Jesaja 52:13-53:12
Die Dienskneg van die Here bring bevryding en genesing deur sy skuldoffer
Jahwe kom weer aan die woord met ‘n uitspraak oor wat die Dienskneg gaan vermag (Jes 52:13-15) en wat met Hom in die proses gaan gebeur (Jes 53:1–12).
Teks en konteks
Die Dienskneg van die Here het die rol van God se volk geërf. Hy tree namens hulle op en voer hulle roeping uit. Hy bring soos ‘n koning herstel en versoening wat respek afdwing by almal wat dit hoor.
Die laaste verwysing na die Dienskneg van die Here in Jesaja is daarom die belangrikste een, die een wat die meeste gewig dra. Die Dienskneg van Jesaja 52:13–53:12 vervul al die verpligtinge van die vorige diensknegte—wat Hom die Dienskneg by uitstek maak (vergelyk Jes 42:2 met Jes 53:6-7 oor sy selfloosheid; Jes 42:3 met Jes 53:2 oor sy deernis; Jes 42:6; 49:6 met Jes 53:12 oor die lig wat Hy bring; Jes 43:10 met Jes 52:13 oor sy hoë status).
Let op dat die Dienskneg in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (Jes 53:7) terwyl hy vir oortreders bid (Jes 53:12). Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jesaja 30 waar stil wees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is. Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (Jes 53:12). Want hierdie geduld in lyding dra groot vrug.
Die rol van die loot in Jesaja 11:1-12 stem ooreen met dié van die Dienskneg (vgl Sag 3:8-9). In beide gedeeltes stel die Here ‘n leier aan om verandering in die land en die volk teweeg te bring. Jesaja 11:1-12 beklemtoon die vrede wat Hy bring. Jesaja 52:13-53:12 beklemtoon die offer wat Hy bring daarvoor. Hy dra die ongeregtighede van die volk soortgelyk aan die bok op die Groot Versoendag (Lev 16:22).
Die Dienskneg sterf dus as ‘n skuldoffer (Lev 5:14-19), maar die wonder is dat Hy ‘n nageslag sal sien. Hy word dus uit die dood opgewek. Die Dienskneg word opgewek en geseën.
Interessant is dat al die Dooie See manuskripte en die Septuagint (die antieke Griekse vertaling van die Bybel) die woord “lig” byvoeg by die frase “hy sal (lig) sien” in vers 11. Dit onderstreep nog meer die lewe ná die dood wat die Dienskneg sal ervaar.
Boodskap en betekenis
Ons maak baie moeilik vrede met lyding. Veral met ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons. Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier. Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het. En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur – dié inspireer ons.
En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende Dienskneg van die Here.
Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie. Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.
Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes. Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.
Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het:
- Johannes verwys na die Jode se ongeloof op grond van Jesaja 53:1 in Joh 12:38: “Here, wie het ons boodskap geglo? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar?” Paulus doen dieselfde met ‘n aanhaling van die eerste deel van die vers in Romeine 10:16.
- Matteus verwys na Jesus se bevryding en genesing op grond van Jesaja 53:4 in Matteus 8:17: “sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: ‘Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.’”
- Filippus lê Jesaja 53:7-8 in Handelinge 8:32-33 uit as vervul in Jesus se dood aan die kruis: “Soos ‘n skaap is Hy ter slagting gelei, en soos ‘n lam wat stom is voor sy skeerder, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is regspraak Hom ontneem, en wie sal sy nageslag kan opnoem? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”
- Petrus verwys na Jesus se sondeloosheid op grond van Jesaja 53:9 in 1 Petrus 2:22: “Hy wat ‘nie sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie.’”
- Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak in die aanloop tot die kruis. Hy vra op grond van Jesaja 53:12 dat sy dissipels wapens ter selfverdediging dra in Luk 22:37: “Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.”