Skip to main content

2 Konings 14:23-29

Die Here verlos Israel deur Jerobeam II, al doen ook hy wat verkeerd is in die oë van die Here

Teks en konteks

Met die dood van sy pa, Joas, word Jerobeam II koning van Israel. Hy geniet ’n baie lang regeringstyd  (41 jaar – 786-746 vC). Trouens, hy was heel moontlik polities-gesproke hulle beste koning, ten spyte van die feit dat hy steeds, soos sy voorsate, doen wat verkeerd is in die oë van die Here.

Die Konings skrywers dig darem een goeie ding aan hom toe, die herstel van ’n groot deel van die Dawidiese grense van Israel, wat Damaskus (histories gesproke het hulle weer ’n handelsarea daar gehad) en Hamat van die Arameërs weer onder Israelitiese gesag gebring het.

Volgens Amos 6:14 het Jerobeam sy koninkryk tot anderkant die Jordaan, die “vallei van die Araba”, uitgebrei wat beteken dat hy moontlik ook die Moabiete en die Ammoniete aan Israel se invloed onderwerp het.

Hierdie prestasie word egter steeds toegeskryf aan die genade van die Here wat deur die profesie van die profeet Jona aan Israel verkondig is. Konings vertel dit so: “Die Here het immers gesien dat die ellende van Israel baie bitter was. Dit was klaarpraat met wie gevange geneem is en wie vrygelaat is; en daar was geen helper vir Israel nie. Die Here het nie te kenne gegee dat Hy Israel se naam onder die hemel sou uitwis nie, en Hy het hulle verlos deur die hand van Jerobeam, seun van Joas.”

Maar, die oorwinning het ekonomiese welvaart gebring wat tot ’n groot kloof tussen ryk en arm sou lei, wat veral deur die profeet Amos aangespreek is. Amos se voorspelling dat Jerobeam II deur die swaard sou val (Amos 7:11) word wel nie vir hom waar nie, maar wel vir sy seun, Sagaria (2 Kon 15:10).

Die sonde van die Israeliete het egter nog nie sy volle maat bereik nie, en die Here het genadiglik ‘n bykomende tydperk van genade aan die volk voorsien waarin daar geleentheid was om tot bekering te kom. Volharding in afvalligheid sou egter vir seker uiteindelik die oordeel bring (Am 4:2-3; 6:14).

Hierdie tyd van godsdienstige formalisme en afvalligheid, sowel as sosiale ongeregtigheid – soos Amos en Hosea tydens Jerobeam se bewind hulle gewaarsku het – sou in ballingskap eindig.

Boodskap en betekenis

Die verhaal van Jerobeam II, hoewel kort, onderstreep die feit dat dit goed kan gaan op politieke en ekonomiese vlak, maar as ‘n volk nie die Here dien nie, dit steeds tot die ondergang van ‘n volk kan lei.

Dit is die refrein wat die profete hierna telkens sal uitbasuin. Soos Amos dit so treffend stel in ‘n regs-geding orakel gerig aan die adres van beide Israel en Juda (Amos 2:4-16):

So sê die Here: “Oor drie oortredings van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle die onderrig van die Here verwerp, en sy vaste voorskrifte nie nagekom het nie. Hulle vals gode het hulle laat dwaal, dié waaragter hulle voorouers aangeloop het.

Ek sal vuur slinger teen Juda; dit sal die vestings van Jerusalem verteer.”

So sê die Here: “Oor drie oortredings van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle regverdiges vir geld verkoop en behoeftiges vir ‘n paar sandale. Hulle trap op die stof van die aarde, op die koppe van armes; en stoot weerloses uit die pad. ‘n Man en sy vader gaan na dieselfde meisie, sodat hulle my heilige Naam ontheilig…

Kyk, Ek bring julle tot stilstand waar julle is; net soos ‘n wa oorvol van gesnyde graan tot stilstand kom. ‘n Toevlugsoord vir die vinnige het verlore gegaan; die sterke sal nie sy krag kan inspan nie en die held nie sy eie lewe kan red nie. Die boogskutter sal nie staande bly nie; die vlugvoetige sal nie ontkom nie, en die perderuiter nie sy eie lewe kan red nie. Die dapperste onder die helde sal op daardie dag kaal wegvlug,” is die uitspraak van die Here.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar