Skip to main content

Spreuke 1:1-33

Begin met God

Spreuke pas uiteraard by Salomo, maar die boek is eers in Hiskia se tyd versamel en saam met ander insette, soos ’n inleiding, die woorde van die wyses, ensomeer in ’n boek saamgestel. Ek lees dit egter wel hier, al sou dit goedskiks ook kon pas in die tyd van Hiskia, 2 Konings 18-20 en 2 Kronieke 29-32 vv (vgl Jes 25:1).

Inleiding

Die boek Spreuke word met Salomo geassosieer omdat hy bekend was as ‘n wyse man (1 Kon 3-5). Twee bundels van sy spreuke is ook opgeneem in hierdie boek en beslaan 18 hoofstukke: Spreuke 10:1-22:16 en 25:1-29:27. Die res van die boek is egter deur ander wyses geskryf. Dit is oor ‘n hele paar eeue versamel.

Die spreuke in hierdie boek is kernagtige gesegdes wat uit antiteses en sinteses bestaan. Antiteses is teenstellings waar die spreuk uit twee teenoorgestelde begrippe langs mekaar bestaan. Sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Daar is ook langer uitgebreide gesegdes of gelykenisse en numeriese spreuke.

Hierdie spreuke vang lewenswaarhede of –wyshede vas sodat jy daaruit die beginsels van die lewe kan leer ken. Dit help jou ook om jou eie en ander se gedrag met groter onderskeiding te kan beoordeel, en met meer oorleg te kan leef (Spr 1:2).

Hierdie versameling God-gegewe oortuigings, oor die breë spektrum van die lewe, is daarom ‘n goudmyn van slagspreuke vir die lewe. Dit leer jou die geheim van die lewe coram Deo (voor God) ken, sodat jy met wysheid en oorleg kan leef (Spr 1:3) en die dwaasheid kan vermy (Spr 1:7). Dit is daarom ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en/of opvoeding te gebruik.

Met die waarhede en wyshede van die boek Spreuke as gids kan ook jy ‘n ekspert in die lewe word! Spreuke bou jou kapasiteit vir wyse gedrag.

Die spreuke is versamel in bundels waarvan ses hulle weg tot in die boek Spreuke gevind het, soos ‘n mens telkens in die eerste vers van só ‘n bundel meegedeel word.

  1. Die eerste bundel spreuke van Salomo – Spreuke 10:1-22:16
  2. Die eerste bundel gesegdes van die wyses – Spreuke 22:17-24:22
  3. Die tweede bundel gesegdes van die wyses­ – Spreuke 24:23-34
  4. Die tweede bundel spreuke van Salomo – Spreuke 25:1-29:27
  5. Die belangrike uitsprake van Agur – Spreuke 30:1-22
  6. Die woorde van Lemuel se ma – Spreuke 30:1-31

Vir hierdie bundels is ‘n inleiding geskrywe (Spr 1:1-7) wat die doel van die boek uitspel en al die spreuke van die boek as uitvloeisel van die ontsag en eerbied vir God teken. Hierna is ‘n hele aantal wysheidsgedigte geplaas in die raamwerk van ‘n langerige gesprek waarin ‘n pa sy seun onderrig in tien “lewenslesse”, afgelei uit frases soos dié: ”My seun, jy moet luister …” (Spr 1:8-9:18).

‘n Hele paar van die spreuke in die boek Spreuke toon ooreenkomste met die wysheid van ander kulture en godsdienste uit daardie tyd, soos dit ook die geval is in die boeke Prediker en Hooglied. Daar is ‘n hele paar spreuke in Spreuke 22-23 wat ooreenkom met die Egiptiese Onderrig van Amenenope.

Spreuke 1:1-7

Spreuke beklemtoon in die eerste plek dat wysheid van God af kom. In alles moet jy dus met God begin. Spreuke wil jou ‘n ekspert in die lewe maak. Die boek wil jou kapasiteit vir wysheid bou, sodat jy met wysheid kan optree. Dit sal jou help:

  • Om te weet wanneer iemand verstandig praat (Spr 1:2);
  • Om ‘n sin vir regverdigheid te ontwikkel (Spr 1:3);
  • Om met oorleg op te tree (Spr 1:4);
  • Om tot dieper insig te kom (Spr 1:5-6);
  • Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (Spr 1:7).

Die klem op kennis en oorleg in vers 4 tref ‘n mens. Let op dat dit nie teoreties bedoel word nie, maar prakties. Dit gaan ook nie net oor kennis as sodanig nie, maar oor kennis en oorleg. Oorleg kan ook vertaal word met oordenking of beraadslaging. Dit veronderstel ’n deurdink van die implikasies en betekenis van kennis, en dit ook nie net op jou eie nie, maar saam met ander, soos Spreuke ook in hoofstuk 11:14 nog verder in terme van leiers en die gemeenskap sal beredeneer.

Kennis en oorleg is dus nodig om reg te kan optree. Hierdie tipe wysheid is vir die lewe saam met ander bedoel! Dieselfde geld ‘n sin vir regverdigheid en billikheid in vers 3. Dit is iets wat jy aanleer. Dit is iets wat jy beoefen. Dit is iets waarin jy groei. Maar dit is ‘n leerervaring wat met die gemeenskap te make het. Dit is immers waar jy die regverdigheid moet beoefen. En dit is die basis van ’n goeie en behoorlike opvoeding – dat jy tereg kom in die gemeenskap met God en met ander.

Die eerste ding wat ‘n mens moet leer om hierdie tipe wysheid te bekom, begin egter nie met die gemeenskap as sodanig nie, maar met die “vrees van die Here”, wat in vers 7 vertaal word met “die dien van die Here.” (1983-vertaling). Hierdie vrees kan ook vertaal word met ontsag vir die Here, wat beter oordra wat die vers bedoel.

Die tipe kennis wat Spreuke dink die moeite werd is, begin met die bewussyn en ontsag vir die Here. Sonder hierdie ontsag vir God raak jy eintlik self god en draai jou lewe te maklik net om jouself. Om die waarheid te sê, sonder ontsag vir God raak dit ook vir jou moeilik om na ander te luister, veral na die rolmodelle wat met ontsag vir God lewe.

Peterson vertaal daarom vers 7 met: “Start with God—the first step in learning is bowing down to God.” (The Message). Dit is ook die oorhoofse beginsel vir alles wat Spreuke gaan sê, en waarin die wysheid ook opgesluit lê. Soos kennis by die ontsag vir die Here begin, so begin wysheid ook daarmee (vgl Spr 9:10).

Spreuke moedig jou dus aan om beproefde wysheid te beoefen. Beproefde wysheid bring insig, onderskeiding en oorleg. Besluit om die beproefde wysheid van Spreuke jou gedagtes en gedrag te laat vorm hierdie jaar. Dra jou reis met die boek aan die Here op.

Spreuke 1:8-9

Die wysheid word in die tweede plek bevestig deur die ervaring van mense wat die pad met die Here stap, soos ouers en ander gelowige rolmodelle. Dit sluit mense in soos jou pa, jou ma, en ander gesagsfigure.

Jy moet dus ook na hulle luister om wysheid te bekom. Wysheid – van God en van rolmodelle – is vir die pa soos ‘n vrou wat roep en op wie jy jou ore fyn moet instel (vgl Spr 1:20-33), ‘n metafoor wat ook in ander wysheidstradisies gebruik word. Dink byvoorbeeld aan Atene en Minerva, die simbool van wysheid in onderskeidelik die latere Griekse en Romeinse tradisies. Minerva is baie keer met ‘n uil uitgebeeld.

Ontvang hierdie gedeelte dus as ‘n belofte dat jy insig, wysheid en afrigting sal kry as jy in ontsag en ontvanklikheid lewe vir God se leiding, sowel as in jou luister na wyse rolmodelle. Bid dat die Here self jou oë al hoe meer vir wysheid sal oopmaak. In sy Woord en in ander wat daarvolgens lewe.

Spreuke 1:10-19

Die “eerste lewensles” van die pa aan sy seun is dat sondaars se rebellie teen God se wil in die dood eindig. Net God se pad red jou vir die lewe.

Let op hoe die eerste twee perikope (Spr 1:1-7 en 1:8-19) ooreenkom met die eerste gebod van elk van die twee tafels van die wet: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3) en: “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12).

Die boek Spreuke kan dus gesien word as ’n uitgebreide uitleg van alles wat in die Tien Gebooie as die hart van God se wil vir die volk uitgespel is. Trouens, Jesus beskou hierdie twee sake as die hart van sy eie lering, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40).

Die boek Spreuke is dus ’n heerlike praktiese uitleg van die wet, en boek waarin ’n mens die sin van Jesus se leringe kan raaksien, ’n hele paar eeue voor Hy met sy bediening sou begin.

Let op hoe die pa die alternatief uitspel. As ’n mens nie met God begin nie, as jy nie die invloed van rolmodelle respekteer nie, sit jy jou voet op ’n pad waarin jy min weerstand gaan hê teen die verleiding van misdaad en geweld. Dit is die gevaar van ’n lewe waar jy nie bewustelik lewe saam met God nie, en jou afskei van die geborgenheid van die primêre verhoudingsruimte, die gesin en familie, sowel as van die geloofsgemeenskap. Jy raak te maklik die enigste oriënteringspunt vir jou norme en waardes.

Die verleiding van onafhanklikheid en selfverryking ten koste van jou verhouding met God en jou gemeenskap moet dus ten alle koste vermy en teengestaan word. Die uiteinde daarvan is die dood. Dink na oor hoe dit op situasies in jou eie lewe van toepassing is.

Spreuke 1:20-23

Die pa gaan verder in sy eerste lewensles om wysheid as ‘n vrou voor te stel na wie ‘n mens moet luister. Die meervoud van die woord wysheid word gebruik, hoewel die werkwoorde enkelvoud is.

Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is interessant, en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks, Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling, en omgee meer geredelik met vroue geassosieer is. In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies word wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word. Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme.

Belangriker as dit is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie vasgevang kan word slegs in ’n manlike idioom nie; dat die beskrywing van God beide uit manlike en vroulike metafore opgebou word.

Let op dat die Wysheid eerstens die mense aanspreek wat geneig is om juis nie te luister nie. Drie tipe mense word aangespreek in vers 22:

  • onkundiges (simpletons),
  • spotters/grootpraters (scoffers/cynics),
  • dwase/swape (fools/idiots).

Peterson vertaal daarom: “Simpletons! How long will you wallow in ignorance? Cynics! How long will you feed your cynicism? Idiots! How long will you refuse to learn?” (The Message).

Interessant is dat die spotters as arrogante vrydenkers voorgestel word wat die regverdiges teenstaan, dws dié wat God wil dien, dié wat vir Hom ontsag het. ’n Mens kan hulle vandag nog herken!

Die waarde van luister word uitgespel, sowel as die gevolge van nie-luister. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: “die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle” (vgl Spr 1:32).

Dit is wat Psalm 1 ook sê, dat geluk en voorspoed lê op die pad van die regverdiges, en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, die ligsinniges en sondaars, ‘n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.

Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (dit is die beste), nabootsing (dit is die maklikste) en ervaring (dit is die bitterste). Iets om oor na te dink!

Die pa moedig dus sy seun aan om die teregwysing van die Woord te aanvaar, want dit sal die verstoppings in sy lewe verwyder sodat God se wysheid soos ‘n lewegewende stroom na hom sal vloei. Die Woord maak soms seer om jou van binne en buite te genees.

Spreuke 1:24-28

Die pa leer sy seun om die waarskuwing in ag te neem dat ’n mens se ore doof kan raak vir God se leiding as jy dit nie uitvoer en navolg nie. Soos die voëls in die gelykenis van die Saaier die saad op die grond van jou hart oppik.

God se belofte is dat Hy sy Gees vir jou sal laat uitstroom om sy woorde, sy wysheid, aan jou bekend te maak (vgl Jes 32:15 ; Joël 2:28 ; Joh 7:39). As ‘n mens egter sy raad in die wind slaan, sy teregwysings nie aanvaar nie, sal jy aan jou eie keuses oorgelaat word. Dit sal teenspoed, verskrikking, benoudheid en angs vir jou inhou.

Besluit opnuut om nie ‘n woord te mis van wat die Here vir jou hierdie jaar wil gee nie.

Spreuke 1:29-33

Die pa leer sy seun om die waarskuwing in ag te neem dat daar gevolge is op wie se raad ’n mens volg. As jy na onkundiges, spotters (grootpraters) of dwase luister, sal jy die wrange vrugte pluk. As jy na die wysheid van God luister, sal jy veiligheid en beskerming beleef. Dink ná oor jou vriende en vertrouelinge. Bid vir ‘n vriendekring wat die Here saam met jou wil dien.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar