdegeslag tempelprostitute, ‘n konstante verleiding vir die volk op seksuele gebied.

Ons sien ook hier dat die versoeking van vennootskappe met Israel maar altyd ‘n uitdaging vir Josafat was, waarskynlik onder andere weens die familiebande van sy kinders met die nageslag van Agab.

Wat net weereens die belangrikheid beklemtoon om nie vennootskappe met goddeloses en ongelowige mense aan te gaan nie (2 Kor 6). Ook nie huwelike met hulle te sluit nie, soos Paulus in die NT in 1 Korintiërs 7 waarsku.

Die Here se misnoeë met Josafat se vennootskappe ook op handelsgebied – oorgedra deur die profeet Eliëser – lei onder andere tot die skipbreuk van die skepe waarmee hy en die konings van Israel saam handel probeer dryf het.

Let ook op dat die profeet Jehu se skryfwerk vereer word. Hy het Josafat se verhaal opgeteken in die Geskiedenis van Jehu, wat weer op sy beurt opgeneem is in die boekrol van die konings van Israel. Dit is ongelukkig bronne waartoe ons nie vandag meer toegang het nie.

Boodskap en betekenis

‘n Mens kan lank nadink oor die onderskeie elemente van hierdie greep op Josafat se lewe. Aan die een kant inspireer die klem op die geestelike kant van oorlogvoering ‘n mens. Die oorwinning in oorlog begin by God se werk, en ons inskakeling by wat Hy doen, nie by die strategieë wat ons beplan en uitvoer nie. Vas, gebed en lofprysing is sleutel elemente in ons geloof en gehoorsaamheid.

Aan die ander kant waarsku hierdie verhaal ons teen vennootskappe op sosiale, politieke en ekonomiese gebied waar noue bande met ongelowige en goddelose mense gesluit word. Dit dra nie die Here se goedkeuring weg nie, en op die koop toe stel dit jou bloot aan onverwagte krisisse en rampe.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar