Skip to main content

Josua 18-19

Die sewe ander stamme kry ook hulle erfdeel

Teks en konteks

Josua bring die res van die stamme na Silo, die plek waar Samuel jare later sou optree. Dit is net noord-oos van Gilgal en net suid-wes van Sigem waar Josua finaal van die volk sal afskeid neem.

Die deurslaggewende “platvee”-veldtogte was gevoer. Die land was onderwerp. Nou moes die sewe stamme ook hulle deel gaan “skoonmaak” sodat hulle dit as erfdeel in besit kan neem.

Josua kry vir die eerste keer kaartmakers bymekaar om die res van die land te karteer sodat dit uitgedeel kan word. Hy kies drie uit elke stam, 21 altesaam, om die land deur te gaan sodat ‘n verantwoorde keuse gemaak kan word wie wat kry met die loting in die teenwoordigheid van die Here.

  • Juda (vierde seun van Lea en vierde seun van Jakob) sou hulle deel in die suide behou en
  • Josef (eerste seun van Ragel en elfde van Jakob – Efraim en die halwe stam van Manasse) hulle s’n in die noorde.

Die dele word daarna deur Josua en die hoëpriester Eleasar, ondersteun deur die familiehoofde, uitgedeel volgens die loting aan die sewe stamme met die grense wat in detail opgeteken is. Let op hoe belangrik dit vir die skrywers is om te beklemtoon dat die verdeling van die land afgehandel is deur die loting in Silo in die teenwoordigheid van die Here, “by die ingang van die tent van ontmoeting”.

  • Benjamin (tweede seun van Ragel en twaalfde seun van Jakob) kry sy deel tussen dié van Juda en Josef, basies in die middel van die land.
  • Simeon (tweede seun van Lea en tweede seun van Jakob) het hulle deel gekry binne dié van Juda, want Juda se grondgebied was eintlik vir hulle te groot. Simeon het egter mettertyd eintlik saamgesmelt met Juda, onder andere as gevolg hiervan.
  • Sebulon (sesde seun van Lea en tiende seun van Jakob) kry die gebied tussen Aser en Issaskar net noord van Manasse en wes van die See van Galilea.
  • Issaskar (vyfde seun van Lea en negende seun van Jakob) kry die gebied regs van Sebulon net noord van Manasse en suid van die See van Galilea.
  • Aser (tweede seun van die slavin van Lea, Silpa, en agste seun van Jakob) kry die gebied links van Sebulon net noord van Manasse wat strek tot teen die Middellandse See wat die gebied van die Sidoniërs en Fenisiërs insluit met hulle hoofstede Sidon en Tirus.
  • Naftali (tweede seun van die slavin van Ragel, Bilha, en sesde seun van Jakob) kry die gebied wat noord van Sebulon en Issaskar lê en die See van Galilea insluit. Hulle gebied was aangrensend aan dié van die Hetiete en Arameërs (Damaskus).
  • Dan (eerste seun van die slavin van Ragel, Bilha, en vyfde seun van Jakob) kry die gebied wat oorbly links van Benjamin tot aan die Middellandse See net bó die gebied van die Filistyne.

Josua kry sy eie deel in die Efraimberge, die stad Timnat-Serag wat hy herbou en daarin gaan woon het.

  • Ruben (eerste seun van Lea en eerste seun van Jakob),
  • Gad (eerste seun van die slavin van Lea, Silpa, en sewende seun van Jakob) en die halwe stam van Manasse het natuurlik alreeds hulle gebied gehad oos van die Jordaan.
  • Levi (derde seun van Lea en derde seun van Jakob) sou hierna ‘n paar stede en weiveld kry.

Boodskap en betekenis

Dit bly een van die uitstaande en kenmerkende dinge van die wyse waarop God met sy mense werk. Sy wil vir die mens is dat hulle die aarde sal bewoon, bewerk en bewaar (Gen 1-2). Daarom doen Hy soveel moeite om mense ‘n plek van hulle eie te gee, ‘n plek wat hulle hulle eie kan noem, en waar hulle kan floreer in sy teenwoordigheid en besig kan wees met die opdragte wat Hy vir ons gee.

Maar, dit is net so waar dat daardie “erfgrond” in die eerste en finale instansie aan God bly behoort. Hy kan dit gee… en neem, na gelang van die wyse waarop in verhouding daarmee en met Homself gebly word. Binne ‘n verhouding seën Hy ons op talle maniere om sy opdragte te kan uitvoer. Wanneer daardie verhouding egter skipbreuk ly, doen God steeds moeite om die verhouding te herstel, maar is een van die wyses waarop Hy met ons werk, om ons te tugtig, soms selfs deur ons grond van ons weg te neem, sodat ons tot inkeer kan kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…