Skip to main content

Efesiërs 1

God seën ons om alles in almal te vervul

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye.  Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling.  Die tempel van Artemis (vgl. Hand. 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar.  Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Die brief aan die gemeente in Efese is die brief met die duidelikste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat die kerk is, en hoe die kerk moet funksioneer.  Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here oor die kerk geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan die gemeente deurgee om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, sodat hierdie wêreld kan glo.

Die brief is deur Paulus geskrywe, maar vanweë die meer onpersoonlike aard van die brief (hy noem niemand by die naam nie, behalwe Tigikus wat die brief aflewer) moontlik aan meer gemeentes gerig as net aan Efese.   Soos die ander gevangenskap briewe is Rome die meer waarskynlike plek vanwaar hy die brief geskryf het.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

Daar is baie raakpunte met die brief aan Kolosse  en selfs met die brief aan Filippi (mense van die lig bv).

Paulus begin sy brief aan hulle met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed.  In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (Ef. 1:3-14).  In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (Ef. 1:15-23).

Dit is al genoeg om oor na te dink!  God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe.  Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan.  Dit is iets waarvoor ons self kan en moet bid.  En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

Teks en konteks

Paulus loof die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus is – Efesiërs 1:3-14

Paulus herinner hulle aan die rykdom wat daar in God is as Vader, Gees en Seun.  Dit is hierdie tipe uitsprake wat die vroeë kerk oortuig het van die lering van die Triniteit.  Maar let ook op dat Paulus nie probeer om die lering regtig te verduidelik nie.  Hy erken dit net, maak die gemeente opgewonde daaroor en raai hulle aan om hierdie God te loof en te leer ken.

Kyk na die opeenvolgende werkwoorde in hierdie gedeelte.  Dit help baie om Paulus se gedagtegang te volg en dieper in sy boodskap in te kom.  Let op bv. na die werkwoorde waarmee Paulus God se werk in ons beskryf in vers 4-6: uitverkies, bestem, prys.  God het ons met die hand uitgesoek; Hy het sy kinders gemaak; Daarom moet ons Hom prys.  Dit beteken vir my my dat ek nie sy arm hoef te draai om vir my lief te wees nie.  Ek hoef ook Hom ook nie te probeer beïndruk met wat ek doen nie.  Ek kan maar net rustig sy geselskap opsoek en  met Hom in gemeenskap lewe.  Jy kan dit met ander werkwoorde ook doen (en ook met ander Bybelgedeeltes).

Wat my tref – en waaroor ek die res van die dag wil nadink – is dat God ons gekies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees (vers 4).  Dit sê vir my drie dinge: dat ek iets van God moet uitstraal vandag (heilig); dat ek in alles sal streef daarna om reg te doen (onberispelik); dat ek bewus van God sal lewe in alles wat ek doen (voor Hom).  Dit is hoe prakties die geestelike lewe is.  Laat my dink aan Miga 6:8 wat in soortgelyke taal sê dat al wat God van ons vra is om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor God.

Die uitverkiesing gebeur “in Christus”, soos vers 4 sê.  Die feit dat God dit voor die skepping van die wêreld besluit het, beteken dat God se besluit van die begin af vasstaan.  Ons kan daarop reken dat dit vir ons ook waar is.  Die feit dat dit “in Christus” is, beteken dat alles aan ons binne die verhouding met Christus geskenk word.  Dit is waarom dit so uiters belangrik is om in ‘n verhouding met Hom te lewe.  Sonder dié verhouding loop ons die gevaar om God se gawes aan ons te mis.

Let op hoe Paulus in 12 tot 14 met die voornaamwoorde die eenheid beklemtoon wat in Christus gekom het.  Hy praat eers van die Jode met die gebruik van die voornaamwoord ons: “ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het”.  Dan praat hy van die gelowiges uit die heidense volkere met die gebruik van die voornaamwoord julle: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God”.  Dan praat hy van die Heilige Gees wat “julle as die eiendom van God beseël (het)” (die gelowiges uit die heidene) en op soortgelyke wyse van die Heilige Gees wat die “waarborg (is) dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het” (die gelowiges uit die Jode).  In taal wat ‘n mens nogal sterk herinner aan Petrus se woorde op Pinksterdag (Hand. 2:38-39) begrond Hy dus die eenheid tussen gelowiges uit die Jodedom en die heidendom in die geloof in Christus en in gawe van die Heilige Gees.  Daarmee spel Paulus die praktiese implikasies uit van die eenheid waarop God die Vader besluit het, om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” (vers 10).  En let op dat die eenheid kosmies van aard is, en nie net kerklik nie.

Paulus bid dat hulle God werklik sal ken – Efesiërs 1:15-23

Saam met die dankgebed aan God vir hulle geloof en liefde, bid Hy indringend dat God die hoop in hulle verder sal aanwakker.  Dit is merkwaardig hoe baie kere Paulus oor hierdie drieling geloof, hoop en liefde skrywe – in ‘n sekere sin een van die kortste opsommings van waaroor dissipelskap gaan (1 Kor. 13:13 en vele ander plekke in Paulus se briewe).  Paulus hoor dus van hulle dat hulle geloof en liefde groei en dat mense daarvan praat, maar dat hulle sukkel met die vashou aan God se toekoms vir hulle.

Daarom bid hy dat hulle geestesoë sal oopgaan om die hoop juis in drie goed te sien: 1) in hulle roeping hier en nou waarvoor hulle met al die geestelike seëninge in die hemel geseën is, 2) in hulle hemelse erfenis wat nie deur aardse gebeure geraak kan en sal word nie en 3) in die groot krag van God wat in hulle aan die werk is; ‘n krag wat met die opstanding en Hemelvaart van Jesus Christus gedemonstreer is, en vir hulle as ‘n voorbeeld dien van wat God alles nog vir hulle kan doen.

Let op dat die posisie van Christus as: “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy” uitgespel word.  Dit het volgens Paulus nie net betrekking op wat nou aan die gebeur is nie, maar sal selfs in die bedeling wat kom (die nuwe hemel en aarde) van krag wees.  En dit is dié Jesus wat die hoof van die kerk is.  Ons sal later meer hieroor nadink, veral in hoofstuk 3 en dan weer in hoofstuk 6.

En dan een van die rykste en wonderlikste uitsprake oor die kerk – vers 23 – “Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”  ‘n Mens kan baie hieroor sê, maar dink net nou eers oor die een revolusionêre ding.  Paulus sê hier dat die kerk deur God gebruik word “om alles in almal te vervul”.  Dit is nie ‘n klein en onbelangrike opdrag nie.  Om die waarheid te sê, dit is meer as ‘n opdrag.  Dit word beskrywe as iets wat doodgewoon gebeur… en ons moet daarby inskakel.

Boodskap en betekenis

Efesiërs 1 wys dat God ons van ewigheid af in Christus gekies en geseën het deur die Gees met alles wat ons nodig het om in verhouding met Hom te leef. Hierdie uitverkiesing en seëninge is bedoel om ons heilig, onberispelik en in liefde voor Hom te stel. Paulus beklemtoon die eenheid van alle gelowiges – Jood en heiden – as deel van God se plan om alles in hemel en op aarde onder Christus te verenig. Hy bid dat gelowiges God werklik sal ken, hulle roeping sal verstaan, die sekerheid van hulle erfenis sal besef en die krag van God wat in hulle werk, sal ervaar.

Daarmee leer Paulus ons dat ons identiteit, doel en krag in Christus geanker is, en dat die kerk nie net ’n plaaslike instansie is nie, maar God se instrument om “alles in almal te vervul”. Gelowiges word uitgenooi om met geestelike insig en hoop te leef, bewus van hulle hemelse roeping en eenheid in Christus, sodat die wêreld God se volheid deur die kerk kan sien.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.