Skip to main content

Spreuke 21:1-31

God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge

Spreuke 21 toon van meet af aan meer van ‘n eenheid as van die ander hoofstukke in hierdie versameling van Salomo se spreuke. Dit begin en eindig met ‘n verwoording van God se aktiewe betrokkenheid in alles wat gebeur, van die koning af regdeur tot by gewone mense (vgl Spr 21:1-2; 21:30-31).

Vyf keer word die woord “reg” en twee keer die woord “geregtigheid” gebruik om die lewenstyl wat God se guns wegdra, uit te druk, veral in die sin van ‘n hoë premie te stel om goeie verhoudings oor die spektrum van die lewe te handhaaf (vgl Spr 21:2, 3, 7, 15, 18, 21).

Dit verskaf die goue draad wat die spreuke by mekaar laat pas. Die kersie op die koek – die sleutel om die hoofstuk se boodskap te verstaan – is die spreuk wat die herstel van verhoudings in God se regverdigheid sien – die “Regverdige Een” soos die “regverdige” daar vertaal kan word (Spr 21:12). God se reg en geregtigheid motiveer ons om goeie verhoudinge te handhaaf. Ons kan Hom immers vertrou om dinge reg te stel.

Spreuke 21:1-2

Vers 1. Die Here bepaal ‘n koning se koers. Sy wil en besluite (hart in Hebreeus) is in God se hand. Hy lei dit soos ‘n stroom water in God se rigting. Dit gee ‘n mens moed om God se hand aktief te soek in alles wat gebeur, selfs wanneer jy geen direkte invloed daarop kan uitoefen nie.

Soos Richard Niebuhr so raak gesê het: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).

Dit geld ook die invloed van die konings van hierdie wêreld. Vers 2. Jy kan die Here nie flous met jou planne nie, want Hy toets of weeg die hart – jou karakter, jou gesindheid en motiverings (vgl Spr 16:2). Spreuke 17:3 sluit hierby aan en spel uit hoe God “harte” toets: Hy louter dit soos ‘n mens goud in ‘n oond hanteer, dws onder buitengewone “warm” omstandighede!

Spreuke 21:3

Reg en geregtigheid – gehoorsaamheid aan God se bevele in die Skrif – is vir God beter as offerandes. So leer die profete Samuel (“gehoorsaamheid is beter as offerande” – 1 Sam 15:22), Jesaja (“Ek verdra nie feesviering saam met onreg nie” – Jes 1:13), Jeremia (“julle moet leef soos Ek julle beveel” – Jer 7:22-23), en Hosea (“Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied” – Hos 6:8) ons ook. Daarmee word offerandes nie afgeskiet nie, maar hulle waardeloosheid uitgewys as dit nie gepaard gaan met ’n regverdige lewe nie. God se guns kan nie “gekoop” word met offerandes nie. Hy soek absolute gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil in die Skrif.

Spreuke 21:4

Selfverheffing en hoogmoed lei tot goddeloosheid. Die tweede deel van die vers kan óf vertaal word met “die lamp van die goddelose is sonde”. Dws, die goddelose se koers word deur die sonde bepaal (vgl 1 Kon 11:36 waar die koning as ‘n lamp of ‘n lig beskrywe word; die woord word hier in ‘n negatiewe sin gebruik). Óf met “die geploegde land van die goddelose is sonde.” Dws, die goddelose se lewe word deur sonde gekenmerk (vgl Hos 10:12).

Dit is eintlik so vanselfsprekend. Verloor jou ontsag vir ander, dan verloor jy jou ontsag vir God. Die omgekeerde is ook waar. Verloor jou ontsag vir God, dan verloor jy ook jou ontsag vir ander, iets wat regdeur Spreuke beredeneer word. En dit is ook wat die wet sê (Eks 20), en waarby Jesus in die NT aansluit met die liefdesgebod (Matt 22) – die liefde vir God en die naaste is die diepste waarheid oor wat die lewe die moeite werd maak, ware lewenswysheid. ‘n Mens gehoorsaam dus nie die liefdesgebod omdat God jou verplig nie, maar omdat dit die wyse ding is om te doen, en die lewe dan die moeite werd vir almal word.

Spreuke 21:5-7

Vers 5. Deeglike beplanning en doelgerigte uitvoering bring oorvloed, maar onnadenkende oorhaastigheid bring gebrek. Soos die Afrikaanse spreekwoord lui: “Haastige hond verbrand sy mond.” Vers 6. Jy verloor maklik rykdom wat deur bedrog bekom is, en sommer jou lewe op die koop toe. Vers 7. Die geweld van goddeloses wreek hom op hulleself weens hulle onvermoë om verhoudings (reg doen) in stand te hou. Hulle is soos kaf wat wegwaai in die wind.

Spreuke 21:8-10

Vers 8. Slegte mense is onderduims. Goeie mense is oop en eerlik. ’n Skoon lewe en ’n skoon gewete gaan saam. Vers 9. Dit is onuithoubaar sleg in ‘n verhouding met ‘n twisgierige maat. Dit is dan beter om in die gebruiklike kamertjie vir gaste op die hoek van die dak van Joodse huise te bly, al is dit klein en alleen. Maar dit kan altyd nog slegter. Kyk na vers 19! Vers 10. ‘n Slegte mens is kwaadwillig en ongenadig teenoor sy naaste. Sy kwade bedoelings moet egter nie as ’n swakheid verskoon word nie, maar as die meedoënlose passie wat dit is diep in sy siel. Sy binnekant het ’n onblusbare aptyt vir die verkeerde.

Spreuke 21:11-12

Vers 11. ’n Spotter sal nie verander deur straf nie (vgl Spr 13:1), maar ’n eenvoudige of naïewe persoon leer daardeur. Dit is die doel van straf vir spotters. Wyse mense het egter geen probleem om kennis deur onderrig te verwerf nie. Vers 12. Die vers is die sleutel om die hoofstuk se boodskap te verstaan. Die “Regverdige Een” soos die “regverdige” vertaal kan word, sien alles wat in die goddelose se huis aangaan, en tref hom met ellende.

Spreuke 21:13

Deernis met armes baat jouself wanneer jy self hulp nodig het. Dit is iets waarop ‘n slegte mens nie kan staatmaak nie (vgl Spr 21:10).

Spreuke 21:14-16

Vers 14. Die eerste deel van die vers formuleer die werklikheid dat ‘n geskenk wat in die geheim gegee word, ‘n groot krisis kan afweer. Maar in die tweede deel wys Spreuke hoe moeilik dit is om ’n bona fide geskenk te onderskei van ’n omkoopgeskenk. Versigtig dus vir dinge in die geheim doen. Donkerwerk is uiteindelik konkelwerk, lui die Afrikaanse spreekwoord. Vers 15. Wanneer reg geskied, gee dit regverdiges moed, en ontkrag dit onregverdiges. Vers 16. Verstandigheid – die weg van wysheid – moet voortdurend volgehou word. As jy afdwaal, beland jy uiteindelik in die geselskap van die dooies – “congregations of ghosts” (The Message), die doderyk – waar jou vryheid vir altyd tot niet is.

Spreuke 21:17-18

Vers 17 is baie goed vertaal in die 1983-vertaling. Die woord vir “plesier” in vers 17 is dieselfde woord wat in vers 15 vir “bly wees” gebruik word. Spreuke kontrasteer dus twee lewenswyses. Plesiersoekers word vasgevang deur plesier en feesviering. Regdoeners vind daarenteen die blydskap wat plesiersoekers ontwyk. Vers 18. Bykans alle mense verkies eerlike en betroubare persone. Hulle “ruil” maklik ’n goddelose vir ’n regverdige, en ’n onbetroubare vir ’n betroubare een.

Spreuke 21:19-20

Vers 19. Dit is beter om in die hitte van die woestyn te bly, as by ‘n twisgierige en humeurige (“easily-provoked”) maat. Dit is hoe sleg dit kan wees as jou maat se lont kort is (vgl vers 9). Verhoudings waarin rusies baie voorkom, is regtig nie maklik om te hanteer nie! Vers 20. Wysheid het ‘n ingeboude waarde wat keer dat goed sommer verkwis word. Dit is ’n skat vir gebruik in die toekoms, en olie vir gebruik in die hede. Dwase verkwansel egter alles.

Spreuke 21:21-22

Vers 21 spel weer die twee dinge uit waarop ’n mens moet fokus: om reg te doen (dié dinge wat die Here vra), en om troue liefde in al jou verhoudings te bewys. Dit bring lewe, oorvloed en eer. Vers 22. Wysheid kan selfs die dapperste verdediging troef (vgl Spr 24:5-6; Pred 9:16, 18).

Spreuke 21:23-24

Vers 23. Selfbeheersing in kommunikasie beskerm jou van gevaar. Vers 24. Respekloses se arrogansie ken egter geen perke nie.

Spreuke 21:25-26

Die twee verse is ’n eenheid. ’n Luiaard se begeerte na meer kom tot niks, omdat hy terugdeins vir die harde werk wat nodig is om besittings bymekaar te maak. ‘n Regverdige daarenteen kan bekostig om vrygewig te wees met alles wat hy deur harde werk verwerf het.

Spreuke 21:27

Die Here walg aan die slegte bedoelings van goddeloses wat offers bring. Dit verdiep die boodskap van vers 2-3, dat God weet wat in ons binnekant aangaan, en dat Hy reg doen verkies bo ‘n skynheilige regstelling.

Spreuke 21:28-29

Vers 28. Hoe nodig het ons nie vandag betroubare getuienis nie. Mense wat eerlik is in wat hulle verkondig. Dink veral aan die publieke rolspelers in die media, politiek en ekonomie. Vers 29. Koersvastheid wys wat in ‘n mens se karakter steek. Dit is maklik om iemand uit te ken wat voorgee dat hy weet wat hy doen. Hy dwaal rond. Dit is net so maklik om iemand uit te ken wat weet wat hy doen. Hy bly by die koers wat hy gekies het.

Spreuke 21:30-31

Weereens is vers 30-31 ’n eenheid. God se wil gee in alles die deurslag, nie ons wyheid, insig of besluite nie. “Nothing clever, nothing conceived, nothing contrived, can get the better of God.” (The Message). Jy kan die beste planne maak – perde afrig vir die oorlog – maar dit is die Here wat die oorwinning gee (vgl Job 5:12-13). Positief gestel: “Do your best, prepare for the worst – then trust God to bring victory.” (The Message)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar