Skip to main content

3 Johannes

Getrouheid aan die waarheid en gasvryheid word geprys en aangemoedig

Johannes noem homself in dié brief net soos in 2 Johannes weereens net die “Oudste” of “Ouderling”, soos die woord presbuteros vertaal kan word.  Hierdie rig hy die brief egter aan Gaius, “die geliefde”, soos die Griekse woord agapetos vertaal kan word.  Sommige vertaal dan dié woord ook as vriend, soos in die N.A.V.

Daar is drie ander Christene in die NT wat die naam Gaius dra:

  • Gaius van Korinte wat deur Paulus gedoop is en bekend gestaan het as ’n gasvrye man (Rom. 16:23; 1 Kor. 1:14);
  • Gaius van Masedonië wat saam met Paulus op sy tweede sendingreis was en saam met hom in die moeilikheid kom in Efese (Hand. 19:29);
  • Gaius van Derbe wat saam met Paulus op sy derde sendingreis was (Hand. 20:4). Laasgenoemde is deur Johannes biskop van Pergamum gemaak – die gemeente aan wie Johannes die derde brief in Openbaring geskryf het waarin hy leerstellige sake aangeraak het (Openb. 2:12-17) – volgens ’n tradisie wat uit die 4de eeu n.C. kom.

Hoewel Gaius uit Derbe dus die mees waarskynlike identifikasie met die Gaius in Johannes se derde brief is, kan ’n mens dit nie met stelligheid bewys nie, omdat daar geen ander duidelike aanduiding hiervan uit die vroeë kerkgeskiedenis is nie.  Die tradisie uit die 4de eeu verbind ongelukkig ook nie eksplisiet dié Gaius van Pergamum aan die Gaius van die 3de Johannes brief nie.  Dit bly egter die mees waarskynlike identifikasie.

Gaius word deur Johannes geskets as iemand wat hom aan die ware leer probeer hou het (vers 3-4), wat ’n groot invloed in sy gemeenskap gehad het (vers 5), omdat hy gerespekteer is (vers 2,6) en vermoënd genoeg om reisende leraars finansieel te ondersteun (vers 6) – soos Smalley dit tereg opsom (Word kommentaar).  Hy was egter ook iemand wat self maklik beïnvloedbaar was en daarom aangemoedig moes word om te fokus op die goeie voorbeelde, nie die slegtes nie (vers 11).

Teks en konteks

Johannes se voorbidding en blydskap oor Gaius se getrouheid aan die waarheid – vers 1-4

Johannes bid (N.A.V. vertaal “hoop”) dat dit met Gaius se gesondheid in alle opsigte net so goed sal gaan as wat met hom geestelik (Griekse woord siel word gebruik) gaan.  Dit is veral Gaius se getrouheid aan die waarheid wat vir Johannes groot vreugde verskaf.  Só het die berig Johannes bereik deur medegelowiges wat by hulle in Efese aangedoen het.  Gauis het die “pad van die waarheid geloop” (N.a.v. vertaal: “in die waarheid lewe”).

Johannes se blydskap oor Gaius se gasvryheid – vers 5-8

Johannes is ook bly vir Gaius se gasvryheid vir besoekende gelowiges, veral omdat dié mense vir hom vreemdelinge was.  Sy liefde vir hulle is prakties bewys en Johannes moedig Gaius aan om hulle verder te help op hulle reis vir die evangelie, op ’n manier wat God waardig sal ag.  Daarmee, sê Johannes, word ons medewerkers van die waarheid en help ons die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus.

Johannes kontrasteer die optredes van Diotrefes en Demetrius – vers 9-12

Johannes waarsku Gaius egter teen die hoogmoed en magsbeheptheid van Diotrefes wat gesteld is op sy status en magsposisie in die gemeente en daarom nie net Johannes-hulle se gesag verwerp nie, maar doelbewus slegte en valse gerugte oor hulle versprei.  Hy bewys ook nie gasvryheid nie, wat wys hoe hy ’n streep trek deur die praktiese hulpbetoon wat die kenmerk van die Christelike gemeenskap is en behoort te wees.  Trouens, hy keer dié wat gasvryheid wil betoon en dryf hulle uit die gemeente uit.

Johannes waarsku Gaius dus om hom van Diotrefes te distansieer en eerder die voorbeeld van Demetrius te volg wat ’n positiewe getuienis  van almal het, Johannes-hulle inkluis.  Daar word op een ander plek in die NT van ’n Demetrius gepraat, die silwersmid wat Paulus hulle soveel probleme in Efese gegee het (Hand. 19:23-41).  Dit sou wonderlik wees om te dink dat dié man tot bekering gekom het en nou as voorbeeld vir die gelowiges voorgehou word.  Daar is ook sprake uit ’n 4de eeuse tradisie van ’n Demetrius wat deur Johannes as biskop van Filadelfia aangestel is – die gemeente aan wie die 6de brief in Openbaring geskryf is (Openb. 3:7-10).  Daar is egter geen ander getuienis om dit te staaf nie, so dit bly net ’n interessante moontlikheid.

Slot

Johannes sluit die brief op dieselfde manier as sy 2de brief en voeg by dat Gaius se vriende vir hom groete stuur.  Johannes is op pad en sal sake aanspreek en regstel met sy koms.

Boodskap en betekenis

Die brief prys Gaius se getrouheid aan die waarheid en sy gasvryheid teenoor reisende gelowiges, en moedig hom aan om voort te gaan daarmee omdat dit die evangelie bevorder. Daarteenoor waarsku Johannes teen die selfsugtige optrede van Diotrefes, wat mag en status soek en die gemeente se liefde en gasvryheid ondermyn. Gaius moet eerder die voorbeeld van Demetrius volg, wat ’n goeie getuienis het. Die kernboodskap vir ons is dat volgelinge van Christus die waarheid moet uitleef deur liefde en gasvryheid, terwyl hulle valse en selfgesentreerde gedrag vermy.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!