Skip to main content

Deuteronomium 13

Moenie ander gode dien agter ander mense aan nie

Teks en konteks

Moses weet egter dat die uitdaging in die land om ander gode te aanbid van verskillende kante af kan kom. Daarom waarsku hy hulle met konkrete voorbeelde sodat hulle daarop bedag kan wees. Dit kan van profete of dromers kom wat liggelowiges op sleeptou wil neem met tekens en wonders (Deut. 13:1-5). Dit kan van naby familie of vriende kom wat ander gode in die geheim wil aanbid (Deut. 13:6-11). Dit kan ook van kwaadstokers of booswigte af kom wat hele gemeenskappe met hulle wil saamneem (Deut. 13:12-18).

Moenie luister na “tekens en wonders” wat in stryd is met God se geopenbaarde wil – Deuteronomium 13:1-5

Moses fokus eers op profete en dromers – bv. godsdienstige leiers – wat nie net van tekens en wonders praat nie, maar in staat is om ‘n teken te laat uitkom en ‘n wonder te laat plaasvind. Die onderskeiding of dit van God af kom of nie lê in die boodskap wat daarmee saamgaan. Die wonder moet gegrond wees in die wet. As só iemand op grond van die teken of wonder jou dus verlei om ander gode te dien naas die Here God, dan weet jy dat jy na só ‘n persoon nie moet luister en hom nie moet volg nie.

Die interessante is dat dit nie buite om God se voorsiening gebeur nie, want die Here steek nie noodwendig ‘n stokkie voor sulke wondergebeure nie, want Hy wil weet of ‘n mens se hart aan Hom verbind is, selfs al sou daar dinge gebeur wat jy nie kan verklaar nie, behalwe dat dit jou van die geopenbaarde wil van God af wegneem. God se Woord is dus belangriker as wonders. Sulke mense moet teengestaan en uitgewis word.

Moses ontken dus nie die feit dat profete en dromers tekens kan aankondig wat uitkom of wonders kan doen wat werklik plaasvind nie. Hy het immers dit in Egipte al ervaar met die towenaars (Eks. 6-7). Maar, die teken of die wonder as sodanig is nie die getuienis of iets aanvaarbaar is of nie. Die ooreenstemming met die geopenbaarde wil van God maak iets aanvaarbaar of nie. God se Woord is die waarheid nie wonders as sodanig nie.

Ook Jesus het in die NT sy “tekens en wonders” gedoen om getuienis van God af te lê en mense te beweeg tot geloof in God sy Vader. Lees wat ek in my bydrae oor Johannes by bybelskool.com geskryf het: Wonderwerke is tekens van God se werk.

Dit is iets wat ons gerus in gedagte kan hou met “tekens en wonders” ook vandag. Die feit dat daar wonderlike dinge gebeur, moet ons nie beweeg om dinge te aanvaar wat in stryd is met God se geopenbaarde wil in die Bybel nie. Enige boodskap wat in stryd is met die Bybel moet verwerp word, selfs al gaan só ‘n boodskap gepaard met “tekens en wonders”.

Moenie luister na intieme familie en vriende wat jou wil verlei om in die geheim ander gode te aanbid nie – Deuteronomium 13:6-11

Waar die dwaasheid van leiers liggelowiges kan verlei en onder hulle invloed bring, is die uitdaging van mense in jou intieme familie- of vriendekring waarskynlik nog moeiliker om jou teen te staal. Dit kan gebeur dat jou eie bloedbroer, of jou eie kinders, of jou geliefde vrou (“die vrou van jou boesem” – die een wat jy teen jou vasdruk) of jou boesemvriend (in Hebreeus: “die vriend wat soos jou lewensasem is) jou in die geheim wil verlei om ander gode te gaan dien.

Maar dit maak nie saak wie die gode is, of vanwaar hulle is, of van watter betekenis hulle vir jou intieme familie- of vriendekring is nie. Jy mag nie uit liefde vir jou mense ja sê vir dié verleiding nie. En die gemeenskap moet jou help om daarvoor nee te sê deur die doodstraf toe te pas. Niks mag jou verlei om aan God ontrou te word nie. En die straf moes erg wees om die hele gemeenskap bang te laat raak: “sodat so ’n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie.

Dié voorskrif van God deur Moses se prediking kom wreed en ongenaakbaar voor. Dit gaan lynreg in teen ons menseregte kultuur waarin die regte van die individu alle ander regte troef. Maar, die tipe kultuur wat God hier geskep het deur sy Woord was een waarin Hy alleen die reg bepaal. En die voorskrifte het gesorg dat dié kultuur in stand gehou is.

Tree op teen stede wat in sy geheel afvallig raak van die Here – Deuteronomium 13:12-18

Die grootste uitdaging sou egter nie kom van die leiers of die familie- en vriendekring nie. Dit sou kom van hele stede wat onder die invloed van kwaadstokers of booswigte heeltemal afvallig geraak het van God en ander gode gedien het, en die hele land wil verlei om in opstand teen die Here te kom. Craigie noem hulle: “urban revolutionaries” (The Book of Deuteronomy).

Wanneer die Israeliete dus in die land hoor van sulke stede waarvan die inwoners nie meer die Here nie, maar vreemde gode gedien het, moes hulle die saak deeglik ondersoek en dan, as die gerugte bevestig is, die hele stad uitwis en met die banvloek tref. Daar kon geen kompromie wees met ander gode nie.

Trouens, dit lyk asof Moses sulke afvalligheid met onvrugbaarheid verbind, want hy sê: Dan sal jy weer baie word soos die Here met ’n eed aan jou voorvaders beloof het … deurdat jy doen wat reg is in die oë van die Here jou God.” Afvalligheid dwarsboom die seën van die Here. Gehoorsaamheid herstel die seën van die Here.

Boodskap en betekenis

Paulus gebruik die refrein van Moses in vers 15: “Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei” – en wat herhaaldelik in Deuteronomium herhaal sal word – om die gemeente in Korinte aan te moedig om op te tree teenoor gelowiges wat aanhou sondig.

Waar dit in Deuteronomium gegaan het oor waarsêery (Deut. 13:15), afgodery (Deut. 17:7), ontrou aan die Here (Deut. 19:19), buitehuwelikse seks (Deut. 22:21), voorhuwelikse seks (Deut. 22:24), en mensehandel (Deut. 24:7), gaan dit vir Paulus oor gelowiges wat uit die gemeenskap verwyder moet word as gevolg van die volgende:

9Ek het in my brief aan julle geskryf om nie met hoereerders te meng nie. 10Daarmee het ek beslis nie die hoereerders van hierdie wêreld bedoel nie, of die gierigaards en rowers of afgodedienaars nie, want dan sou julle uit die wêreld moes weggaan. 11Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat homself ‘n gelowige noem, maar ‘n hoereerder of ‘n gierigaard is, of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadprater of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle nie eers saam eet nie. 12Waarom sou ek die buitestanders oordeel? Moet julle nie eerder diegene in julle eie geledere oordeel nie? 13God sal die buitestanders oordeel. “Verwyder die slegte mens uit julle midde.” is (1 Kor. 5:9-13).

Dit sluit dus uiteraard nie mense buite die gemeente in wat hieraan skuldig is nie, want hulle moet immers nog aan die evangelie blootgestel word. Maar met gelowiges wat hulle hieraan skuldig maak, mag die ander gelowiges selfs nie eers saameet nie.

Anders as met die verskeie kere waar dié frase in Deuteronomium gebruik word, en die bedoeling is dat die oortreders met die dood gestraf moet word, gebruik Paulus die frase om te sê dat só ‘n persoon uit die geloofsgemeenskap verwyder moet word totdat daar ‘n bewys van bekering is. Daarmee eggo Paulus natuurlik ook vir Jesus wat die doodstraf opgehef het as straf vir die sonde, maar steeds mense aangemoedig het om hulle van hulle sonde te bekeer (Joh. 8).

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar