Skip to main content

Jeremia 1

Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies

Jeremia as priester-profeet

In teenstelling met die ander veertien Skrifprofete in die Bybel weet ons relatief baie van die profeet Jeremia. Hy was die seun van Gilkija, ‘n priester uit Anatot (vandag Almon), in die grondgebied van Benjamin, so 5 km noord–oos van Jerusalem (Jer. 1:1). Jeremia was daarom eintlik self ‘n priester, maar iemand wat die Here vroeg reeds as “profeet vir die nasies” geroep het (Jer. 1:5). Op grond van Jeremia 32 se grondtransaksie, waar Jeremia as losser optree vir een van sy familielede, kan ons ook aflei dat Jeremia `n redelik welgestelde man was.

Jeremia as mens

Wat veral uitstaan van die profeet Jeremia is dat ’n mens hom “as mens” kan leer ken, omdat daar ’n oorvloed van sy emosies, gesprekke en optredes regdeur die boek opgeteken is. Veral die sewe sogenaamde “Konfessies” van Jeremia gee ons ’n kykie in sy binnewêreld, waarin hy sy wroeging oor en tog onwrikbare verbintenis aan sy roeping roerend met ons deel:

  • Jeremia vra dat die Here wraak sal neem teen dié wat teen hom saamsweer – Jer. 11:18-20 – met die Here wat belowe dat Hy ’n ramp oor hulle sal bring – Jer. 11:21-23;
  • Jeremia kla oor die goddeloses se voorspoed – Jer. 12:1-4 – met die Here wat hom bemoedig en versterk vir nog moeiliker tye wat voorlê: “As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop?” – Jer. 12:5 vv.;
  • Jeremia kla dat die Here hom nie beter ondersteun in die teenstand wat hy ervaar nie – Jer. 15:10-12, 15-18 – met die Here wat hom berispe en bemoedig: “As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem.” – Jer. 15:19 vv.;
  • Jeremia pleit dat die Here nie vir hom ’n verskrikking sal word deur sy woord nie waar te maak nie – Jer. 17:14-18 – met die Here wat hom sy woord verder verduidelik en belowe dat Hy dit waar sal maak – Jer. 17:19 vv.;
  • Jeremia bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie – Jer. 18:18-23 – met die Here wat hom ondersteun met ’n volgende woord – Jer. 19:1 vv.;
  • Jeremia kla dat hy net nie meer kan nie, maar tog ook nie van sy roeping kan loskom nie – Jer. 20:7-10 – waarop Jeremia self ’n kort loflied tot God rig dat God tóg by Hom is en bely dat Hy armes uit die mag van slegte mense red – Jer. 20:11-13;
  • Jeremia vervloek die dag waarop hy gebore is, omdat hy net ellende, pyn en vernedering in die uitvoering van sy roeping belewe – Jer. 20:14-18 – waarop daar geen direkte antwoord kom nie. Dit is asof die Here geweet het van Sy Seun wat dieselfde tipe worsteling aan die kruis sou hê, ses eeue later, waarop God ook nie ’n antwoord sou kon gee nie. Daarom antwoord Hy ook nie nou vir Jeremia nie …

Daar is nog ’n hele paar ander gesprekke van Jeremia met die Here (en met ander mense) in die boek, sodat ’n mens in ’n sekere sin sou kon sê dat die boek ook ’n boek oor Jeremia is, eerder as net ’n boek van Jeremia, omdat sy eie ervaringe so ’n integrale deel daarvan uitmaak.

Die konteks van Jeremia

Jeremia se profesieë word gelewer teen die agtergrond van die drie groot wêreldmagte van sy tyd:

  • Assirië – wie se invloed begin taan het met die val van Assurbanipal en die opkoms van die Galdeër Nabopolassar in 627 v.C. en in 609 v.C. finaal verslaan is by Megiddo deur Egipte;
  • Egipte – wat die internasionale vakuum probeer vul het deur hulle mag in die Midde–Ooste uit te brei, maar deur die opkomende Babiloniërs verslaan is in 605 v.C. by Karkemis;
  • Babilon – wat onder Nebukadnesar tot die dominante wêreldmag in die tyd van die ballingskap van Juda uitgebou is.

Die boek Jeremia

Die boek van Jeremia is nie direk deur die profeet Jeremia geskryf nie, maar grotendeels gedikteer aan Baruk, sy sekretaris, soos dit in die boek vir ons aangegee word (vgl. Jer. 32:12; 36:4 vv.; 45:1). Baruk het ook op gesette tye die inhoud aan die leiers en die volk in die tempel gaan voorlees in opdrag van Jeremia (Jer. 36:8 vv.) en uiteindelik groot dele daarvan herskryf (Jer. 36:32), nadat Jojakim ’n groot deel daarvan verbrand het (Jer. 36:23).

Die Griekse vertaling (LXX) van die boek van Jeremia verskil redelik drasties van die Hebreeuse teks (MT) wat ons vandag in ons Bybels het. Nie net is dit omtrent ’n agste korter in lengte nie weens die weglating van woorde en frases en soms hele perikope nie (bv. 33:14-26; 39:4-13), maar die orde van die hoofstukke verskil ook. Die profesieë teen die nasies, hfst. 46-51, verskyn in die Griekse teks reeds ná hfst. 25:13.

Omdat daar onder die Hebreeuse boekrolle van Jeremia wat by Qumran in die veertigerjare van die vorige eeu ontdek is, ook een Hebreeuse rol gevind is wat met die Griekse vertaling ooreenstem, wil dit lyk asof daar ten minste twee verskillende Hebreeuse teks tradisies vir die boek Jeremia in omloop was. Omdat die LXX deur die vroeë kerk gebruik is, was die korter teks dus waarskynlik die boek van Jeremia wat in Jesus se tyd gebruik is. Die langer Hebreeuse teks het egter mettertyd voorrang begin geniet, en is dit in ons kanon ingesluit onder andere weens die invloed van Luther wat die MT verkies het.

Teks en konteks

Die vyftien Skrifprofete, soos Jeremia, word gewoonlik onderskei van die ander profete soos Moses (Deut. 34:10), Samuel (1 Sam. 3 vv.), Elia (1 Kon. 17 vv.), Elisa (1 Kon. 19 vv.), Gad (1 Sam. 21), Natan (Sam. 7), en Gulda (2 Kon. 22), om net ’n paar te noem, en ‘n hele paar anonieme profete (bv. Rigt. 6:8, ’n profeet wat die werk van Gideon voorberei het; die “ou profeet” wat die “man van God” mislei het in 1 Kon. 13 vv. en nog vele meer). Kyk hier na twee lyste uit Christelike en Joodse geledere van mense wat as profete in die Bybel beskrywe word: Jesus Alive; Judaism 101.

Die aksies en optredes van profete het normaalweg ‘n groter impak gehad as hulle woorde. Daarom kon iemand soos Abraham ook ’n profeet genoem word (Gen. 20:7). Maar die Skrifprofete se woorde was só belangrik geag dat dit bewaar is as die Woord van God wat ook vir komende geslagte betekenis sou hê.

Dit is ook belangrik om te weet dat hierdie profete se woorde in die eerste plek ‘n boodskap van God aan hulle eie tyd was, eerder as wat dit voorspellings vir en oor die toekoms was. Die betekenis vir latere tye lê ook nie soseer in die voorspellings in hulle profesieë nie, maar in die feit dat hulle woorde die werklikheid van God se werk in die geskiedenis bevestig as ’n oproep aan volgende geslagte om Hom ook te vertrou om in hulle eie tyd Homself te openbaar.

Dit geld dus ook vir die boodskap van die profeet Jeremia. Die eerste hoofstuk vertel vir ons iets van die tydperk van meer as veertig jaar waarin hy optree (1:1-3) en brei dan uit oor sy roeping (1:4-19).

Jeremia 1:1-3 – Die tydperk van Jeremia

Jeremia word hier as die seun van Gilkija, ‘n priester uit Anatot (vandag Almon), in die grondgebied van Benjamin, so 5 km noord–oos van Jerusalem (Jer. 1:1) geïdentifiseer. Jeremia was dus self ‘n priester, maar iemand wat die Here vroeg reeds as “profeet vir die nasies” geroep het soos ons in vers 5 sal sien.

Volgens vers 2-3 tree Jeremia op van 627 v.C. af, die dertiende jaar van koning Josia se regering en tree regdeur die regerings van Josia (640-609 v.C.), Jojakim (609-598 v.C.) en Sedekia (597-586 v.C.) op tot in 586 v.C. toe die volk in ballingskap weggevoer is. Joahas en Jojagin word nie in Jeremia se inleiding genoem nie, waarskynlik omdat hulle slegs 3 maande elk in dié tyd koning was.

Met die name van Josia, Jojakim en Sedekia word ’n mens voorberei vir die koppeling wat daar in Jeremia se woorde met hulle in die loop van die boek sal wees:

Jeremia 1:4-19 – Die roeping van Jeremia

Jeremia beskryf sy roepingsgebeure met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom”. Hoewel hy nie uitbrei oor die presiese aard daarvan nie, dui die res van die hoofstuk se beskrywings op ’n ervaring wat Jeremia met sy sintuie ervaar het. Ten minste sy ore, mond en sy oë was betrokke, soos ’n mens uit die roepings-woorde, die aanraking en die roepings-visioene aflei.

Die roepingsgebeure word ook as ’n gesprek tussen God en Jeremia uitgebeeld, soos meermale die geval was met ander ervarings van Bybelfigure wat deur God geroep is — Abraham, (Gen. 12), Moses (Eks. 3), Samuel (1 Sam. 3), Jesaja (Jes. 6), Esegiël (Eseg. 1) ensomeer. Trouens, dié tipe gesprek teken hulle verhouding met die Here. Gesprek met God stempel die pad wat hulle met Hom loop.

God se betrokkenheid by sy roeping word met vier werkwoorde gemotiveer: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies). Let op dat God hom ken nog voor die Here hom skep … ’n diepsinnige perspektief op die lewe! God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het.

’n Lewensveranderende gedagte om oor na te dink!

Interessant genoeg word dieselfde woord “aanstel” (gegee/gekies) gebruik vir die beskrywing van Abraham se roeping in Genesis 18:19. Amos gebruik dit ook met verwysing na die verkiesing van Israel (Amos 3:2):

Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.”

Peterson vertaal dit so mooi:

Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).

Jeremia se reaksie daarop is om sy jonkheid as hindernis voor te hou. “Ek is ‘n seun” sê Jeremia, ‘n woord wat beide vir babas en kleiner kinders sowel as vir tieners en jong volwassenes gebruik is. Sy presiese ouderdom kan dus nie hieruit afgelei word nie, maar hy was dus waarskynlik nog nie in sy twintigerjare nie. “Ek kan nie goed praat nie,” het waarskynlik meer met sy eie beoordeling van die “gesag” waarmee hy kan praat te doene, as dat hy nie vlot kon praat nie.

Die Here word egter nie daardeur van stryk gebring nie en praat hom moed in, meer nog raak sy mond aan, dié mond waaroor hy bekommerd is. Dit legitimeer sy woorde as God s’n. God se gesag sal dus sy woorde stempel. Dit herinner aan die gloeiende kool vuur waarmee Jesaja se mond aangeraak is toe hy oor sy onrein lippe gekla het (Jes. 6:6).

God spel Jeremia se roeping uit met ses woorde en twee visioene.

  • Die ses woorde behels oordeel: breek, uitroei, vernietig, platslaan, en heil (verlossing, redding): bou en vestig. Dit is ook ongeveer die ratio waarin sy profesieë gelewer is, dubbeld soveel profesieë van oordeel as profesieë van hoop.
  • Die twee visioene bevestig dat God gaan optree (amandeltak) — God sê letterlik Hy “staan wag” oor sy woorde, om te doen wat Ek gesê het — en dat die oordeel uit die noorde sal kom (kokende pot – die leërs van Assirië en Babilon kom natuurlik van die ooste, maar het telkens uit die noorde ingeval om die tog deur die Transjordanië woestyn oos van Juda te vermy).

Die betroubaarheid en sekerheid van God se woorde tref ’n mens opnuut. Die woorde, soos telkens in die res van die profesieë van Jeremia, verwys duidelik na die vloeke en seën van die verbond, soos in Lev. 26 en Deut. 28 aan die volk voorgehou is. Die seën en die straf word uitgespel in terme van die ekologie, ekonomie, gesondheid, en die politiek. Dit is die agtergrond en basis vir wat Jeremia regdeur die boek gaan sê. Die negatiewe kant van die beloftes van Levitikus en Deuteronomium gaan dus hier in vervulling.

Aan hierdie roeping word darem ook ’n belofte gekoppel dat die Here Jeremia sal staande hou, uitgedruk met drie metafore: ’n vestingstad, ’n ysterpilaar, en ’n bronsmuur. Die Here sal by hom wees om hom te red en te sorg dat hy nie oorweldig word nie.

Boodskap en betekenis

Dit is ’n ongelooflike ryk gedeelte. Aan die eenkant gee dit ’n mens ’n sleutel om die boek te verstaan, beide die tyd waarbinne Jeremia optree – van 627 vC tot ná die val van Jerusalem in 586 vC – sowel as die boodskap wat hy vir sy tyd ontvang het. Daarin speel die ses woorde van sy roeping veral ’n belangrike rol: breek, uitroei, vernietig, platslaan, bou en vestig.

Aan die ander kant is hier só baie waarop ’n mens kan konsentreer in terme van jou eie lewe: God se betrokkenheid by ons van vóór ons geboorte af, sy bereidheid om met ons in gesprek te gaan, sy beloftes wat ons motiveer om die roeping wat Hy vir ons het, aan te gryp.

Ek oordink vandag die woorde aan Jeremia as woorde ook aan my: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.” Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, het dit ook met my gedoen vir die roeping wat Hy vir my het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar