Skip to main content

Spreuke 24:1-22

Oorwin die kwaad met die goeie

Spreuke 24:1-2

Spreuk 20 – Moenie slegte mense beny nie.

Daar is altyd die versoeking om slegte mense te beny dat hulle met geweld vat wat hulle wil, en niks en niemand in hulle pad laat staan om te kry wat hulle wil hê nie. Om die waarheid te sê, kwaaddoeners word baie keer selfs bewonder vir hulle sukses, waarmee die vrae wat ‘n mens met reg oor hulle metodes en karakter kan vra, oordonder word. En dit is net ‘n kort treetjie van beny na begeer en uiteindelik om dieselfde as hulle te wil doen.

Daarom moet hulle geselskap self vermy word, sê Spreuke. Vergelyk ook die motivering wat Spreuke gee op twee ander plekke oor dieselfde saak. In die een geval motiveer hy ons deur die toekoms wat die Here vir ons belowe as ons op die regte pad bly (vgl Spr 23:18). Ons moet kwaaddoeners dus nie beny nie, want ons toekoms is in God se hande. In die ander geval motiveer hy ons deur kwaaddoeners se uiteinde te beskryf. Die lewenslig van goddeloses sal vir ewig uitgedoof word (vgl Spr 24:20).

Uit ‘n NT hoek is dit natuurlik ook ‘n deel van die verleiding van die versoekings waarvoor die duiwel Jesus geplaas het (Matt 4:1-11) – om verstommende, aangrypende, en magtige dinge te doen wat mense eenvoudig sou dwing om sy boodskap te aanvaar. Jesus verweer Hom daarteen deur God se pad te kies:

  • om God se wil te ken en te doen en nie wonders tot sy eie voordeel te doen nie (klippe in brood),
  • om God se tydsberekening en metodiek te aanvaar en te kies, en God nie te probeer dwing om aangrypende dinge te doen voor die mense wat as ‘n kortpad sonder die kruis tot Jesus se voordeel sou wees nie (spring van die tempel af), en,
  • om God alleen te dien uit ontsag vir Wie Hy is, en nie die koninkryke van die wêreld met mag en geweld aan Homself onderdanig te maak nie, soos wat die duiwel Hom aangebied het nie. Jesus moes self leer op ‘n harde manier om nie die duiwel te beny vir die slegte goed wat hy voorgestel het nie.

Spreuke 24:3-4

Spreuk 21 – Bou met insig en verstand.

Drie goed is nodig om iets te bou wat stewig kan staan, en met kosbare en mooi goed volgemaak kan word: verstand, insig en kennis.

Spreuke 24:5-6

Spreuk 22 – Wyse leiers span raadgewers in.

Wysheid is die eintlike mag, maar dit kom nie van een mens of een bron af nie, eerder van baie raadgewers af en dan net ná beraadslaging.

Spreuke 24:7

Spreuk 23 – Gesamentlike onderskeiding snoer die mond van die sotte.

Die noodsaak van ’n verskeidenheid van raadgewers is waar nie net van oorlog nie, maar eintlik van enige situasie waarin die moontlikheid van groot konflik en vyandskap bestaan. Spreuke onderstreep hiermee die belangrike rol van gesamentlike onderskeiding, iets wat ook in die NT se geloofsonderskeidende prosesse nagevolg is en ‘n patroon vir gelowiges geword het om in hulle besluitneming te gebruik (Hand 15). Wanneer wyse leiers só werk, snoer dit dwase se monde.

Spreuke 24:8

Spreuk 24 – Gesamentlike onderskeiding ontbloot dwase se knoeiery.

Meer as een raadgewer verhoog die moontlikheid om die planne van dwase as knoeiery en sonder respek vir God en ander te ontbloot.

Spreuke 24:9-10

Spreuk 25 – Gesamentlike onderskeiding voorkom lafhartigheid.

Dit is dan ook die enigste manier waarop ‘n mens dwaasheid kan troef, deur dit deur ‘n groter groep van onderskeidende gelowiges te laat hanteer. Dit voorkom lafhartigheid en versterk almal wat saam werk hieraan.

Onthou ligsinnigheid beteken eintlik respekloosheid. Hierdie waarheid word afgerond met die gedagte dat ‘n mens baie kan aflei van jou voorbereiding vir iets, as jy kyk na jou reaksie wanneer die dag van nood jou tref: as jy aarsel, is jy nog nie opgewasse daarvoor nie … en het jy nodig om meer tyd aan gesamentlike onderskeiding te bestee.

Spreuke 24:11-12

Spreuk 26 – God verwag van ons om mense te probeer red van die dood.

Of dit nou is weens sonde, siekte, onreg of gevaar. “Hold back those slipping to the slaughter.” (NET). Ons het ‘n onvervreembare verantwoordelikheid om nie maar net te huil oor dié wat swaarkry en weerloos afgemaai word nie, maar inderdaad iets te doen om sulke mense te help en te red. Deur gebed en gesprek moet ons in die bres gaan staan vir die hulpeloses. Spreuke herinner ons ook daaraan dat God alles weet, ook wanneer ons onkunde pleit om ons eie nalatigheid om in te gryp, te probeer verskoon.

Spreuke 24:13-14

Spreuk 27 – Wysheid en kennis gee ‘n hoopvolle toekoms.

Met ‘n baie innemende vergelyking word kennis en wysheid met heuningstroop vergelyk. Dit is hoe lekker dit is wanneer ‘n mens wysheid ontdek en begin toepas. Jou visie op die toekoms word daarop gebou. Dit gee jou ‘n hoop wat onvernietigbaar is.

Spreuke 24:15-18

Spreuk 28 – Regverdiges verheug hulle nie oor hulle vyand se val nie.

Hierdie spreuk kan ook in twee dele verdeel word (Spr 24:15-16; 24:17-18), maar dit pas ook goed as ‘n eenheid by mekaar, veral in die prentjie wat dit teken van regverdiges se hantering van onregverdiges. Soos ‘n vriend van my gesê het: “Walk in the opposite spirit”!

Dit is uiters belangrik om nie die kwaad met kwaad te probeer vergeld nie. Want dan raak jy eintlik net so boos soos die bose mense wat jy probeer uitwis. Netsoos die Here raaksien as ‘n mens onskuld pleit as jy eintlik jou onbetrokkenheid net wil wegsteek, só sien Hy ook raak as jy jou verlekker in die rampspoed wat jou vyand tref. Dit kan Hom selfs noop om sy oordeel te verander. God verwag van ons dat ons regverdig sal bly, selfs wanneer ons reg bewys word in ‘n saak teenoor onregverdiges. Regverdiges verheug hulle nooit oor hulle vyand se val nie.

Spreuke 24:19-20

Spreuk 29 – Moenie jou ontstel oor goddeloses mense nie.

Waar die vorige twee verse van die vorige spreuk gewaarsku het teen die afguns op slegte mense, waarsku hierdie twee verse dat jy jou ook nie oor hulle moet ontstel nie. Daar is nie ‘n toekoms in goddeloosheid nie. Hulle toekoms is geslote, uit eie keuse, omdat hulle God ontken, en daarmee ook die hoop wat Hy bring vir ‘n toekoms.

Spreuke 24:21-22

Spreuk 30 – Leef in ontsag vir die Here en gesagsfigure.

Die eerste bundel van die spreuke van die wyses word afgesluit met hierdie oproep om met ontsag vir die Here te leef, en Hom te dien, sowel as om die gesagsfigure in die lewe (koning) te erken, en nie by oproer of rebellie (gewelddadig) betrokke te raak nie.

Dit sluit natuurlik nie uit dat ‘n mens betrokke raak by mense wat onregverdig deur ‘n koning behandel word nie, soos spreuk 26 van die wyses dit so mooi verwoord het. Die beloning om in hierdie wêreld in vrede met God en gesagsfigure te leef, is dat diegene wat dit doen die rampe sal ontsnap wat opstandiges tref, beide in hierdie lewe en die lewe hierna.

Vers 21a word in 1 Petrus 2:17 gebruik: “Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Vers 22 word in Paulus se oproep in vers 4 van Romeine 13:1–7 gebruik om gelowiges se verpligtinge teenoor die owerhede te begrond: “want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar