Skip to main content

Spreuke 10:1-32

God sorg vir die opregtes

Spreuke 10:1-2

Die 10 lewenslesse wat die pa aan sy seun gegee het, die twee paaie waarvan hy hom geleer het (Spr 1-8), en die twee vroue waaroor die pa hom geleer het, Vrou Wysheid en Vrou Dwaasheid (Spr 9), word nou in Spreuke 10-31 aangevul met letterlik honderde lewenswyshede wat pas by die keuse vir die regte pad, by die keuse om te luister na Vrou Wysheid.

Hierdie wyshede is opgesom in ongeveer 562 spreuke, gesegdes, en wyshede vir ’n wyse lewe. Die spreuke is in 6 bundels saamgevoeg wat onderskeidelik met:

  • Salomo (2 bundels met onderskeidelik ongeveer 375 en 137 spreuke elk),
  • die Wyses (2 bundels met onderskeidelik 30 en 5 spreuke elk),
  • Agur (12 spreuke, saam met ’n paar vrae en ’n gebed), en
  • Lemuel se ma (3 uitgebreide spreuke) verbind word.

Die eerste bundel van Salomo (Spr 10:1-22:16) sluit baie nou by die inleiding in die eerste nege hoofstukke aan, met Spreuke 10:1 wat sowel by die tema van wysheid en dwaasheid, as by die tema van ’n gesprek tussen ouers (pa en ma) met hulle kind aansluit.

Interessant is die positiewe noot waarop dit begin, iets wat regdeur hierdie bundel volgehou sal word.

’n Mens kan die eerste bundel in twee dele verdeel:

  1. Spreuke 10:1-15:29 waarin veral met antiteses gewerk word. Onthou, antiteses is teenstellings waar die spreuk uit twee teenoorgestelde begrippe langs mekaar bestaan. Byvoorbeeld in Spreuke 10:4 kry jy die stelling: “’n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm.” En dan volg die tweede deel, die teenstelling: “Dit is vlyt wat ryk maak.”
  2. Spreuke 15:30-22:16 waarin veral met sinteses gewerk word. Onthou, sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Byvoorbeeld in Spreuke 15:30 kry jy die stelling: “Stralende oë bring blydskap”. En dan volg die tweede deel, die ooreenstemmende bevestigende stelling: “Goeie tyding verkwik ’n mens.”

Vers 1 brei uit oor die effek wat kinders op ouers het. Vers 2 brei uit oor die duursaamheid van ’n eerlike en opregte lewe.

Peterson vertaal die eerste deel van vers 2 só: “An honest life is immortal” (The Message). Dit sê vir ons dat ’n lewe wat opreg en eerlik geleef word, ’n ingeboude duursaamheid het.

Die oorspronklike Hebreeuse woord wat hier gebruik word, is geregtigheid, wat in die 1983-vertaling vertaal is met “volgens die wil van God”. Die woord het egter meer die betekenis van eerlikheid in kontras met die oneerlike en onregverdige maniere waarop goddeloses hulle welvaart bekom, soos in die eerste deel van die vers uitgespel is. Skatte verwerf sonder God bring dus rykdom sonder langtermyn voordele.

Spreuke 10:3-4

Vers 3 beklemtoon dat die Here soos ’n voëlouer die bekke van sy kinders volmaak. Die regverdige kry nie te min nie, maar die goddelose se gulsigheid dwarsboom Hy. Vers 4 bevestig dat die wet van opbrengs op belegging ook hier geld. Traagheid lei tot armoede. Hardwerkendheid tot rykdom.

Spreuke 10:5

Peterson vertaal só: “Make hay while the sun shines—that’s smart; go fishing during harvest—that’s stupid.” (The Message).

Spreuke 10:6-7

Spreuke kontrasteer die regverdige met die goddelose. ’n Regverdige ontlok woorde van oorvloedige seën, maar tegelykertyd ook woorde van bedekte geweld. Die goddelose kan regverdiges eenvoudig nie verdra nie. Die belofte is egter dat ’n regverdige se nalatenskap ’n permanente seëning vir ander sal bly, maar dié van die goddelose genadiglik sal vergaan (verrot).

Spreuke 10:8-9

Spreuke sit die tema van leerbaarheid voort. Die een met die wyse hart luister na God se gebooie en leef met integriteit. “Nothing to hide, nothing to fear.” Die een met die dwase lippe verdraai die waarheid en is onleerbaar. Perverse gedrag lei na jou ondergang.

Spreuke 10:10

Spreuke spreek onderduimsheid aan (met die oog knip). ’n Klein oortreding het groot gevolge. Valsheid bring mens egter tot ’n val.

Spreuke 10:11-12

Spreuke onderskei twee maniere van praat en die motivering daaragter. Die regverdige se woorde bring lewe. Die goddelose se woorde blaas geweld aan, al klink dit op die oog af mooi. Waar haat die motivering is vir wat jy sê, bring dit mense in konflik met mekaar. Waar liefde die motivering is vir wat jy sê, bring dit mense bymekaar. Liefde werk dus presies soos vergifnis. Dit wil die oortredinge uitvee (vgl 1 Kor 13:7).

Spreuke 10:13-14

Spreuke onderskei steeds twee maniere van praat. Wysheid kom van weldeurdagte woorde. Dink dus voor jy praat, anders bring dit jou diep in die moeilikheid. ’n Wyse loop ook nie te koop met sy skat van wyshede nie. Want, ’n dwaas kom in die moeilikheid deur sy of haar verbale diarree.

Spreuke 10:15-16

Hierdie spreuke bring balans in hoe ’n mens oor rykdom en armoede dink. Uiteraard moet ’n mens wysheid eerste stel (vgl Spr 3:13-15), en nie jou welvaart deur onreg bekom nie (vgl Spr 10:2; 16:8), maar armoede is nie speletjies nie, veral nie as dit deur eie toedoen is nie (Spr 10:5). Welvaart moet nie in beginsel as ’n onding verag word nie. Armoede ook nie as ’n deugde omarm word nie (vgl Spr 14:20; 18:23; 19:7; 22:7). Die verdienste van ’n regverdige bring lewe. Die inkomste van ’n goddelose bring oordeel.

Spreuke 10:17

Dié vers word só goed verwoord deur Peterson: “The road to life is a disciplined life; ignore correction and you’re lost for good.” (The Message). Leerbaarheid lei tot die lewe. Arrogansie lei tot die dood.

Spreuke 10:18

Vers 18 beskryf die dilemma van ’n hater. As jy haat wegsteek agter jou vriendelikheid, is jy oneerlik en vals, ’n huigelaar. As jou gevoelens van haat jou oor iemand laat skinder, dan laster jy, en is jy ’n dwaas. Praat met God oor iemand, voor jy direk met iemand praat, en vermy skinder soos die pes.

Spreuke 10:19

Spreuke raai ons aan om woorde spaarsamig te gebruik: “The more talk, the less truth.” Hoe meer woorde, hoe minder wysheid: “The wise measure their words.” (The Message)

Spreuke 10:20-21

Hierdie spreuk word deur Jesus gebruik in sy gelykenis oor die boom wat aan sy vrugte geken word (Luk 6:45). Dit vorm die basis van ’n Afrikaanse spreekwoord: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” Woorde uit ’n regverdige hart help baie mense reg. Woorde uit ’n dwase hart bring selfs die goddelose tot ’n val.

Spreuke 10:22

In die Hebreeus lui hierdie vers letterlik: “Die seën van Jahwe, dit maak ryk, en Hy vermeerder nie swaarkry daarmee saam nie.” Die ESV vertaal daarom: “The blessing of the Lord makes rich, and he adds no sorrow with it.” Hy seën sonder swoeg!

Dit maak vir my meer sin as die Afrikaanse vertalings wat die tweede deel van die sin vertaal met: “jou geswoeg laat dit nie meer word nie,” (1983-vertaling) of “moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.” (1933/53-vertaling). Al is die boodskap daarvan ook waar – soos Peterson dit so pragtig vertaal: “nothing we do can improve on God” (The Message) – is die boodskap van die teks eerder dat God se seën nie bedoel is om jou swaarkry te vermeerder nie.

Spreuke 10:23

Spreuke leer ons dat smaak verskil. Dwase mense geniet skandelike dade, want hulle beskou alles as ’n grap. As jy nie saamwerk nie, is jy ’n “spoil sport.” Skerpsinnige mense geniet egter wysheid, want hulle sien deur dwases se bose planne. Jy sal moet kies!

Spreuke 10:24-25

Derek Kidner gee hierdie twee verse die opskrif: “The insecurity of the wicked.” (Proverbs), Die diepste vrees van die goddelose is tegelykertyd die diepste begeerte van die regverdige. God. Wanneer die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen. Die regverdige daarenteen bly vir ewig staan. Trouens, hulle “is ’n ewige fondament” soos die Hebreeus dit letterlik uitdruk. Soos Jesus hierdie woorde uit Spreuke gebruik aan die einde van die Bergrede: Die wyse man bou sy huis op die rots … en die dwase man bou sy huis op die sand. (Matt 7:24-25).

Spreuke 10:26

Daar is talle beskrywings in Spreuke van die luiaard. Spreuke beskryf hier sy traagheid as ’n bron van irritasie vir enigiemand vir wie hy iets moet doen. So moedig die talle ander beskrywings in Spreuke jou aan om die karakter van die luiaard te vermy. Moenie bly slaap soos ’n skarnier aan jou bed nie (Spr 26:14). Moenie jou luiheid agter verspotte verskonings wegsteek nie: “daar is ’n leeu daar buite” (Spr 26:13). En sorg veral dat jy dinge klaar maak. Die luiaard lei selfs skade deurdat hy nie eers sy kos in sy mond sit nie (Spr 26:15).

Spreuke 10:27-28

Spreuke kontrasteer die lewensvooruitsigte van dié wat die Here vrees en dié wat Hom verag. Die regverdige kan met vreugde uitsien na God se sorg in ’n lang lewe. Die goddelose het geen hoop buite homself wat enigsins standhoudend is.

Spreuke 10:29-30

Spreuke kontrasteer steeds die regverdige en die goddelose. Vers 29 lui meer direk vertaal so: “Die weg van die Here is ’n toevlug vir regdoeners, maar ondergang vir boosdoeners.” Vers 30 verklaar dat die regverdige onwankelbaar sal leef vir ewig. Die goddelose sal dit egter nie eers hier op aarde enduit maak nie.

Spreuke 10:31-32

Spreuke kontrasteer die woorde van die regverdige en dié van die goddeloses. Die regverdige se woorde is wys en aanvaarbaar. Die goddeloses se woorde is pervers en verdraai die waarheid. “Die valse tong word uitgeroei” (1933/53-vertaling), bedoelende, hulle valsheid sal vernietig word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.