Skip to main content

3 Johannes

Getrouheid aan die waarheid en gasvryheid word geprys en aangemoedig

Johannes noem homself in dié brief net soos in 2 Johannes weereens net die “Oudste” of “Ouderling”, soos die woord presbuteros vertaal kan word.  Hierdie rig hy die brief egter aan Gaius, “die geliefde”, soos die Griekse woord agapetos vertaal kan word.  Sommige vertaal dan dié woord ook as vriend, soos in die N.A.V.

Daar is drie ander Christene in die NT wat die naam Gaius dra:

  • Gaius van Korinte wat deur Paulus gedoop is en bekend gestaan het as ’n gasvrye man (Rom. 16:23; 1 Kor. 1:14);
  • Gaius van Masedonië wat saam met Paulus op sy tweede sendingreis was en saam met hom in die moeilikheid kom in Efese (Hand. 19:29);
  • Gaius van Derbe wat saam met Paulus op sy derde sendingreis was (Hand. 20:4). Laasgenoemde is deur Johannes biskop van Pergamum gemaak – die gemeente aan wie Johannes die derde brief in Openbaring geskryf het waarin hy leerstellige sake aangeraak het (Openb. 2:12-17) – volgens ’n tradisie wat uit die 4de eeu n.C. kom.

Hoewel Gaius uit Derbe dus die mees waarskynlike identifikasie met die Gaius in Johannes se derde brief is, kan ’n mens dit nie met stelligheid bewys nie, omdat daar geen ander duidelike aanduiding hiervan uit die vroeë kerkgeskiedenis is nie.  Die tradisie uit die 4de eeu verbind ongelukkig ook nie eksplisiet dié Gaius van Pergamum aan die Gaius van die 3de Johannes brief nie.  Dit bly egter die mees waarskynlike identifikasie.

Gaius word deur Johannes geskets as iemand wat hom aan die ware leer probeer hou het (vers 3-4), wat ’n groot invloed in sy gemeenskap gehad het (vers 5), omdat hy gerespekteer is (vers 2,6) en vermoënd genoeg om reisende leraars finansieel te ondersteun (vers 6) – soos Smalley dit tereg opsom (Word kommentaar).  Hy was egter ook iemand wat self maklik beïnvloedbaar was en daarom aangemoedig moes word om te fokus op die goeie voorbeelde, nie die slegtes nie (vers 11).

Teks en konteks

Johannes se voorbidding en blydskap oor Gaius se getrouheid aan die waarheid – vers 1-4

Johannes bid (N.A.V. vertaal “hoop”) dat dit met Gaius se gesondheid in alle opsigte net so goed sal gaan as wat met hom geestelik (Griekse woord siel word gebruik) gaan.  Dit is veral Gaius se getrouheid aan die waarheid wat vir Johannes groot vreugde verskaf.  Só het die berig Johannes bereik deur medegelowiges wat by hulle in Efese aangedoen het.  Gauis het die “pad van die waarheid geloop” (N.a.v. vertaal: “in die waarheid lewe”).

Johannes se blydskap oor Gaius se gasvryheid – vers 5-8

Johannes is ook bly vir Gaius se gasvryheid vir besoekende gelowiges, veral omdat dié mense vir hom vreemdelinge was.  Sy liefde vir hulle is prakties bewys en Johannes moedig Gaius aan om hulle verder te help op hulle reis vir die evangelie, op ’n manier wat God waardig sal ag.  Daarmee, sê Johannes, word ons medewerkers van die waarheid en help ons die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus.

Johannes kontrasteer die optredes van Diotrefes en Demetrius – vers 9-12

Johannes waarsku Gaius egter teen die hoogmoed en magsbeheptheid van Diotrefes wat gesteld is op sy status en magsposisie in die gemeente en daarom nie net Johannes-hulle se gesag verwerp nie, maar doelbewus slegte en valse gerugte oor hulle versprei.  Hy bewys ook nie gasvryheid nie, wat wys hoe hy ’n streep trek deur die praktiese hulpbetoon wat die kenmerk van die Christelike gemeenskap is en behoort te wees.  Trouens, hy keer dié wat gasvryheid wil betoon en dryf hulle uit die gemeente uit.

Johannes waarsku Gaius dus om hom van Diotrefes te distansieer en eerder die voorbeeld van Demetrius te volg wat ’n positiewe getuienis  van almal het, Johannes-hulle inkluis.  Daar word op een ander plek in die NT van ’n Demetrius gepraat, die silwersmid wat Paulus hulle soveel probleme in Efese gegee het (Hand. 19:23-41).  Dit sou wonderlik wees om te dink dat dié man tot bekering gekom het en nou as voorbeeld vir die gelowiges voorgehou word.  Daar is ook sprake uit ’n 4de eeuse tradisie van ’n Demetrius wat deur Johannes as biskop van Filadelfia aangestel is – die gemeente aan wie die 6de brief in Openbaring geskryf is (Openb. 3:7-10).  Daar is egter geen ander getuienis om dit te staaf nie, so dit bly net ’n interessante moontlikheid.

Slot

Johannes sluit die brief op dieselfde manier as sy 2de brief en voeg by dat Gaius se vriende vir hom groete stuur.  Johannes is op pad en sal sake aanspreek en regstel met sy koms.

Boodskap en betekenis

Die brief prys Gaius se getrouheid aan die waarheid en sy gasvryheid teenoor reisende gelowiges, en moedig hom aan om voort te gaan daarmee omdat dit die evangelie bevorder. Daarteenoor waarsku Johannes teen die selfsugtige optrede van Diotrefes, wat mag en status soek en die gemeente se liefde en gasvryheid ondermyn. Gaius moet eerder die voorbeeld van Demetrius volg, wat ’n goeie getuienis het. Die kernboodskap vir ons is dat volgelinge van Christus die waarheid moet uitleef deur liefde en gasvryheid, terwyl hulle valse en selfgesentreerde gedrag vermy.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.